Eldo Marais het behoorlik tydens Overberg Kushengelklub se hengeldag op 28 Mei 2016 geseëvier. Sy yslike Mosselkraker van 7.42kg was die grootste vis vir die dag, terwyl hy ook met die swaarste sak (11.04kg) se louere weggestap het, waarby ‘n Steenbras van 3.62kg ingesluit was.
“Geen wonder dat hy nooit ophou lag het nie en ek is seker dat sy eggenote nou nog van die ou grote hoor!” sê Elba le Roux van die klub. Die tweede grootste vis vir die dag, ‘n Steenbras van 5.40kg, behoort aan die klub se veteraan, Oubaas Lesch. Elba sê die opgewonde afwagting voor ‘n Saterdagaand se inweeg by die klub is altyd merkbaar, veral as die hengelaars so half ongemerk hul vangstes van die dag in die sakke of bakke kom neersit.
“Dit was dan ook weer die afgelope Saterdag die geval toe die pragvisse opgelig word om geweeg te word, met breë glimlagte en borste wat behoorlik geswel was,” sê Elba.
“Hierdie was werklik die beste hengelkompetisie tot dusver vir die jaar - pragtig, manne, doen so voort!” Sy sê die jaar is nog “jonk” en die hengelaars jaag mekaar behoorlik om punte in te samel. Vir algemene klubnavrae kan Elba Tredoux by 082-351-2304 of 028-388-0092 gekontak word.
Vir hengelnavrae kan die Wedstryd-sekretaris, Leibrandt van Niekerk by 082-487-3106 gekontak word, of stuur ‘n epos aan hom by bietouprops@gmail.com.
Hardus Botha