Koelbloedige Moord Skok

Koelbloedige Moord Skok

Gansbaai Courant

'n Jong man is Saterdagaand om 20:30 deur drie mans oorval en wreed vermoor.  Winston Wardt (20) van Kappertjiestraat, Blompark, en 'n vriend is deur twee mans naby die speelpark voorgekeer en gekoggel. 'n Woordewisseling het gevolg.

'n Ouer man, wat daar naby bly, het homself daarby betrek waarop Wardt en sy vriend met klippe bestook is. "Ons het weggehardloop, maar 'n klip het vir Winston agter die kop getref. Hy het geval en die mans het nader gestorm en die ouer man het vir Wardt met 'n baie lang mes tussen sy nek en skouer gesteek. Hy het hom daarna geskop. Volgens ooggetuies het nog een van die aanvallers vir Wardt in die rug en been gesteek. Ook hy het die slagoffer geskop. Omstanders het inbeweeg en die aanvallers met klippe bestook waarop hulle die hasepad gekies het.

Die polisie was gou op die toneel, maar Winston het reeds in sy vriend, wat ook in die arm gesteek is, se arms gesterf. Die toneel is afgesper met lint, maar die omstanders was oproerig en het dit verskeie kere afgeruk. Volgens die ondersoekbeampte, Sers Leon Crafford, het 'n man met 'n mes in die afgekordonde gebied ingehardloop.

Twee omstanders het hom vasgegryp en Konst Meyer het nader beweeg om die mes af te neem. Meyer is vervolgens in die arm gesteek en die man het tussen die omstanders verdwyn.

Corné Beukes (21) is kort daarna vir die voorval op Meyer gearresteer. Die identiteit van Wardt se moordenaar het kort daarna aan die oproeriges bekend geword en hulle het na sy huis, 'n 100 meter daarvandaan, opgeruk en wraak gesweer. Die polisie was egter reeds daar om die verdagte, Arthur Koppies (48) te arresteer. Lt Afrika en Konst Meyer het by die beskuldigde se voordeur gestaan om die mense weg te hou.  Hulle was egter steeds baie oproerig.

Johanna Robertson, 'n familielid van Wardt het toe na bewering vir beide Afrika en Meyer in die gesig geslaan. "Sy is met traangas gespuit maar het ten spyte daarvan 'n klip opgetel en vir Konst Meyer op die mond gegooi," het 'n ooggetuie gesê.  Robertson is vir aanranding gearresteer. Inwoners het gesê dat die taalgebruik uiters kru was en dit terwyl die oorledene nog op die toneel gelê het. "Ons is geskok in die mense," is daar onder andere gesê. Daar word ook beweer dat alkohol en dagga 'n bydraende faktor tot die oproer was.

"Ek was geskok oor die omstanders se optrede. Die polisie is daar om 'n moord op te los en hulle word aangeval en beledig. Ek het in my 16 jaar polisie-ervaring nog nooit so iets beleef nie," het Sers Crafford gesê. Die groep het eers kalm geraak nadat Forensies die liggaam verwyder het. Hulle was vroeër reeds daar, maar het weens die oproerigheid onttrek.

Winston se ma, Wilhelmina, en pa, Jakobus, is diep geskok en sukkel om sy moord te verwerk. "Dit is swaar dat hy so gesterf het, as hy nog siek was sou ons dit miskien nog kon verwerk, maar as ek my oë toemaak, sien ek die gat in sy nek," het Wilhelmina gebroke gesê.

Twee verdagtes se identiteit is onbekend maar die ondersoek duur voort. Koppies het reeds in die hof verskyn en word aangehou op 'n klag van moord.

Francois de Jongh

Koelbloedige Moord Skok

Francois de Jongh

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant