Gansbaai Courant

Blog: Gesonde dinge GROEI!

Published: 03 September 2015
By:Ds Deon Kloppers

“Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.” (1Pet. 2:2) 

So drie weke terug het ek ’n boom in die veld uitgehaal en in my tuin oorgeplant. Die vraag was: Gaan dit groei? Het ek genoeg wortels saam met die hoofstam uitgehaal? Weet jy hoe bly was ek gister toe ek gaan ondersoek instel en sien dat die boom sulke mooi klein blaartjies stoot! Dit groei!

Hier is vir my en jou ’n lewensles oor geestelike groei. Ons is nie sommer vanself oornag geestelike reuse nie. Ons moet groei. Gesonde dinge groei! Groei gaan gepaard met die regte voeding (uit GOD se Woord!) en ons moet daagliks gevoed word om konstant te groei.

Les 1: Gesonde dinge moet groei. Niks en niemand kan   onveranderd bly nie. Ook jy moet groei in jou geestelike lewe. (Lees GOD se Woord biddend!)

Les 2: Groeiende dinge verander. ‘n Boom moet nuwe blare en takke produseer. Ek en jy moet nuwe geestelike eienskappe aanleer en dit ontwikkel om meer en meer soos Jesus te word. (Lees GOD se Woord en laat Sy Gees jou lei!)

Les 3: Verandering bring uitdagings. Mark Twain het gesê dis net babatjies wat van verandering hou as hulle nat doeke omgeruil word. Ons as mense hou nie van verandering en vernuwing nie. Die ou, normale gebruike en gewoontes voel vir ons veilig. Geestelike groei vereis dat jy tog jou grense moet skuif. Jy moet betrokke raak by mense en hulle nood. Jy moet leer om meer van jouself te gee. (Die Heilige Gees sal jou hierin help en lei!)

Les 4: Uitdagings leer ons om GOD te vertrou. As die   uitdagings kom kan ons tog nie weghardloop nie. Wanneer jy uitdagings kry wat vir jou moeilik lyk, is dit juis die tye wat jy leer om GOD meer te vertrou. GOD ken jou vermoë en jou beperkings. Hy sal nooit toelaat dat jy bó jou kragte beproef word nie (1 Kor. 10:13). Niks is ’n toets voordat dit jou nie dwing om op GOD te vertrou nie. (Lees die Woord en vertrou GOD!)

Les 5: Vertroue lei tot gehoorsaamheid. Hoe meer ons GOD vertrou en gehoorsaam word aan Hom, hoe meer leer ons wat GOD se wil vir ons lewe is en wat ons in elke situasie moet doen. So groei ons al hoe meer in ons geestelike lewe en kry dit reg om nuwe en uitdagende dinge vir die Koninkryk aan te pak! (Lees die Woord, vertrou GOD en gehoorsaam Sy Wil!)

Les 6: Gehoorsaamheid maak ons geestelik gesond.     Wanneer ons gehoorsaam is aan GOD se wil vloei daar strome van seën en vrede deur ons lewe. Ons ervaar blydskap en geluk in alles wat ons doen. Ons groei! Want ons is geestelik lewend en blymoedig!

Les 7: Gesonde dinge groei! Ons is terug by Les 1. Dis jou geestelike sirkel. Verstaan jy nou hoekom jy elke dag van GOD se geestelike melk en voedsel moet inkry? Jy moet groei vir GOD!

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...