Gansbaai Courant

Blog: Onwettige Protesoptog - R43 Gesluit

Published: 06 May 2016
By:R43 in Chaos

Absolute chaos was Dinsdagoggend, 26 April 2016 vanaf omstreeks 04:30 op die R43 by Stanford aan die orde van die dag. Onwettige protesoptoggangers, ±150 van die Thembelitle nedersetting langs die R43 en ±100 van die nedersetting wat as ‘Die Kop’ bekendstaan, het aan ‘n onwettige protesoptog deelgeneem. “Geweldadige optredes het ons genoodsaak om van skokgranate en rubberkoeëls gebruik te maak,” het kapt Coetzee van Stanford SAPD gesê. “Die redes wat vir die protesoptog aangevoer is, is ontevredenheid oor die gebrek aan huise en elektrisiteit.”

Motoriste vanaf Gansbaai rigting Stanford is om veiligheidsredes by die De Kelders afrit voorgekeer en moes omdraai. Kapt Coetzee het gesê die gemeenskapsleiers het wel op Vrydag, 22 April ‘n aansoek vir ‘n protesoptog ingedien. “Wetgewing bepaal egter dat dit 7 dae voor die optog ingedien moet word, terwyl hulle die optog reeds op die 26ste wou hou, wat nie aan die 7 dae vereiste voldoen het nie,” het kapt Coetzee gesê. Sowat 80 optoggangers het reeds die vorige aand met ‘n protesoptog begin, met nog wat later aangesluit het en in die rigting van die Industriële-gebied gestap, maar ná waarskuwings het hulle uitmekaar gegaan. Vroeg die volgende oggend (Dinsdag), omstreeks 04:30, het hulle egter met die onwettige protesoptog vanaf Thembelitle met sowat 150 deelnemers begin, met ‘n verdere ±100 van Die Kop wat op die R43 by hulle aangesluit het. Die R43 is op verskeie plekke met sementblokke en brandende buitebande versper, terwyl vullisdromme ook uitgegooi is. Sowat 50 meter vanaf die vulstasie is hulle weer eens gewaarsku, maar het aggressief opgetree en met klippe begin gooi.

Die SAPD was genoop om van skokgranate gebruik te maak om te verhoed dat hulle heeltemal hande uitruk. ‘n Voertuig se agterruit is uitgebreek, terwyl eiendomme by die sportvelde ook beskadig is. Op hierdie stadium moes die SAPD van rubberkoeëls gebruik gemaak om verdere geweldadige optredes te verhoed. Vier optoggangers is vir openbare geweld in hegtenis geneem en het op Woensdag, 27 April in die Hermanushof verskyn. Nadat die R43 weer oopgestel is, het die SAPD steeds tot laatnag die gebied gepatroleer, aangesien dit duidelik was dat die spanning steeds hoogloop. Dit is ironies dat TV2 se Mooiloop-program die voorafgaande twee Dinsdagaande die mooi deel van Standford en omgewing gebeeldsend het, met Denver wat nie kon ophou verwys na die pragtige dorpie se rustigheid nie.

(Foto’s: Willem Appel, Stanford)

Hardus Botha

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...