Gansbaai Courant

Blog: Stropers Ontvoer en Moor

Published: 10 December 2015
By:Francois de Jongh

Die grusaam vermoorde liggaam van Sanle Mtululu (30) is vroeg Maandagoggend op die N2 in Sir Lowrey's pas gevind.

Hy is Sondagaand om 22:00 vanuit Masakhane deur twee mans in 'n silwer Toyota RunX met 'n CF registrasienommer geroof. Mtululu se familie het hom aanvanklik self probeer opspoor en het eers meer as 'n uur later die polisie se hulp ingeroep. 'n Algemene uitsending is dadelik aan alle omliggende polisiestasies gemaak. Die voertuig kon egter nie opgespoor word nie, maar daar is wel vasgestel dat dit in November tydens 'n kaping in Kraaifontein gesteel is.

Mtululu se liggaam is die nag na sy ontvoering in die pas naby die Gordonsbaai kruising gevind. Hy het skietwonde in sy lyf en verskeie ander beserings gehad nadat 'n voertuig of voertuie oor hom gery het. Die ontvoerings- en moordtoneel is dieselfde nag forensies ondersoek en die familie het die oorledene dieselfde oggend uitgeken. Die voertuig is Sondag laatmiddag in Hermanus opgemerk en Spr Kapt Danie Rautenbach versoek enige iemand met inligting om hom te kontak.  Hierdie menseroof en moord hou ook verband met 'n vroeëre menseroof op Dinsdag 1 Desember. Dié twee voorvalle hou verband met 'n dispuut tussen twee opponerende perlemoenstropers groeperinge. Tydens die eerste menseroof is 'n man van Masakhane, wie se identiteit om veiligheidsredes tans weerhou word, op 1 Desember in Masakhane deur 'n groep persone ontvoer. Hy is na bosse naby Pearly Beach geneem en ondervra. Hy is daarvan beskuldig dat hy die groep se perlemoen gesteel het, maar het dit heftig ontken en hul van sy onskuld oortuig. Volgens hom is hy deur die groep aangerand en dit is onder die polisie se aandag gebring. Hy wou egter nie 'n saak maak nie, maar het wel 'n paar dae later 'n klagte van menseroof gemaak. Maandagmiddag kort na 16:00 is twee verdagtes, Mwanele Jonase en sy broer, Siymcela Jonase, in Masakhane gearresteer. Hulle word  verbind met die eerste menseroofklagte en moontlik ook met die tweede menseroof en moord. Hulle het in Hermanus hof op die eerste menseroofklagte verskyn en borgtog is teengestaan. Die menseroof en moordklag van Sanele Mtululu word tans verder ondersoek.

Francois de Jongh

Recent Posts

DAFF konfiskeer 2 ru...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

Na aanleiding van die gereelde klagtes rakende per...

A huge welcome to ou...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

The Mammal Research Institute Whale Unit conducted...

James Roux se dood '...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

‘n Bekende eiendomsagent James Roux van Gans...

Hulle stap vir verlo...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

Twee ware Dapper Stappers, Tommy Beeslaar (48) en ...