Blombos toe...

Hier by ons vang die manne wat ken van, die snoek in diep water en sommer mooi silwervis. Die stokmanne kan ook ‘n paar galjoen op die rooster sit. Bootmanne, staan reg!

Drie hengelmaats en hul vroue het besluit om ‘n paar dae te spandeer by Kleinjongensfontein, wat skouers skuur met Blombos. Die plan was om veral galjoen te gaan vang en sommer net die tydjie te geniet. Hoor hier  --  “daar was nie sprake van “wegbreek” nie, ons bly dan reeds by die see! Laat ek eers dít sê  --  vir enigeen wat nog nie so iets gedoen het nie, of dalk baie lank laas, moet nie twyfel nie, gaan!

Die seehuisie is so paar tree van die water en eerstens is die omgewing bewonder en die lippe afgelek, want in daardie water móét mos galjoen wees. Dit was springgety en die water woes. Ons het nie baie tyd verspeel nie en met vrot, en vars rooiaas en genoeg witmossel  afgesit see toe, plek ingeneem op rotse wat veilig voorgekom het en lyne ingegooi op riwwe wat blykbaar eindeloos see-in gestrek het. Intussen het die vroumense hulle eie agenda gevolg en veral die strand verken en besluit om alles kalm te vat. Ons het maar verder  geloop en bietjie laer af weer probeer. Nie baie sukses behaal nie en so het ons die een gat na die ander beproef. Hierdie wêreld is onbeskryflik mooi en as die vis nie byt nie en jy bewonder die omgewing om jou is daar kans van ‘n bosbok wat jou vierkant in die oë kyk en ‘n rooikat hol ‘n entjie voor jou uit.

Ons het beplan om sommer vroeg die volgende oggend Blombos se kant toe te beweeg en indien jy so paar jaar agter jou het is die kans groot van ‘n seer heup of rug of een of ander skeet en hierdie paadjie (waar daar wel so iets bestaan) is ‘n uitdaging wat jy moet aanvaar. Na vyf kilometer se gly en rondtrap en klim is jou spiere mos “ingestel” en gaan dit selfs goed (onthou net jy moet nog terug, ook!)

Jy sit op ‘n beskutte plekkie en wanneer die water eers begin groei en die vis raak aan die byt is die versoeking groot om nog daar te vertoef, maar die reuse-branders laat jou wyslik besluit om maar aan te stoot. Respek vir die see!

Die aand voor ‘n ordentlike vuur met ‘n biertjie of ‘n lafenis in die hand kom die stories uit wat jou nog ‘n keer laat kyk na hierdie goeie vriende van jou  --  sommige van die “open-baringe” sou jy nooit kon raai nie!!  Die paar dae was iets wat altyd onthou sal word, en vir my uitstaande was die seën wat gevra is voor ons van die huis weg is en ook die dankie-sê daarna, die vriendskappe wat versterk is en die kameraad-skap. Wat my veral beïndruk het was die wil van almal om die huisie vlekkeloos skoon te laat. Vis gevang? O ja, twee galjoene en so paar ander kleiner visse, maar   --   dis mos nie belangrik nie!”

Groete, Seemeeu

‘n Man kan mos net lekker kuier by ‘n plek so na aan die see.
Gansbaai_Courant