Gansbaai Courant

Departement verskerp korrupte poging om perlemoenkwotahouers te verarm

Departement verskerp korrupte poging om perlemoenkwotahouers te verarm

Gansbaai Courant

Tydens ʼn vergadering wat op 25 November vanjaar in die Fountains Hotel in Kaapstad met nagenoeg 200 kleinskaalvissermanne gehou is, het die departement van landbou, bosbou en visserye die skokkende aankondiging gemaak dat hulle die kwotas van kommersiële perlemoen- en kreefvissermanne gaan wegneem en dit aan kleinskaalvissermanne  gaan toeken. Geen kwotahouers is na die vergadering genooi nie, maar ʼn kwotahouer het via ʼn informant van die vergadering verneem, wat op sy beurt twee ander kwotahouers op kort kennisgewing daarvan verwittig het, sodat hulle die gewraakte vergadering kon bywoon. Die vergadering was klaarblyklik die departement se verdraaide idee van ʼn openbare deelnameproses wat ten doel gehad het om te bepaal hoeveel van die kommersiële kwotas aan die kleinskaalvissermanne afgestaan kan word sonder dat die kwotahouers enigsins daarvan verwittig of geraadpleeg is. Van die nagenoeg 200 mense wat die vergadering bygewoon het, was slegs drie perlemoenkwotahouers.  Sue Middleton, die departement se verteenwoordiger, het tot die afgryse en verbasing van die drie kwotahouers vol bravade aangekondig dat die departement 100% van die kwotahouers se kwotas aan kleinskaalvissermanne gaan toeken. Daar is ook tot groot blydskap van die gehoor aangekondig dat 40% van die Weskuskreefkwota aan die kleinskaalvissermanne toegeken sal word. Om die onregverdigheid van die besluite beter toe te lig, is dit belangrik om die volgende te verstaan:

Per definisie bestaan daar nie iets soos kleinskaalvissermanne nie. Almal wat onder hierdie beleid om kwotas aansoek doen, is nuwe toetreders tot die visserybedryf. Tydens die vergadering het dit duidelik geword dat die departement al meer as 10 jaar lank kwotas vir hierdie groep voornemende vissermanne beloof.

Groepe wat by die vergadering teenwoordig was, was onder andere die “ANC Fishing League” en die “ANC War Veterans” (verteenwoordig deur ʼn man wat skaars 30 jaar oud is).

Daar is luidkeels en redelik aggressief deur lede van die gehoor aangekondig dat hulle die vergadering kom bywoon het om hulle langverdiende kwotas op te eis. ʼn Paar mense het gesê dat hulle van die Oos-Kaap afkomstig is, en het uit beginsel geweier om die vergadering in Engels toe te spreek. Hulle het gevolglik uiters emosionele toesprake in Xhosa gemaak. Die departement beplan om 12 spesies aan hierdie vissermanne beskikbaar te stel. Daar is reeds kommersiële vissery betrokke in al hierdie spesies (behalwe Ooskuskreef) waarvan al hierdie bronne reeds maksimaal ontgin word. Dié nuwe beleid impliseer dat letterlik duisende nuwe toetreders tot die bedryf toegelaat sal word.

Die bestaande kwotas is 11 jaar gelede toegeken. In daardie stadium wou die departement  reeds ʼn maksimum hoeveelheid vissermanne akkommodeer, wat daartoe gelei het dat elke visserman ʼn kwota ontvang het wat beskou is as die minimum finansiële vatbare hoeveelheid. Die kwotas is oor die jare heen aansienlik gesny soos wat die bronne uitgeput is weens stropery (in die besonder perlemoen en Weskuskreef.) Beide perlemoen- en oewerkreefkwotas is tans slegs 60% van die oorspronklike toegekende grootte. Gevolglik is dit nie meer lewensvatbaar as ʼn enkele bron van inkomste nie. Verdere verdunning van die kwotas sal katastrofiese nagevolge inhou.

Elf jaar gelede het volledige transformasie reeds plaasgevind in die perlemoen- en Weskuskreefindustrie. Volgens die departement se eie statistiek is 90,5% van die huidige kreefkwotas en 79,5% van die perlemoenkwotas aan voorheen benadeelde gemeenskappe toegeken. Die proses vir die aansoek om nuwe kwotas het pas ʼn aanvang geneem. Die vraag wat dus ontstaan is wat die nut daarvan is om aansoek te doen as die departement reeds besluit het om alle regte aan die kleinskaalvissermanne toe te ken? Die departement het ook laat deurskemer dat hulle beplan om gebiede waar perlemoen reeds gestroop is, met klein perlemoene te “saai” en dat die huidige kwotahouers dan hierdie perlemoen kan oes. Die huidige kwotahouers moet die nuwe toetreders ook leer hoe om perlemoen te oes. Dit impliseer dat die huidige kwotahouers nie net hulle kwotas verloor nie, maar ook nou vir die nuwe kwotahouers moet werk asook aan hulle opleiding moet verskaf. 

“Dit is geen geheim nie dat die ekonomie van die kusdorpe alreeds geruïneer is as gevolg van die korrupte stelsel waarop die regering die kwotas toegeken het,” het Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap, gesê. Hy het verder genoem dat dit daartoe gelei het dat grootskaalse stropery en die ongekende eskalasie van dwelmhandel gedy in voorheen vooruitstrewende vissersgemeenskappe wat deur die stelsel verarm is. “Die toekoms van huidige kwotahouers is baie duister, en daar word verwag dat die voorkoms van misdaad met rasse skrede gaan toeneem,” het Van Dalen afgesluit.

Thomas van Dalen, Provinsiale Koördineerder: Wes-Kaap, AfriForum

 

Departement verskerp korrupte poging om perlemoenkwotahouers te verarm

Gansbaai Courant

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant