Ons het Sy heerlikheid gesien

Teks:  Johannes 1:1-18

Is dit nie so dat daar net oomblikke kom waar ‘n mens ongelooflik bewus raak van die grootheid van God?   Byvoorbeeld as jy iets waarneem in die natuur waar die skoonheid daarvan jou net bewus maak van die grootheid van God.  So kry ek elke keer daardie gewaarwording as ek oor die heuwels van Stanford se kant  Gansbaai nader en uitkyk oor Walkerbaai . . . oor hierdie grootheid van God wat jy waarneem in die skepping . . . daarvan sing ons mos in die kerk na aanleiding van Lied 464: “O Heer my God, as ek in eerbied wonder en al u werke elke dag aanskou, Die son en maan, die aarde sterre wolke, hoe U dit elke dag so onderhou. Dan moet ek juig, my Redder en my God. Hoe groot is U, hoe groot is U. Want deur die hele skepping klink dit saam, Hoe heerlik Heer, u grote Naam” Ook die tweede vers: “Ek sien die veld, die bosse, berge, vlaktes. Ek hoor hoe fluister grasse, stroom en wind. O Heer, U sorg vir klein, vir groot, vir alles  en u sorg dag na dag vir my u kind.”  En dan weer die woorde: “dan moet ek juig” . . . ja daar kom regtig sulke oomblikkewaar jy net  baie bewus word van die grootheid van God, soos bv die skepping se skoonheid

Maar dan is  Kerstyd ook so ‘n oomblik, so ‘n tyd, en ek wil byvoeg, veral dan, want dit is in en deur Jesus Christus wat ons God leer ken soos Hy waarlik is. As ons net na die skepping sou kyk om iets van God te weet, dan weet ons nog nie wie God in werklikheid is nie. Nee, ons moet na Jesus kyk om Hom waarlik te leer ken.   En sien ons dan die ware heerlikheid van God, sien ons dan in werklikheid hoe wonderlik, hoe groot Hy is. Daarvan sou Johannes getuig in sy evangelie.   En dit is veral vers 14 waar ons dit mooi sien.    Kom ons lees dit weer:  “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.   Ons het sy heerlikheid gesien,   die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol  genade en waarheid.”    Johannes sê, toe hulle vir Jesus sien,   het  hulle iets gesien van die heerlikheid van God.   Hulle het gesien hoe groot God is,  hoe wonderlik Hy is.   Ons het sy heerlikheid gesien. Hy beklemtoon dit.

Maar wat  wil ‘n mens eintlik vra, het hulle gesien in Jesus wat hulle aan die grootheid van God laat dink het? As jy kyk na die beskrywing van die evangelis, dan besef jy dadelik dit is nie ‘n heerlikheid wat met aardse heerlikheid te make het nie.  Dink  net aan die geboorte van Jesus en die eenvoud wat daarmee gepaard gegaan het.   Die tyding is aan skaapwagters gebring .   Nie aan die hoës van daardie tyd nie. As die Seun van God mens word, dan geskied  dit nie in koninklike paleise nie,   maar in ‘n stal. Sy wiegie is ‘n krip en sy bedjie van strooi.   Hier is niks groots en blink in ‘n aardse sin nie. Die gedig van NP van Wyk Louw wat hy in 1962 vir die NG gemeente Johannesburg geskrywe het sê dit mooi: “Nie in die wit paleise nie, wou Hy uit soewereine wil tot ons soort staat gebore word, maar waar die Kuise en die Arme stil  en buite die hotel se poort  verniet loseer het in ‘n  stal, het Hy Visarendjie van God in ons benoude vlees geval. Die eerste oë wat Hom sien, was skawagters vol strooi en stof, kras manne wat in skerms woon en ruik na bok en rook en mof” 

Ook het sy lewe getuig van hierdie eenvoud . . . die armoedige en eenvoudige bestaan as tinmmermanseun in Nasaret . ‘n Veragte plekkie,  asook die armoede en eenvoud van sy persoon.  Hy het ook geen geleerdheid gehad , ook nie ‘n openbare posisie beklee. Hy het niks besit, behalwe sy klere wat hy aangehad het.  Daarom kon hulle met Jesus, so kry ‘n mens die indruk uit die evangelies, maak wat hulle wou.  Hy was weerloos. Van Hom was dit werklik wat Jesaja van Hom voorspel het. . . Hy het geen skoonheid of prag  gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

