Skelm teer sy pad terug selle toe
‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...
Die legendariese Trans Agulhas-uitdaag vaart vir rubberbote, wat reeds die afgelope 26 jaar langs die Kaapse kus plaasvind, mag dalk vanjaar vir die laaste keer aangebied word weens ‘n gebrek aan titel borge.
Volgens Stian Cloete, voorsitter van die Agulhas Inflatable Boat Club (AIBC), organiseerders van die wedvaart, sal dit ‘n hartseer dag wees as dié wedvaart op die rotse loop, maar dat AIBC dit sterk oorweeg om ná vanjaar se wedvaart, die 27ste sedert sy ontstaan, die handdoek in te gooi. “Om ‘n wedvaart van dié kaliber aan te bied verg enorme mannekrag, tyd en geld. Geld wat ons nie het nie.”
Meer as dertig spanne neem van 28 Desember tot 1 Januarie aan dié uitdaag vaart deel, wat al bestempel is as die taaiste en langste rubberboot wedvaart in die wêreld. Dit is ‘n wedvaart wat nie net die bote en die krag van die enjins toets nie, maar ook die uithouvermoë en konsentrasie van die jaers. Die voormalige wenner Wimpie Ackermann het gesê ‘n mens moet “fisiek fiks én brein-fiks wees”. “’n Mens kan nie vir een oomblik jou konsentrasie verloor nie. Een oomblik kan die water nog sleepglad wees en dan, minute later, bevind jy jouself in woeste waters!”
Die Trans Agulhas word oor vyf dae en 900km beslis. Dit begin op Plettenbergbaai en eindig op Nuwejaarsdag, 1 Januarie, by Strand.
Die spanne kan vir een van vier klasse inskryf: die standaard klas; die nuweling-standaard klas; die professionele klas en die gemodifiseerde klas.
Die wenners van die 2013-wedren het almal aangedui dat hulle vanjaar weer die Trans Agulhas wil tem. Hulle is Eben de Bod en Gerhard Fernhout (standaardklas-wenners); Wimpie Ackermann en Whitey Louw (professioneleklas-wenners); en Dave Barnett en Tjaart Oosthuizen (gemodifiseerdeklas-wenners). De Bod en Fernhout sal egter vanjaar in die gemodifiseerde klas deelneem.
Dertien spanne neem vanjaar vir die eerste keer aan die Trans Agulhas deel.
Die nuwelinge sal gou besef ‘n mens moet senuwees van staal hê vir dié wedvaart. Verlede jaar was Moeder Natuur aan die ryers se kant en het die Trans Agulhas in amper perfekte weer plaasgevind. In 2012 was dit egter ‘n ander storie en het verskeie bote weens die ongure weer nie die eindpunt gehaal nie.
Die bote moet elke dag verskeie kontrolepunte bereik voordat hulle na die eindpunt kan beweeg. Op dag een, skof een (28 Desember) begin die wedvaart by Hobie-strand op Plettenbergbaai en eindig dit by Santos-strand in Mosselbaai, 188.5km verder. Die strand-kontrolepunte is by Nature’s Valley, The Waves, Brenton-on-Sea, Swartvlei, Wildernis, Glentana, Grootbrakrivier en Kleinbrakrivier. Op dag twee (29 Desember) vertrek die bote van Mosselbaai na Stilbaai. Hulle moet by Vleesbaai en Gouritsriviermond se strande aandoen voordat hulle na die eindpunt kan jaag. Dag twee se skof is 86km.
Op dag drie op 30 Desember word ‘n afstand van 161km afgelê. Die spanne trek die oggend weg uit Stilbaai, vanwaar hulle aandoen by Witsand en Waenhuiskrans voordat hulle by Struisbaai eindig. Die tradisionele aandresies vind vanjaar by Struisbaai plaas.
Die vierde skof op 31 Desember strek van Struisbaai tot Uilenskraalmond, ‘n afstand van 87 kilometer. Hulle sal aandoen by Die Damme en Pearly Beach. Die vyfde skof vind dieselfde dag plaas tussen Uilenskraalmond en Gansbaai, ‘n afstand van 24km.
Die finale skof van die 2014 Trans Agulhas oor 113km begin om 08:00 by Gansbaai se hawe. Die spanne sal by Hermanus se ou en nuwe hawe moet “aanteken” en ook by Hawston, Kleinmond en Pringlebaai se strande moet stop voordat hulle in die rigting van Strand kan beweeg. Hulle moet ook by Gordonsbaai se hawe ‘n draai maak oppad na die eindpunt toe. Die voorste spanne behoort Strand teen 10:00 te bereik. Ná elke dag se skof word ‘n Koning van die Branders-kompetisie aangebied wat gewoonlik aksie belaai is.
Vir meer inligting oor die wedvaart asook verwagte aankomstye by die strand-kontrolepunte en eindpunte, besoek die webwerfwww.trans-agulhas.com.
Marita Meyer
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...
Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.
‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...
Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...
39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.
Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...