Gansbaai Courant

Blog: Snater Teater dans by BBos ontbyt

Published: 05 May 2017
By:Gansbaai Courant

Dit word dikwels spottenderwys gesê Baardskeerdersbos is effens “agter die tyd”. Die vrolike Snater Teater-dansertjies wat by ‘n spogontbyt in die dorp se Strandveld Pub en Restaurant opgetree het, was daarom nie uit pas met hulle Kaapse Klopse-nuwejaarsdans voor ‘n groep genaamd Bbos Dames nie. Die dansertjies, onder aanvoering van Sylvie Aggenbach, wat ook die groot gees agter Gansbaai se gewilde Snater Teater is, het duidelik elke oomblik van hulle optrede geniet – net soos die 15 deftige vroue  wat dit aanskou het.

Die Bbos Dames – breinkind van 'n inwoner,  Liana Brits - ontmoet mekaar maandeliks om vriendskapsbande te smee en “interessanthede” te deel.  Verskillende plekke in die Gansbaai-omgewing is al besoek, maar Sylvie se dansertjies het hierdie keer die besoek afgelê. Afkomstig uit Blompark, het die betrokkenheid en titel die groep van nagenoeg 20 kinders na liggaam en gees opgehef. Trots en eiewaarde is gekweek en dit is duidelik dat dans vir hulle beslis meer verheffend as 'n straatlewe is.

Die Bbos Dames het harte en beursies oopgemaak en R880 bygedra tot nuwe uitrustings vir die dansertjies.

Vir Sylvie was hierdie ‘n tranetrek gebaar. Sy sê sy het onlangs uit haar eie sak vir elke meisietjie in die groep twee stukkies nuwe onderklere gekoop en vertel met trane dat hulle na ‘n openbare optrede in Gansbaai, waarvoor baie lank en baie hard geoefen is, “vergoeding” van R200 ontvang het.

“Ek maak self die uitrustings waarin hulle optree en met  die Bbos Dames se hulp, sal die gesiggies nog meer straal,” verseker sy.

Die watertand ontbyt by die restaurant, was ‘n volgende hoogtepunt op die geselsende viendinne se saamkuier kalender. 

Recent Posts

DAFF konfiskeer 2 ru...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

Na aanleiding van die gereelde klagtes rakende per...

A huge welcome to ou...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

The Mammal Research Institute Whale Unit conducted...

James Roux se dood '...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

‘n Bekende eiendomsagent James Roux van Gans...

Hulle stap vir verlo...
Published: 04 August 2017
By: Gansbaai Courant

Twee ware Dapper Stappers, Tommy Beeslaar (48) en ...