NGK Gansbaai se 70ste Verjaardag

NGK Gansbaai se 70ste Verjaardag

Gansbaai Courant

Gansbaai NG-Gemeente het die afgelope naweek hulle 70ste bestaansjaar op ‘n dankbare wyse teenoor die Here se genade gevier. Die tema was: “Christus is vandag, gister en môre dieselfde tot in ewigheid”.

Op 22 November 1944 om 16:00 is die nuwe gemeente van Gansbaai deur die Ringskommissie van Caledon in die ou kerksaal (by die skool) gestig, met ‘n ledetal van 600 en die eerste leraar as ds PAM Brink. Ná hom volg daar 8 predikante, met die laastes as dr Liesel Joubert (2010-2013), ds Willie Kotze (vanaf 1996), dr Bobo van Zyl (vanaf 1997) en ds Dirk van Dyk (vanaf 2006). Die pragtige Feeslied is spesiaal deur koorafrigter Aletta Lochner geskryf, wat ook vir die puik verskeidenheidskonsert en Kerssangdiens verantwoordelik was. Vrydagaand was dit die verskeidensheidkonsert in ‘n “stampvol” Pretoriussaal. Verskeie deelnemers het vir sang- en humoristiese stories gesorg, met Jannie Botha as seremoniemeester.

Die hoogtepunt van die aand was ‘n uittreksel uit die skreeusnaakse toneelstuk, “Sneeuwitjie en die Sewe Bergies”. As blyk van waardering is ‘n yslike bos blomme aan Aletta Lochner oorhandig vir haar enorme bydrae (en leiding) oorhandig. Saterdag is daar gesellig vleisgebraai en saamgekuier. Sondagoggend is ‘n spesiale Erediens aangebied, met al drie die lerraars, ds Willie Kotze, Ds Dirk van Dyk en dr Bobo van Zyl op die kansel. Lidmate ouer as 70 is nadergeroep vir ‘n geskiedkundige foto, en direk daarna het ‘n Gedenksteenonthulling deur Jannie Botha in die Gedenkmuurtuin plaasgevind. Sondagaand is die jaarlikse Kerssangdiens onder leiding van Aletta Lochner aangebied.

Voorlesings is deur dr Bobo van Zyl hanteer en is met gemeentesang en kooroptredes afgewissel: Laerskool Gansbaai (Alana Louw), VGK (Nita Faber), NG Kerk- en Mannekoor (Aletta Lochner) en die Inspirational Mens’s Voices Koor. Die begeleiers was Annelene Reinke en Pikkie Louw (orrel) en Jack White (trompet), met Maureen Voigt agter die dataprojektor. Na afloop van die Kerssangdiens was die Pretoriussaal weer eens “stampvol” vir die funksie en die sny van die pragtige 70ste Verjaardagkoek wat deur Tess du Toit van die Kaap gebak en versier is. Die drie leraars het elk met ‘n yslike silwermes nadergestaan om die koek op te sny. Sodoende is ‘n suksesvolle, dankbare en gesellige Feesnaweek afgesluit. Die deurblaai van die boekie,

N.G. Gemeente Gansbaai 1944 - 1994”, asook ‘n artikel in die “Caledon Venster” van 11 Desember 1953 daarin, het enkele interessanthede opgelewer (skryfstyl onveranderd gelaat). Ná die amptelike stigting van die gemeente is ‘n bruidskat van £900 (nege honderd pond), asook meubels, ‘n orrel en sekere eiendom aan die Moedergemeente toegeken. Nege jaar later, op Saterdag, 5 Desember 1953, is die kerk te Gansbaai ingewy. Tereg is opgemerk dat hierdie kerk ‘n landmerk is, want dit kan van ver gesien word met sy hoë toring. Die inwyding het geskied in die teenwoordigheid van oor die duisend mense. Dit is voorafgegaan deur ‘n basaar ten behoewe van die boufonds. Die wydingsrede is gehou deur die H. Eerw. Moderator van die Kaapse Kerk, Dr A.J. van der Merwe. Daar is met baie waardering gespreek van die werk van die man wat as geestelike vader van Gansbaai genoem mag word, mnr JR Barnard, die vader van opvoeding te Gansbaai. Die kansel en die kanselbybel is geskenke van die gemeentelede. Die orrel maak ‘n pragtige vertoning met sy sierlike pype - dis ‘n verwerking van die ou orrel en is ‘n besondere knap stuk werk en kos £2,100. Die kerkgebou het die som van £21,681 gekos, insluitend die orrel en die gronde, met die pastorie wat vir die som van £4,577 gebou is. As in aanmerking geneem word dat hierdie ondernemings daar gestel is pas 9 jaar na die stigting van die gemeente en daarby een van die betreklike klein gemeentes, kan Gansbaai wel gefelisiteer word met hierdie grootse voorwaartse stap. Die bedrag van £12,000 is aan bydraes alleen ontvang.

Terloops, daar word ook in die boekie melding gemaak van voorbeelde van pryse vir basaaritems in die wyke van die Strandveld. In 1922: 1 pampoen @ £54-12-6; In 1923: 1 patat @ £5-13-6, 1 pampoen @ £8-0-0 en 1 hoenderhen @ £8-4-6; In 1926: 1 hoenderhaan @ £11-0-0, 5 pond gedroogde pere @ £18-0-0, 1 skaap @ £275-5-0 en 1 blik lekkers @ £5-0-0 (terwyl mens destyds 4 groot slagskape vir £1-0-0 kon koop!).

Nou, 70 jaar later, kan met opregte dankbaarheid teruggekyk word na ‘n gemeente wat van krag tot krag gegroei het, “alles deur God se Genade”, soos wat ook tydens die Eredienste beklemtoon is.

Hardus Botha

NGK Gansbaai se 70ste Verjaardag

Hardus Botha

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant