Seestrome 2014: Om te kan verander... Deur die Gees van God

Glo ons werklik dat mense kan verander? Nou praat ek natuurlik nie van klein en onbelangrike veranderinge nie, maar van wesenlike veranderinge, veranderinge wat saak maak. Kan mense wat mekaar haat, versoen word?  Kan vasgeloopte en mislukte lewens herstel word?  Kan ‘n verslaafde mens (drank, dwelms) bevry word, kan koppige en onredelike mense sag word, kan mislukte huwelike herstel word tot respek, begrip en liefde? Kan ons ongeduld, ons haat, onvriendelikheid, onversetlikheid, dwaasheid, onreg, selfsug, magsbeheptheid en gevoelloosheid verander word na verdraagsaamheid, vergifnis, vriendelikheid, buigbaarheid, wysheid, geregtigheid, selfloosheid, weerloosheid en omgee en sagtheid?

Simone de Beauvoir skryf in haar boek The coming of age:” Old people find it very hard to adapt themselves to new situations: It is easy for them to recognize things they are familiar with, but they resist change. They have to make a very great effort to acquire what is known as a set - an attitude, a habit of mind - for they are wholly dominated by the mental patterns adopted earlier and they lack flexibility. . . All powers such as observation, abstraction and synthesis, integration,and structuration , diminish after thirty five, particularly if they are not exercised.”

Dirkie Smit verwys in een van sy rubrieke in die Burger na sy skoonma wat sê: “Hoe ouer ‘n mens word hoe erger word jy”.  Hy skryf verder “Sy bedoel dat ‘n mens nie regtig verander nie, nie diepgaande nie. Jou geaardheid, gevorm in jou kinderjare - of vroeër al? - bly maar dieselfde. Jou tipiese kenmerke word net met die jare nog meer opsigtelik, jou karaktertrekke net nog meer pro-minent. Jou ambisies bly maar daar . . .  Jy bly jouself;  jy word net erger, net nog meer jouself.” (Uit: Stukkies van die Hemel. D.J. Smit).

In een van Bertolt Brecht se werke, loop twee vriende mekaar na jare weer raak. Nadat hulle ‘n rukkie gesels het, sê die een man vir die ander: “Weet jy, na al die jare het jy nog niks verander nie”  “O”, sê die ander man en word bleek, natuurlik van skok. Want wat die vriend eintlik sê: Na al die jare het jy nie meer volwasse geword nie, nie meer gegroei as mens nie. (Uit: Stukkies van die Hemel. D.J. Smit). Diegene van ons wat skoolreünies bygewoon het, sal Brecht se verhaal van die twee vriende dadelik herken. By skoolreünies ontmoet ons dalk klasmaats na baie jare. Sommige lyk nog dieselfde, ander nie. Maar as julle met mekaar begin praat, word alles glashelder. Die klasmaat van jare gelede is maar nog net dieselfde. Hy of sy het nog dieselfde karaktereienskappe, geaardheid, ambisies, waardes, ideale, voorliefdes, die selfsug en selfgesentreerdheid en liefdeloosheid is nog daar, trouens dit is nog erger, ens. Glo ons in verandering?

Die Bybel glo natuurlik in verandering. Hieroor is Kolossense 3 en die hele evangelie baie duidelik. In baie krasse taal word hier gepraat van verandering as sterwe en opstanding. Die verandering kan dus slegs vergelyk word met ‘n stuk sterwe en met ‘n wonderbare opstanding uit die dood. In vers 5 word gesê: “maak dood ”.  In vers 8 staan daar:  “Maar nou moet julle hierdie dinge laat staan.”  In vers 9 word gesê ons moet breek met die ou, sondige mens en sy gewoontes. Vers 10 sê:  “Leef nou die lewe van die nuwe mens”, met verse 12-14 wat sê hoe lyk hierdie nuwe lewe.

Die Kolossense-brief beklemtoon die vernuwingsproses wat Jesus Christus van ons vra. Maar ook die res van die Bybel beklemtoon die vernuwing, die verandering wat Hy in ‘n mens bewerk:  Deurgaans gebruik die Bybel woorde soos: bekering, wedergeboorte, vernuwing, heerskappy, heiliging, om te wandel deur die Gees. Die Kolossense-brief se boodskap is duidelik. God se Gees verander mense. Om hieraan te twyfel, is om te twyfel aan die lewende God self.  Dit is om om te twyfel aan die Heilige Gees, wat onder ons leef en werk!  Deur die Gees van die lewende God en van Christus, kan en moet lewensverandering plaasvind - dit is immers die kern van die evangelie!

Ds. Willie Kotze