W-A-G...Wag!

Sou dit nie ‘n lekker wêreld gewees het om in te leef as ‘n mens nooit vir iets hoef te gewag het nie?  Vir die oorgrote meerderheid van mense seker, maar nie vir my nie. Hmmm...darem met sommige uitsonderings. Ek is seker ‘n gebore wagtende, want niks het ooit vir my maklik gekom nie. As kind moes ek toekyk hoe Sus nuwe klere kry terwyl ek oor haar ou klere opgewonde moes raak. Wanneer Moeder die slag  vir spesiale geleenthede eenderse suitjies of rokkies onderkant die naaimasjien se voetjie laat uitkom het, was my opgewondenheid groot. So was daar die oupienk rokkies en Chanellbaadjies met wit donsveer om die nekkies wat sy spesiaal gemaak het vir die uitstappie Kaap toe, met die uitsluitlike doel om te laat fotos neem by Anne Fisher se ateljee. Die pienk suitjies was netjies in haar groot handsak verpak sodat dit nie sou vuilsmeer van die roet van die stoomtrein waarmee ons die tog aangepak het nie. Die nuwe wit skoene wat ons elkeen  vir die okasie gekry het, mog ons egter aantrek, want hulle moes uitgetrap word. Om met ‘n paar nuwe skoene van die Kaapse stasie tot bo in Adderleystraat te stap terwyl hulle druk en skaaf om aan te pas by voete wat kaalvoet gewoond is, was niks om dankbaar voor te wees nie. Die pyn en die gewag is egter beloon onder die indrukwekkende blink sambrele van die fotoateljee. Omdat ons dit nie breed gehad het nie, het dit fyn beplanning en lank wag gekos om iets te bekom vir die wil-hê daarvan. “Wil Hê is dood van kruiwa stoot.”

Dit het my egter geleer om te improviseer en self te probeer.  Soos my pa vir ure kon sit en kraaineste uitryg, so kon ek van doerie tyd af al iets skep of bemeester met probeer-en-fouteer. Ek het baie geduld, soms glad te veel vir my eie goed. Soos om te wag vir daardie eendag wanneer die klein kombuisie se daklig se bol teruggesit word; die gordynrelings wat stof in die garage vergader opgesit word; die badkamer se teëls vanself van die kas in die garage teen die mure vasspring sodat die gate wat al ‘n jaar agter die bad se krane gaap, kan toe kom.  Daar is dinge wat ‘n mens nie kan improviseer nie; dinge wat my geduld tot die uiterste beproef, ten spyte van die oormaat wat ek ontvang het. En dan is daar die drie kleintjies met hulle ongedurigheid. As hulle  gelyk “Ouma...Ouma!” vir drie uiteenlopende behoeftes, draai ek drie (soms sewe) keer in die rondte om my gedagtes te hou by dit waarmee ekself besig is. En dan gaan soek ek nog steeds die melk in my kamer se kas en staan en wonder wat ek nou eintlik daar soek  terwyl  ek voor die kas staan. By die tyd dat ek terug is in die kombuis en besef ek moet yskas toe, trek hulle alweer los met  ‘Ouma...Ouma!” vir die volgende ding. Die nuutste woord in ons kurrikulum  is dus: W-A-G...Wag! Ek probeer oor en oor verduidelik: ek het net twee hande; ek maak net gou witsous en kan nie nou los nie, ek sal help sodra ek klaar is; ek kan net één koeldrank op ‘n slag ingooi. Dit bekommer my dat die bloedjies so ongeduldig is. Dis asof die begrip van wag glad nie by hulle registreer nie, al kyk jy hulle vas in die oë terwyl jy verduidelik.  Gee die ouers te vinnig toe aan hulle eise? Reageer hulle dalk glad nie, of ignoreer hulle die kinders se eise subiet? Die feit van die saak is dat kinders in die hede leef. Hulle breintjies is eenvoudig nognie ontwikkel om geduldig te wees nie en al straf ‘n mens hulle daaroor, gaan dit nie die breintjies vinniger laat groei nie.  Die brein verstaan eers rondom veertien jaar (!) die konsep van aksie en reaksie. Dit doen dus meer skade in die sin van verwerping wanneer mens ‘n kind verskree of ignoreer wanneer hy ongeduldig is. Ongelukkig word hulle ook groot in die tyd wat alles dadelik bekombaar is met die druk van ‘n knoppie. Al wat ons dus kan doen om hulle te help, is om oor en oor met groot begrip en liefde te verduidelik wat beteken W-A-G!

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1