Gansbaai Courant

Blog: Snoek, al weer!!

Published: 03 September 2015
By:Seemeeu

Vir die manne wat gewoond is om boothengel hier by ons te beoefen sal vandag se skrywe nie van veel waarde wees nie, maar vir die ander sal dit seker so paar vrae opklaar.

Die snoekvangs veral is by ons so ietsie anders as by die meeste ander vangplekke en ek sal verduidelik waarom. Basies lê die verskil daarin dat indien jy by Kleinbaai uitgaan daar ‘n groter verskeidenheid van vis is terwyl hier by Gansbaai, indien jy byv. in die omgewing van Dassiegat gaan probeer die keuse slegs lê by snoek  --  tensy jy natuurlik knorhane wil vang. En nou praat ons nie van die uitsonde-rings wanneer kabeljou of geelbek ook teenwoordig is nie. Jou probleem is verder dat hierdie twee plekke redelik ver van mekaar lê en dit beteken meer brandstof indien jy van die een na die ander moet beweeg op soek na die snoek. Indien jy by Kleinbaai opeindig en die snoek is steeds afwesig kan daar darem nog vir ander spesies probeer word. Soos die meeste boothengelaars weet is dit meestal die beleid om slegs op die snoek te konsentreer, anders loop dinge maar deurmekaar  --  amper soos die kreefuithalery wat ook maar dikwels lol wanneer daar tussenin vir vis gehengel word.

Wanneer jy kommersieel hengel verskil jou benadering natuurlik van die sport en ontspanning-manne s’n en sal jou denkrigting ook anders wees. Dan is dit ‘n geval van “time is money” en dit is verstaanbaar dat daar yweriger na die snoek gesoek sal word.

Die koste verbonde is ook baie meer en dit is noodsaaklik dat daar ekstra moeite gedoen sal word en dit sal ook insluit baie rondry.

Vir die nie-kommersiële manne is die storie so effens anders. Die snoek, soos geelbek, doen iets aan jou, en jy sóék hom! Kom ons konsentreer op die Gansbaai-vangery.

Eendag as jy so uitkyk op die see sien jy die baie bote en dit tref jou soos ‘n 10-pond hamer  --  dis mos snoek wat die manne vang! Hierdie manne het hul eie maniere om die nuus eerste te verneem en normaalweg is die weer en water ook so dat jy nog knus by die huis is dan sit die manne al met vingerlappies wat sukkel om aan die vingers te bly. Jy het nie veel motivering nodig om jou bemanning gereed te kry nie en so gou moontlik  is julle op die water. Jou snoeklyne is inderhaas gereed gemaak en ‘n paar is verskillend voorberei, net ingeval! Nou begin die storie, en dis ‘n lange. Somtyds is dit ‘n paar uur van probeer en baie maal wag jy maar, sonder sukses. Dan skielik, daardie geweldige ruk en die snoek lóóp met jou. Die eerste nek word gebreek en jy moet maar weer wag. Dan vang jou maat skielik drie na mekaar en jy wil weet  --  hoeveel faam, watter aas, gebruik jy ‘n sinker, en is die vis skelm, plus nog ander vrae. Gewoonlik help al hierdie informasie slegs gedeeltelik. As jy ongelukkig is  --  dit bly gewoonlik so. Jy sit daar en “moan”, maar skielik is dit jou beurt en dan is jy weer die gelukkige. Indien dit vir ‘n ruk stil raak en die een boot na die ander verkas is die versoeking groot om ook so te maak, want dis veral die kommersiële bote  --  en hulle laat mekaar mos weet, of so dink jy! Gewoonlik bly jy maar waar jy is en hoop vir die beste. Somtyds is jy tog gelukkig en wanneer jy die hawe instoot en die blinklywe (almal gemerk) lê hier by jou voete is alles mos die moeite werd. Selfs die snye op jou vingers waar die monsters hulle merk gelaat het, maak nie saak nie.

Lekker, Seemeeu

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...