Ek twyfel aan my bloed...

As jy ‘n kind is en begin leer oor die wêreld, is dit mos ‘n onbeskryflike, vreesaanjaende groot plek.  Met die stap oor lewensbulte en deur lewensvalleie, kom jy agter dat dit kleiner word en  soos wat  hy ontwikkel en die mens teen mekaar kompeteer met nuwe uitvindsels, so besef jy dat die wêreld eintlik spikkelklein is.  Kompak.  Nietig. Broos. Eintlik van geen beduidende ewigheidswaarde nie, want alles daarop en daarin is verganklik. Dit vra net een tree oor die drumpel van ‘n vliegtuig se ingang om in ‘n ander land af te klim en mense spandeer jaarliks miljarde om dit te kan doen. Ek is een van daardie mense wat veel eerder al die agterpaaie van my eie land sal ry, stilhou en oorbly in die kleinste pondokkie tussen die vreemdste mense voordat ek vir groot geld Lapland toe gaan om net een van die blokkies van sy laslapkombers te gaan ervaar. My wêreldjie is, aan die norm gemeet, ekstra klein, maar selfs nog te groot vir my voete om te deurtrap. Dit besef ek weer tydens Sondag se dagtoertjie daar na my bakermat se kant toe - of is dit my bakermat -  die rooi Strandveld. Ek was tog net drie bedroeë jare weg uit die Strandveld. 

Aan sy soom gebore, getoë, getroud, gekind en nou gevoetrus teen die strand van die wit Strandveld. Van anderkant B’bos begin Pa vir Skoonseun die netwerk van paaie verduidelik, want hy het mos later eers bygekom en ken net seekant van Sopieshoogte.  Toe ons Elim nader, kon ek my verbeel ek sien Dokter Van Zyl se plat, groen Ford op die Spanjaardskloofpad aangesweef kom, met net hier en daar ‘n stofwolkie waar die wiele grondvat.  Kan ‘n mens dit oorvertel dat hy op sy kliniekroete soos klokslag by daardie gehuggie gestop het om te hoor of almal gesond is! Op Elim piekniek ons uit Sus se gepakte koelsak by die tafeltjies onder die populiere nadat ons die waterwiel besigtig het en Oupa deur die drade is om met een van die talle tuinboere daar ‘n geselsie te gaan maak. 

In die museum kom ek eweneens tot die besef van my eenheid met die area toe ek dié foto in die museum sien:  die model van die meulhuis met watermeul wat ek in 1978 gebou het vir die eerste Elim Blomfees. In modules gemaak vir die vervoerslag, want dit het die hele motorhuis op die dorp volgestaan.  Amanda Cloete van die aangrensende Toerismekantoor vertel my hulle gebruik dit nog met elke Blomfees. Ek en vriendin Hester het destyds vir honderde gewillige hande leiding gegee met die uitleg, bou en plasing van die plante en blomme en was ook “ere-beoordelaars” by die eerste Mej. Elim geleentheid. In die museum mis ek fotos van Dokter, my ma en haar suster Elize  wat Elim en al die plase en route vanaf Napier, as klinieksusters  bedien het. Op Waenhuiskrans – ek het met dié naam grootgeword – vind ek nóg ‘n goue draad van my verweefdheid met die omgewing:  die kerksaaltjie waarvan die sandstene deur my oupa Jordaan se hande opmekaar gemessel is.  Is dit dalk hoekom die seewater daar vir my warmer is as hier in die wit Strandveld? 

By die Langstrand kan ‘n mens deesdae net met ‘n donkie of ‘n paar taai velskoene en kamaste kom. Kassiesbaai se vissermanne kom oor die sandduin met twee, drie, vier elfsterte wat uit hul rugsakke opstaan. Ons “toer” deur die omheinde sleephelling se netjiese vissersbote en die manne ruk tot stilstand langs die geroeste geraamte, maar duidelik operasionele trekker wat hierdie bote lanseer. Ek weet nie wat al die konneksies beteken nie, maar die tuin- en lugversorgerpype sal beslis nie ‘n padwaardigheidstoets slaag nie. Nie dat hy dit nodig het nie, want hy is voosgeroes van tevredenheid met sy lot. Daar was en is vir my nog altyd iets mistieks aan die baai van Kassiesbaai.  Dis asof ‘n onsigbare Geen Toegang bord mense terughou van sy water. Eendag...gaan ek inboek by Kassiesbaai B&B en ek gaan sy geheim ontrafel. Daar langs Willeen se restaurant waar die Bybel altyd oop op haar ontvangstafeltjie lê. En ek gaan probeer vasstel of my bloed wit of rooi is.

Carine Badenhorst

SuikerBroodenSuurvye 3_200x180_crop_100_1