Gansbaai Courant

Blog: Jaagtog laat gons

Published: 03 December 2015
By:Francois de Jongh

'n Egpaar van Stellenbosch het verlede Donderdag om 11:00 Masakhane, die middedorp en Perlemoenbaai op horings geneem deur in 'n wit Golf oor verskeie stopstrate te jaag. Op hul hakke was 'n privaat voertuig en later ook die polisie. 

Leon Bester (33) en sy vrou, Charmaine (33) is in Perlemoenbaai gearresteer. Volgens Japie Swart het 'n man hom Woensdag gebel en gesê hy het sonder petrol by Swart se grond se ingang gaan staan. "Hy het my selnommer op die skeepshouer op my werf gesien en vra toe hulp. Ek het gesê daar is geen petrol op my grond nie, maar daar is 'n petrolstrasie in Kleinbaai. Hy kan sy kar maar veilig daar laat, want daar is kringtelevisie om my huis. Hy het ook gesê hy soek werk. Toe ek teen die aand tuis kom, kon ek duidelik op die video-opname sien hoe hy inry en weggesteek onder 'n afdak stop. Hy het daarna petrol uit een van my voertuie gesuig en ander goedere gesteel." Die jaagtog het gevolg nadat twee vriende van Swart, naamlik Nico Kotze en Willem Stevens, die volgende middag 'n wit Golf met 'n Stellenbosch registrasienommer opgemerk het. Dit het ooreengestem met die voertuig wat die Woensdag op Swart se kringtelevisie vasgevang is. "Ek het vir Japie gebel en die Golf gevolg. Toe die bestuurder dit agterkom het hy probeer wegjaag. Eers in Masakhane, daarna deur die Industriële gebied. Motors is aan die verkeerde kant  van die pad na die middedorp verbygesteek, waar daar oor stopstrate gejaag is tot in Perlemoenbaai. Daar is die voertuig in 'n doodloopstraat vasgekeer.   Japie was kort op ons hakke en ons het die twee aangehou totdat die polisie opgedaag het," het Kotze gesê. Hulle het aanvanklik vals name verskaf en twee sakkies tik is in hul besit gevind.  

Daar was ook vermoedelik gesteelde ware in die Golf en die lisensieskyf en nommerplaat het verskil.

Die polisie het later vasgestel dat Bester die kar in Stellenbosch vir iemand moes herstel en dat hy dit sonder die eienaar se toestemming gebruik het. Beide Bester en Charmaine moet ook in Stellenbosch en Gordonsbaai op onverwante sake voorkom vir die besit van vermoedelik gesteelde voertuie.

Hulle het Vrydag in die hof in Hermanus verskyn op 'n klag van besit van dwelms. Leon is ook aangekla vir besit van moontlik gesteelde eiendom en bedrog. Hulle word aangehou tot 3 Desember vir 'n borgtog aansoek.

Francois de Jongh

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...