Gansbaai Courant

Blog: Wêreldklasskut presteer weer

Published: 25 May 2017
By:Gansbaai Courant

Gedurende Maart vanjaar het Franskraal se wêreldklasskut, Johan van der Mescht aan sy soveelste Westelike Provinsie Skietkampioenskappe deelgeneem.

Johan het uitstekend gevaar tussen die sowat 40 skuts.

Hoewel hy in die pistool-afdeling ‘n handwapen moes leen, wat ‘n moeilike aanpassing is, het hy vinnig reggekom en steeds een 1ste plek en twee 2de plekke ingepalm.

In die geweer-afdeling het hy vier 1ste plekke, twee 2de plekke en een 3de plek behaal.

Ten spyte van die feit dat hy effe onkant betrap is met ‘n vreemde wapen, eindig Johan steeds in ‘n algeheel 7de posisie.

Volgens foto’s wat Johan gewys het, is die teikens bitter klein metaalvoorwerpe waarna geskiet word, soos hoenders op 20m, varke op 30m, kalkoene op 40m en ramme op 50m - beslis nie teikens vir Jan Rap en sy maat om raak te skiet nie.

“Ons het tydens hierdie kampioenskappe in die ergste denkbare windtoestande geskiet wat ek nog ooit beleef het,” vertel hy.

Die buitengewone sterk wind het groot skade berokken en selfs die skadu-netafdakke waaronder hulle moes staan om te skiet, is omgewaai.

Johan sê dit sit hulle egter nie af nie - volgende jaar sal hulle weer daar wees!

Johan is ook ‘n lid van Gansbaai se Pistoolskietklub waar hy heelwat meer ontspanne saam met die lede kan skyfskiet.

Wêreldkampioenskappe

Die Wêreld Skietkampioenskappe is verlede jaar gedurende Junie in Bloemfontein oor ‘n tydperk van sewe dae aangebied.

Sowat 150 skuts het daaraan deelgeneem.

Johan het ook hier uitstekend presteer.

In een van die oopvisier geweer-afdelings het Johan algeheel 4de geëindig en vir Suid-Afrika het hy die 2de posisie ingeneem.

 In die gekombineerde twee oopvisier geweer-afdelings het hy ook 4de geëindig.

“Die winter in Bloemfontein is mos maar bitter koud, veral soggens kort voor sonsopkoms en van die teikens was vasgevries op die staanders,” vertel Johan.

“Die Sirilankane ken nie hierdie soort koue nie en het maar swaargekry.

Hulle het grappenderwys vertel dat die temperatuur by hulle 28°C in die somer is en 27°C in die winter.”

Johan sê die Finne is natuurlik nie deur die koue geaffekteer nie en hulle het sommer in driekwartbroeke en sweetpakbaadjies deelgeneem.

Recent Posts

Lojale SAPD-lid se s...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Polisiemanne is verslae na die skielike dood van &...

Meester-skrywers
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Gansbaai se twee getoë Strandvelders en ook k...

Vermiste op see stee...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

 ‘n Man, vermoedelik van Mosselbaai, wa...

Vyf droom... en een ...
Published: 18 August 2017
By: Gansbaai Courant

Vyf finaliste het oor ‘n splinternuwe motor ...