Gansbaai Courant

Blog: Huldeblyk: Suster Johanna Fourie het diep spore getrap

Published: 03 March 2017
By:SD Fourie skryf...

In die annale van Gansbaai se geskiedenis was daar baie manne wat diep spore getrap het, maar dikwels is die vroue, soos eie aan menige dorpsgeskiedenis, nie genoem nie. Gansbaai het sy eie kwota van die spreekwoordelike Spreuke-vroue opgelewer. Een daarvan was Suster Johanna Fourie.

Johanna Catherina Magrieta het gedurende September 1961 saam met haar gesin na Gansbaai verhuis. Sy was getroud met Phillipus Coenrad Andries Fourie en hul enigste dogter, Erna, was destyds drie jaar oud.

Sy was vanaf 1961 tot 1992 die distriksverpleegsuster op Gansbaai en was alombekend as Suster Johanna.

Haar ouers was ook gebore en getoë Strandvelders en vir 22 jaar het sy ook haar verswakte moeder, tannie Kato, versorg.

Johanna was ‘n onbaatsugtige en gebore verpleegster – na haar aftrede het sy ook haar man tot sy dood verpleeg. Johanna was die jongste van die bekende Lourens-familie van die Strandveld. Hulle was bekend as die Jakse. Byname was aan die orde van die dag, want die Lourense van die streek was talryk.

Suster Johanna was behoorlik opgelei in haar vak. Eers aan Groote Schuur Hospitaal aan die bekende Carinus Kollege en daarvandaan na Boksburg vir kraamopleiding.  Na haar troue met Philip het hulle op ‘n plaas in Caledon distrik gewoon en het sy ook gedurende dié tyd in Caledon Hospitaal verpleeg.

Haar distrik hier het die hele Gansbaai, Grootbos tot agter by Beebos, om die berg tot by Kleinbaai, Franskraal en Blompark ingesluit. Sy het in die beginjare alleen gewerk.

Die dokter van Hermanus of Napier het net af en toe hier besoek afgelê. Telefone was min, strate was nog nie geteer nie en van straatligte was daar nog geen sprake nie.

In daardie dae was suster Johanna ʼn bekende gesig met haar medisynekoffertjie as sy te voet mediese sorg gelewer het. Haar werk was soms moeilik, maar sy het  veilig gevoel en sowel wit- as bruinmense het haar altyd met respek en waardering behandel.

Sy was omtrent vir alles uitgeroep. Soms is sy met ʼn voertuig gaan haal, maar meer dikwels het sy maar te voet aangestryk om haar pasiënte te besoek en te versorg.  Volgens ‘n vroeër  onderhoud met Maureen Voigt van Seestrome, vertel sy van geboortes, siektes en wonders wat sy beleef het. Sy sê nadat sy die duisendste bevalling waargeneem het, het sy ophou tel. Sy dink daar was nog so 500 plus daarna .

Suster se verhale was talryk en kleurvol met tipiese ou-Gansbaaise humor. Die vrou met die bossie proteas as sy vir die hoeveelste keer haar swangerskap kom aanmeld, geboortes agter in ʼn bakkie se kap, van hartseer en swaarkry en frustrasies as ʼn dronk man amper sy vrou doodslaan en dat sy soms lus was om die dronkspul ‘by te kom’.

Haar lewe was onlosmaaklik deel van Gansbaai-gemeente en kerk. Sy en Annatjie Liebenberg was die eerste vroue-diakens en later ook saam met Sannie Kemp een van die eerste vroue-ouderlinge. Sy was 22 jaar lid van die kerkkoor. Sy onthou die bouery aan die kerksaal, die bome om die kerk wat deur die ouderlinge daar geplant is. Sy onthou Ds. Pretorius se gemaklike interaksie met almal. Veral toe haar man ʼn nuwe motor gekry het en dominee sê: ‘Philip, ek sien jy het jou Ford vir ʼn Fokkol (Vauxhall) geruil!’ Tot dusver Johanna se eie herinneringe uit Seestrome.

Suster Johanna was ook sestig jaar lid van die plaaslike Vroue Landbouvereniging waar sy ‘n aktiewe deelnemer aan alle aspekte van dié vereniging was – as kompeterende lid, spreker en bestuurslid.

Ek onthou ook vir suster Johanna met haar streng, maar ruim hart.

Ek weet dat arme Philip se hoeveelste pak nuwe pajamas saam met ʼn lyk die graf in is, omdat daar nie ander beskikbaar was as sy die lyk moes uitlê nie. Sy het die versorging van die liggaam van ʼn afgestorwene as die laaste eer beskou. Sy het dikwels na ʼn kraamgeval gehaas met ʼn boks vol kruideniersware – veral as dié koskasinhoud maar skraal was. Sy het ook  babaklere uit ‘n self-versamelde voorraad gehad vir die bloedjies vir wie daar niks voorberei was nie. Gansbaai se kinders en moeders wat onder haar hande deurgeloop het, was deeglik versorg. En ek weet ook dat sy wel ʼn dronkspul in die omgewing tydens een van haar talle bevallings met ʼn karwats bygekom het!

Die ou Gansbaaiers, van wie daar deesdae min oor is, onthou haar met deernis en dankbaarheid. Sy is onafskeidbaar deel van ons herinneringe.

Sy is na ‘n siekbed van ‘n paar maande by haar kinders, Ricky en Erna van Boom van St Helenabaai oorlede.

Suster Johanna was ‘n Spreuke-vrou en van haar kan ons hier op Gansbaai met reg sê:

Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal! Laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte. Spreuke 31:29 en 31.

Die  troosdiens van Suster Johanna is op Vrydag 24 Februarie om 11:30 vanuit die N.G. Kerk in Gansbaai.

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...