Die sleutel vir die verstaan daarvan is geleë in die woorde vol genade en waarheid.  Hierdie grootheid,  hierdie heerlikheid het met genade en waarheid te make.   As Johannes sê dat hierdie heerlikheid vol van genade is,  gaan dit  oor die  liefde van God  wat bereid is om mens te word en onder ons kom woon in nederigheid, die bereidheid om diep neer te daal in ons ellende in sodat ons  daardeur verlos kan word.  

In die verband skrywe die apostel  Paulus in Fil 2 die aangrypende woorde wat as ‘n lied gesing  sou word in die vroeë kerk . . . die bekende woorde : “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die  gestalte van ‘n slaaf aan te neem  en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het,   het Hy Homself verder verneder . Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja die dood aan die kruis.”  Dit is wat Johannes sê hulle gesien het. Dit was hierdie liefde van God deur Christus.  Daarom het  al die versoekings wat na Christus gekom het,  te make gehad met die lis van die duiwel om Hom te probeer weglei van die armoede, die honger, die kleinheid, die betekenisloosheid, die lyding en die kruis. Dink  net aan die woorde van die duiwel volgens Lukas 4:6: “Aan U sal  ek hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.”  Maar Jesus het die versoeking weerstaan .  

Sy grootheid was daarin geleë om nie belangrik te wees nie, maar om Homself te gee om die wil van God te doen en die heil van die mense te soek.   In Markus lees ons dan ook dat Jesus vir die dissiples gesê het  dat die  Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.   Dit was die grootheid, die heerlikheid wat hulle gesien het.   Maar ook was dit vol waarheid. Dit kom daarop neer dat deur Jesus God wou kom wys dat ons as mense in ‘n leuen geleef het waneer dit kom by groot wees of by belangrik wees.   Want ware heerlikheid het alles te make om niks anders te wil doen as die wil van die Skepper nie.   Jesus het dit kom wys . . . dit het die apostel gesien. In Jesus het hulle volmaakte gehoorsaamheid aan die Vader gesien.  Getsemane . . .

In die opsig is dit dan belangrik om te weet dat vir die kinders van die Here daar ook nie ‘n ander soort heerlikheid of grootheid of belangrikheid is as die van die Seun nie.   Prof Jonker sou al ‘n hele klomp jare gelede  baie aangrypend hieroor skrywe. Ek haal aan: “Dit is wat Kersfees vir ons wil sê: ons hoogste heerlikheid is geleë in ons diepste nederigheid voor God, in ons volstrekte gehoorsaamheid, in ons selfverloëning, in ons oorvloedige liefde.  Ons ware wese as mense vind sy vervulling  daarin dat ons afstand doen van ons hoogmoed en leuenbestaan  en dat ons klein word voor God en mens, maar groot in die liefde.   Alleen dan word iets daarvan in ons lewe duidelik dat ons verstaan wie God is en wie Sy eniggebore Seun is – en wie onsself is as kinders van God.”

Dit is  pragtig gestel.  Daarom is dit ook ons grootste enkele uitdaging  elke dag om nie toe te gee aan die versoeking om belangrik te probeer wees nie. Maar om te verstaan dat om te dien, dáárin lê grootheid.  Dit bly altyd merkwaardig die gesprek tussen Jesus en die dissipels  oor die versoek van Johannes en Jakobus volgens Markus 10:40 en 41

Daarom  bid ons  in hierdie Kerstyd dat ons opnuut getref sal word deur die liefde van God soos bewys in Jesus.    Laat die liefde van Christus ons dring. Daarom sing ons daarvan . . . oor hierdie grootheid van God . Dink aan  lied 464: “U Seun word mens in ons gebroke wêreld,  kom vestig Hy sy koningsheerskappy.   Hy maak weer heel wat sonde hier gebreek het . Hy bring weer hoop en redding ook vir my. Dan moet ek juig My Redder en my God. Hoe groot is, U hoe groot is U,  Want deur die hele skepping klink dit saam, Hoe heerlik Heer, u grote Naam”