UIT ERROL TOBIAS SE PEN
“SPRINGBOK RUGBY ONDER DIE LOEP WEENS DIE COVID-19 VIRUS PANDEMIE”
Suid-Afrika en Vriende,
Min het SARVU topbestuur, die kaptein Siya Kolisi en sy troepe met die wen van die Wêreldbeker besef wat vir hulle wag in die 2020 seisoen. Dalk het Rassie Erasmus snuf in die neus gekry, en kan ons nou verstaan waarom hy die tuig so gou na sy kort, suksesvolle termyn afgelê het. Sterkte Nienaber, want Springbok Rugby het in 'n gewoonte geraak om na sukses plat te val want min het ons beplan vir hierdie tipe opponent, genaamd Covid-19.
Suid Afrika, wat staan ons nou te doen? Korttermyn besluitneming is nou aan die orde van die dag en 'n bepalende faktor. Daarom moet Springbok Rugby in oënskou geneem word.
Vier top provinsies moet nou ondersteun word en deel raak van die situasie om die aansien van Springbok Rugby te red. Die virus pandemie staan wreed voor ons met die bal in sy arms, Springbok Rugby het 'n tipe pletter-vatter soos 'n Joggie Jansen op sy beste teen die All Blacks nodig – dis verseker!
'n Verkorte vyf weke toernooi moet nou beplan en tot uitvoering gebring word vir die beskikbare Wêreldbeker groep. Die Bokke moet teen onderskeidelik die Goue Leeus, Blou Bulle, Sharks en Stormers meeding.
Hierdie wedstryde kan middel Oktober begin om die Unies sodoende genoeg kans te bied om hulle spanne gereed te kry. Wanneer hierdie wedstryde voltooi is, word 'n 23 groep vanuit hulle saamgestel wat sal meeding teen die Bokke in 'n nie-amptelike toets.
Hierdie aksie sal genoeg geleenthede vir Nienaber en sy troepe bied om hulle sodoende vir Nieu-Seeland gereed te kry.
Groete,