Gansbaai Courant

Blog: Perlemoensindikaat saak loop

Published: 30 October 2014
By:Francois de Jongh

Die verhoor van 25 beskuldigdes wat tereg staan op meer as 700 aanklagte wat verband hou met rampokkery, onwettige besit, vervoer en verkoop van perlemoen, sowel as geldwassery het hierdie week in die Kaapse Hooggeregshof begin.

Die sindikaat wat bekend staan as die "Barends" Sindikaat, se beweerde aktiwiteite beloop sowat R2,7 miljard. Die staatsaanklaer, adv Helene Booysen, het spr kapt Danie Rautenbach van Gansbaai as eerste getuie geroep om 'n volledige geheeloorsig oor die omvang van stropery en die impak daarvan op die ekologiese gemeenskap, morele waardes en die plaaslike ekonomie te skets. Rautenbach het sy getuienis toegelig met lugfoto's van die gebied sowel as geprojekteerde foto's en Gansbaai Courant voorblaaie. Dit het 'n volledige prentjie gevorm oor stropery, geld en korrupsie. Daar word geskat dat 70% van die Blomparkgemeenskap betrek is. Kinders so jonk as 14 jaar oud het skool verlaat om as draers op te tree. 'n Vals ekonomie het in die dorp ontstaan en sowat 20 gesteelde voertuie is aan sindikaatlede verkoop. Rautenbach het verder getuig dat daar voor 1998 hoofsaaklik net eiendomsmisdade in die vorm van diefstal voorgekom het. Daarna is perlemoengeld gegenereer vir ander misdade soos die aankoop van gesteelde ware en dwelms wat na vore getree het en in 'n groot probleem ontaard het. Dit het tot 'n vreedsame optog gelei wat die hele gemeenskap betrek het en gereël is deur gemeenskapsorganisasies wat die Sakekamer, Polisiëring Forum, skole en kerke ingesluit het. 'n Memorandum teen stropery en dwelms is aan die polisie oorhandig. Rautenbach het ook verwys na polisiebeamptes wat by die sindikaat betrokke was deur inligting oor beplande optredes te verskaf. Daar is selfs van polisievoertuie gebruik om perlemoen te vervoer.

Die Bolandse kommissaris, genl Daniels, is toe versoek om 'n gesamentlike taakspan van Mariene en Kusbestuur-, polisiebeamptes en die weermag saam te stel. Dit het bekend gestaan as Neptune en die doel was om die perlemoen in die see te hou. Dit het min impak gehad en die perlemoen moes later al dieper gestroop word. In 2002 het 'n Parlementêre komitee ná voorleggings die gebied tussen die Ou Hawe en Struisbaai as verbode duikgebied verklaar. Daar is kort daarna besluit om die Elizette Marx-groepering aan te kla en die Barends-groepering eers te los. 'n Vervolgings Projek is egter wel in 2004 op die Barends-groep geregistreer.

Rautenbach het Dinsdag 'n skematiese voorstelling van hoe die Barends-groep se hiërargie gewerk het voorgelê. Daar is verskeie name op hierdie organigram van lede wat om verskeie taktiese redes nie in hierdie spesifieke saak aangekla is nie. Hy het ook daarna verwys dat die seevissery-wet op perlemoensmokkel slegs vir 'n tronkstraf van 24 maande per insident voorsiening maak. In 1998 het die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) in werking getree wat voorsiening maak vir 'n maksimum straf van 30 jaar. Ingevolge die wet moet die staat bewys dat die sindikaat soos 'n besigheid bedryf word.    Rautenbach het aan die hof gesê dat hy nie seker is of die aangeklaagdes die implikasie van die wet besef nie.   Regter Nathan Erasmus het toe vir Rautenbach gevra of hy hierdie wet aan hulle verduidelik het waarop hy bevestigend geantwoord het. Die beskuldigdes moet elke hofdag teenwoordig wees en as hulle dit nie doen nie, word hulle borgtog ingetrek en sal in aanhouding gehou word. Regter Erasmus het ook gesê dat die vervoer vir die beskuldigdes baie kos en dat hy 'n versoek ontvang het om van tyd tot tyd by geleentheid die hof nader aan Gansbaai te skuif. Dit sal volgens hom egter afhang of 'n geskikte perseel hiervoor gevind kan word. Die saak is weens die ongesteldheid van een van die beskuldigdes tot Maandag  uitgestel wanneer Rautenbach met sy getuienis sal voortgaan.                                                     

Francois de Jongh

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...