Gansbaai Courant

Blog: Droogtesituasie in die Wes-Kaap mbt die rooivleisbedryf

Published: 26 February 2016
By:RPO

Om die droogte en produksie in perspektief te plaas is dit nodig om die Wes-Kaap se rooivleis-produksiegebiede in drie duidelik-gedefinieerde gebiede op deel, naamlik die Suid-Kaap/Overberg, wat ongeveer 49% van die provinsie se diere bevat, Koeberg/Swartland en Weskus/Namakwaland met ongeveer 29% van die diere, en Sentrale Karoo met ongeveer 22% diere.

Die Suid-Kaap/Overberg-gebied het die afgelope twee tot drie jaar bogemiddelde reën- en oesjare gehad met gevolglik heelwat oesreserwes en surplus weiding. Ons is baie dankbaar vir al die voerskenkings wat uit hierdie gebied met die hulp van Agri Wes-Kaap en privaatondernemings aan die produsente in die droogtegebiede van die Wes-Kaap en na dié in die Noorde van die land gestuur is.

Die produksie van rooivleis, wol en melk in hierdie gebied kan vanjaar weer, met goeie boerderypraktyke, gehalte produkte aan die verbruiker lewer. Heelwat beeste, veral vroulike diere, is as hulpmaatreël vanaf die droogtegebiede in die Noorde na hierdie streek verskuif. Biosekuriteit moet egter altyd voorrang geniet as vroulike diere vanuit enige gebied na ‘n ander gebied geskuif word.

Die Koeberg/Swartland en Weskus/Namakwaland-gebied: Gebiede noord en wes van Piketberg maak deel van hierdie streek uit wat die afgelope seisoen ondergemiddelde  tot baie swak graanoeste gehad het en gevolglik baie min tot geen somerweiding of oesreste vir diere beskibaar het. Produsente wat surplus-oesreste en voergrane  vanuit die Swartland en Koeberg suid van Moorreesbug beskikbaar het, moet asseblief met hulle landbouverenigings  of Agri Wes-Kaap in verbinding tree sodat die vervoer daarvan na die droogtegeteisterde gebiede gereël kan word.

As die lamseisoen begin, kan dit tot groot probleme lei as genoeg hoëgehalte voer nie beskikbaar is nie. Heelwat bees- en skaapprodusente in hierdie gebied het al hul kuddes verminder of selfs totaal uitverkoop. In die Namkwaland-gebied waar skade deur probleemdiere ook nog groot getalle van kuddes wegvat, is produsente onder groot druk om hul kuddes met duur voer te behou. Die grootste krisis wat in hierdie gebied kan ontstaan, is as die drinkwater van diere en mense begin min raak. Berigte van boorgate wat begin opdroog en damme wat leeg is, is reeds ontvang. In die Namakwaland- en Weskusgebiede is daar heelwat kleinboere wat nie kapitaalsterk is nie en wat in sulke droogtetoestande baie swaar kry. Hulle het nie altyd die nodige infrastruktuur om voer te produseer of om voer en water oor groot afstande aan te ry nie. Die Sentrale Karoo-gebied, wat uit gebiede bestaan wat winter- en somerreëns kry, het ook dele wat rampdroogtetoestande beleef. Die aanry van voer en selfs water is ‘n groot koste-item, so ook skade deur probleemdiere en sporadiese veediefstal wat groot eise aan dié produsente se bestuursvermoë stel.

Tekorte vanuit hierdie en ander gebiede hou ‘n bedreiging vir die volhoubare voorsiening van gevestigde handelsmerkprodukte in en verbruikers sal moet leer om in die toekoms van hierdie handelsmerke op ‘n seisoensbasis te bekom. Pryse sal ook weens tekorte in die aanbod dienooreenkomstig  styg. In hierdie gebied is daar ook heelwat kleinboere wat met vee boer en dié wat nie kapitaalsterk is nie, kry baie swaar in hierdie droogtekrisissituasie.  Hoe gaan die aanbod en pryse van rooivleis in die nuwe jaar lyk? Ons moet na die prentjie in die res van die land kyk, want die totale vraag en aanbod bepaal  die gemiddelde prys wat deesdae deur die uitvoer van groot hoeveelhede beesvleis beinvloed word. Die huidige swak wisselkoers en lae skaapvleispryse beïnvloed weer die moontlike invoer van skaapvleis om tekorte in dié sektor aan te vul. In die sentrale- en noordelike beesweigebiede, en sekere skaapweigebiede, is baie kuddes verminder (uitgeslag of verkoop). Die vroulike diere wat oorgebly het sal die komende seisoen ook nie normale kalf- en lampersentasies voortbring nie nie vanweë die tekort aan voer gedurende paartyd. Die uiteinde hiervan is ‘n tekort aan lamsvleis en speenkalwers vir die voerkrale.

Voerkrale is verder onder druk weens die tekort aan mielieprodukte wat slegs teen baie hoë pryse beskikbaar gaan wees. Voerkraalproduksie se kostes sal verder opgaan en tot gevolg hê dat A-graad beesvleispryse ook gaan styg.  Indien dit in die nabye toekoms baie goed in genoemde gebiede gaan reën, sal produsente in dié gebiede weer begin om hul kuddes op te bou en sal veral vroulike uitskot C- graad-diere wat hoofsaaklik vir fabrieksvleis geslag word, baie skaars word.

Pryse sal verder styg soos die tekorte toeneem. Enige moontlike verhoging in melkpryse van produsente in die nabye toekoms, kan ook die slagbeeste uit hierdie sektor drasties laat afneem, wat verdere druk op die fabrieksvleispryse sal  plaas.

Al die bogenoemde faktore dui op verhoogde produsente- en verbruikerspryse, veral in die tweede helfte van die jaar as gevolg van tekorte aan die aanbodkant. Verbruikers word voortdurend vanweë verhoogde lewenskoste onder finansiële druk geplaas. Té hoë verbruikerspryse en die rol wat die vleiskleinhandel gaan speel om prysverlagings aan produsentekant vinniger na die verbruiker deur te gee, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit kan voorkom dat verbruikersweerstand opbou, veral as daar alternatiewe proteïnbronne beskikbaar is.

Jeanne Boshoff

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...