Gansbaai Courant

Blog: PERLEMOENSTROPERS is baas in duikpakke

Published: 09 September 2016
By:Gansbaai Courant

Die nasionale en sosiale media het die afgelope week weer gegons oor die arrogansie van perlemoenstropers teenoor inwoners van die Overstrand en die klaarblyklike “trae optrede” van staatsowerhede se kant af.

‘n Leser wat nie sy naam bekend wil maak nie, het die afgelope week die volgende brief aan Gansbaai Courant gestuur:

“Op 21 Augustus 2016 (tussen 10:00 en 11:00 )  is 14 stropers in die Danger Point area (twee groepe van sewe elk) opgemerk.”

Dit is maar een van vele skrywes en mondelinge klagtes wat net hierdie week deur Gansbaai Courant ontvang is.

Die leser skryf voorts: “Die Departement Landbou, Bosbou en Visserye is geskakel, maar niemand antwoord nie, waarna Gansbaai SAPD gekontak is. Een voertuig met twee SAPD  lede het opgedaag, wat die stropers by die see gesien het en ook geweet het van dié wat in die bosse sit.”

“Terwyl die polisievoertuig  verbyry, hardloop twee stropers met vol sakke perlemoen agter hulle verby, waarna die SADP-lede na ‘n rukkie die aftog blaas en terugkeer na die stasie.”

“Teen 17:25, tydens  hoogwater en stormweer, is ‘n voertuig van DAFF opgemerk - verskeie  ure nadat die veertien stropers met hulle  buit fort is. Om 18:00 daag twee drawwers op, waar DAFF se voertuig verbygery het en dra twee vol sakke perlemoen die bosse in.”

“Tydens navraag is gesê dat SAPD-lede in groot moeilikheid kan kom as hulle op die rotse sou seerkry of in die water sou val, asook dat stropers wat die see wil ingaan, nie gearresteer kan word indien hulle bo die hoogwatermerk is nie, selfs in volle duikmondering.”

Gansbaai Courant is in kennis gestel dat inwoners van De Kelders, Gansbaai, Kleinbaai en Franskraal met hul eie moniteringsgroep begin het. Foto’s word geneem, voertuie se fabrikate en registrasienommers word afgeskryf en relevante inligting word versamel.

“Beamptes van die departement steur hulle nie aan oproepe om hulp nie en die plaaslike polisiediens steur hulle nie aan oproepe deur die publiek nie,” het die groep se woordvoerder gesê.

Die leser skryf verder: “Stropers is arrogant en bedryf hul misdaad helder oordag en word, in hul duikpakke, oop en bloot op bakkies en in voertuie aangery.”

Volgens ‘n betroubare bron het Gansbaai Courant verneem dat daar minstens 1 000 stropers aktief besig is in hierdie area.

Plato ‘bekommerd’

Dan Plato, Minister van Gemeenskapsveiligheid van die Wes-Kaapse regering, het tydens ‘n onlangse besoek aan Gansbaai gesê dat   sy departement  geen operasionele beheer het oor die polisie nie en kan net in 'n oorsigtelike hoedanigheid optree.   

Perlemoenstropers arrogant

Hy het ook gesê: “Wat meer kommerwekkend is, is die noue verbintenis tussen die stroop van perlemoen en georganiseerde misdaad, veral bendegeweld en dwelmverwante misdaad.” Mnr Kat Myburgh, Areabestuurder van die Overstrandse Munisipaliteit se Gansbaai Administrasie, het Woensdag tydens ‘n onderhoud met die Gansbaai Courant gesê dat hy daagliks oproepe in hierdie verband ontvang, maar dat hy nie oor enige bevoegdhede beskik om daadwerklik te kan optree nie.

Persoonlik het hy egter al, in samewerking met raadslid Riana de Coning, verskeie pogings tot samesprekings op hoëvlak aangewend, aangesien dit duidelik is dat ‘n daadwerklike oplossing nou van die regering se kant af moet kom, met selfs ‘n indringende gesprek met Helen Zille, Premier van die Wes-Kaap.

Tydens gesprekke met inwoners en eienaars van vakansiehuise, staan dit soos ‘n paal bo water dat hulle vanaf De Kelders tot by Pearly Beach, moeg en moedeloos  is oor die geweldige toename in perlemoenstroop en verwante misdade waaraan die regering oënskynlik niks kan of wil doen nie. Inwoners is ook ontsteld oor die feit dat hulle nie meer met duur duiktoerusting wat oor jare aangekoop is, hul duiksport kan geniet nie, terwyl stropers daagliks in groot getalle met duikpakke aan, ongekende skade aan die kuslyn aanrig. Dít terwyl daar ‘n verbod op die dra van duikpakke en duikbedrywighede is.

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...