Wat maak 'n piepklein skilpad in die tuingrond?
'n Groentetuin moet onderhou word en as die slakke kom help eet aan die groente wat al mooi staan, dan moet hulle uit en weg. So vertel Alliston Newman van Smartie Town in Napier oor sy verbasing toe hy Maandag, 20 September 'n piepklein skilpadjie in die grond in sy groentetuin ontdek het, terwyl hy slakke gejag het.
“Ek maak die slakke tot niet, want hulle eet die spinasieblare. Soos wat ek spit en hulle uit die grond uit haal, sien ek hierdie een en sien toe dadelik dis mos nie 'n slak nie. Dis 'n piepklein skilpad. Toe hou ek dadelik op met spit.”
Hoe op aarde kom skilpad se kind in die groentetuin? 'n Kundige van Struisbaai het raad gegee. Die skilpadjie moet teruggeplaas word en die moontlikheid is groot dat die eiertjie of die skilpad saam met grond gekom het wat in die groentetuin gestort is.
Die skilpadjie is in veilige bewaring in die natuur – daar waar hy rustig kan groei en grootword. Te danke aan Alliston wat dit beklemtoon het dat hy sommer ophou spit het toe hy die skilpadjie gevind het, net vir ingeval.
Skilpaaie is wetlik beskerm en 'n mens mag hulle nie as troeteldiere aanhou nie.
Mense moet na wat verneem is ook oor die nodige permitte beskik, sou hulle skilpaaie op die perseel aanhou.
Ora Laubscher