Gansbaai Courant

Blog: Byl Moordenaars

Published: 14 August 2014
By:Francois de Jongh

Skipper Jan (Nugget) Otto (links), wat 3 jaar gelede wreed in sy slaap met 2 bylhoue teen die kop vermoor is, se twee moordenaars, Johan (Typie) Julies (31) en sy houvrou, Mariaan Nobles (29), is Vrydag in die Strand se Streekshof skuldig bevind aan moord en roof met verswarende omstandighede.

Altwee het geen emosie tydens die uitspraak getoon nie. Hulle word op 25 September gevonnis en die staat sal in sy betoog verswarende omstandighede aanvoer en vra vir die maksimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf.

In haar uitspraak het Streekshof-Landdros Mouton gesê dat sy lank laas so 'n sameswering in die hof aangehoor het. Die beskuldigdes het volgens haar alles in hul vermoë gedoen om die water te vertroebel deur valse bewerings te maak. Sy het verder gesê dat die 2 beskuldigdes nie die hof beïndruk het nie en dat Nobles "soos 'n kat op 'n warm plaat" was. Sy het baie teenstrydighede kwytgeraak, haarself deurgaans weerspreek en rondgespring tussen tye, datums en die volgorde van gebeure. Haar getuienis was ook baie teenstrydig met dié van Julies. Sy het ook aangevoer dat sy ongeletterd is en nie kan lees nie. Dit het egter later geblyk dat sy wél kan skryf.

Die kerngetuies in die saak was 'n ooggetuie en omstandigheidsgetuienis oor die teruggevonde gesteelde goedere. Landdros Mouton het in haar uitspraak gesê dat daar ten spyte van 'n deeglike forensiese-ondersoek min bewyse was. Die saak moes dus steun op die ondersoek van Kapt Rautenbach en die res van sy speurspan. Mouton het gesê dat dit duidelik was dat Rautenbach deurgaans 'n kardinale rol in die ondersoek gespeel het. "Hy het die verloop van die ondersoekgebeure deeglik uiteengesit. Dit was duidelik dat elke leidraad opgevolg is en geen steen onaangeraak gelaat is nie. Twee ander verdagtes is ook gearresteer en ondervra, maar hul kon nie met die moord verbind word nie. Dit was normale goeie speurwerk," het sy gesê.

Kind se getuienis deurslaggewend

Oor die 7-jarige seun wat tydens die moord saam met nog 3 jonger kinders teenwoordig was se getuienis het Mouton die omstandighede as tragies beskou. Sy het die seun, wat in ongesofistikeerde omstandighede saam met bosslapers grootgeword het, as 'n bevoegde getuie bevind nadat sy tevrede was dat hy die verskil tussen waarheid en onwaarheid ken.  

In haar uitspraak het sy gesê dat hy die hele verhaal oor die gebeure rondom die moord vertel het en deurgaans by sy weergawe gehou het. Hy het op 'n eenvoudige wyse vertel dat hy vir Nugget geken het en dat hy goed vir hom was en geldjies gegee het.

Volgens hom het hulle die oggend van die moord die huis uit die bosse dopgehou en gesien hoe Nugget se vrou, Tania, dit met die hond verlaat. Hulle het binne gegaan en Nugget het geslaap. Julies het 'n byl gehad en hom gekap. Mariaan het goed gevat en een van die dogtertjies het begin huil. Op die landdros se vraag of hy seker hiervan is, het hy met verbasing kinderlik geantwoord: "Is, ja, Tannie".  Die fyn detail van die moord en diefstal kon ook nie deur Rautenbach aan hom gegee gewees het nie. 

Mouton het ook verder gesê dat sy geen rede kan sien waarom Rautenbach valse bewerings sou maak óf die 7-jarige kindergetuie sou beïnvloed en voorgesê het, soos daar beweer is nie. "Dit is onwaarskynlik en dit sou belaglik wees om 'n saak op 'n liegstorie te bou."

Die veiligheidshuis-moeder, Claudine Dyk, se getuienis oor hoe die seun nagmerries gekry het en haar oor die moord ingelig het, hang dus saam en bevestig die waarheid van sy weergawe. Die beskuldigdes en verdagmaking deur die verdediging dat Rautenbach die seun met presente omgekoop en met straf gedreig het, is getoets en geen bewyse daarvan is gevind nie.

Landdros Mouton het in haar uitspraak verwys na vorige sake waar die getuienis van jong kinders in howe oorweeg en aanvaar is. Daarvolgens onthou 'n kind gebeure baie helder wat buite sy verwysingsveld val en van so 'n aard is dat dit groot indruk op hom maak. Sulke gebeure kan nie as speelfantasië afgemaak word nie.  Landdros Mouton het gevolglik die seun se getuienis as geloofwaardig aanvaar.

Omstandigheidsgetuienis

Landdros Mouton het bevind dat die vind van die gesteelde goedere by die stortingsterrein se herwinningsafdeling, asook Nobles en Julies se verduideliking in dié verband baie teenstrydighede en onwaarskynlikhede bevat en dus ongeloofwaardig is. 'n Legkaart van getuienis, wat dié van ander getuies, waarmee nie fout gevind kan word nie insluit, dui daarop dat die gesteelde juweliersware, 3 selfone en 'n kamera deur die beskuldigdes daar geplant is om kamstig tydens sortering "gevind" te word. Mariaan het selfs minute  voor die vonds gesê: "Vandag is my gelukkige dag, want ek gaan selfone kry." Die res van hul alibi het ook nie water gehou nie.

Die staatsaanklaer, Herold Engelbrecht, het hom goed van sy taak gekwyt nadat hy eers laat by die saak betrek is. Die vorige aanklaer, wat die seun se getuienis suksesvol in die hof gelei het, Adv Pedro van Wyk, is na die Hooggeregshof bevorder. Engelbrecht moes gevolglik 2500 bladsye transkripsie en bewysstukke deurwerk om die saak so suksesvol te kon aankla.

Wyle Nugget se vrou, Tania, is by die hof deur haar pa en broer, asook vriende van die oorledene, bygestaan. "Ek is dankbaar vir hul skuldigbevinding al sal dit nooit vir Nugget terugbring nie. Nou kan ek berus en voortgaan." Volgens Tania was elke hofverskyning vir haar traumaties. "Dit was erg om die beskuldigdes te sien, maar veral toe ek moes getuig en die dag só weer moes herleef. Ek hoop hulle kry die maksimum straf."

Francois de Jongh

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...