Gansbaai Courant

Mega-koning Orton

Mega-koning Orton

Gansbaai Courant

Orton King wat in 2003 onder ‘n donker wolk weg is uit Gansbaai, is verlede week op R5 000 borgtog, sonder voorwaardes vrygelaat, nadat hy in die Bredasdorpse landdroshof verskyn het op ‘n aanklag van bedrog. ‘n Bedrag van R2,3miljoen is ter sprake.

Die klag is Donderdag, 1 Junie na bewering verander van bedrog na sekondêre diefstal.  Die klaer is glo ‘n lid van Agri Mega se direksie.

Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek en sal op 25 Julie 2017 in Bredasdorp voortgesit word.

King is die groepuitvoerende direkteur van die Mega Groep van Maatskappye. Hy is tans die voorsitter van die Kaap Agulhas Sakekamer en het as bestuurslid op die AHI Wes-Kaap en verskeie ander direksies gedien. 

Hy was ook ‘n raadgewer vir die voormalige minister van landbou van Suid-Afrika, Tina Joemat-Petterson.

Boskop Opleidingsentrum

Verskeie persone het verlede week op King se Faceboekblaaie kommentaar begin lewer.  Een daarvan is ‘n man wat steeds wonder hoe ‘n suksesvolle organisasie soos die Boskop Opleidingsentrum in die laat 90’s ten gronde gegaan het nadat Orton King ook daar onder ‘n wolk weg is. King was in daardie stadium die uitvoerende hoof. Die betrokke skrywer het 4 jaar lank daar gewerk en nooit sy laaste salaris of voorsorgfondsuitbetaling ontvang nie. Die bekende Boskop Opleidingsentrum is in 1999 gelikwideer.

Overberg Concrete Works

‘n Weduwee wie se man by Overberg Concrete Works (OCW) in Gansbaai werksaam was in die vroeë 2000’s skryf ook dat dié maatskappy gelikwideer is, waar King in beheer was. Sy skryf onder andere: “…hmm die wiel draai stadig maar seker… maar draai sal hy draai…”

Frankenstraat-huis

In die Gansbaai Courant van 22 Februarie 2002 word daar berig oor ‘n huis van King wat in Frankenstraat afgebrand het.  Herstelwerk het gesloer en die munisipale raad het dit na sowat 18 maande aangespreek aangesien dit onveilig en ‘n oogseer in die dorp was.  Volgens die kurator was daar geen fondse in die boedel nie.  Sou die munisipaliteit dit sloop, sou dit ‘n finansiële risiko vir die plaaslike owerheid wees. Die koste van die opruiming en sloping sou ‘n nuwe eienaar se verantwoordelikheid wees. (Die eiendom is vandag die tuiste van Huis Breda Versorgingsentrum). 

Die uitgawe van die Gans-baai Courant van 29 Augustus 2003 se opskrif lui: ‘King skuldig aan samespanning’.

Hierin  word berig dat Animo Investments Enterprises (Edms) Bpk, wat onder meer die Local News Network (LNN) en die Overstrand Tribune bedryf het, deur die Hooggeregshof in Kaapstad siviel gevonnis is.

Die Overstrand Tribune was in daardie stadium ‘n opposisie koerant van die Gansbaai Courant.

Die vonnis het voortgespruit uit ‘n klag van samespanning tussen mnr Orton King, wat vroeër insolvent verklaar is en Animo, om King se bates voor insolvensie uit sy boedel te vervreem.

Die gevolg daarvan is dat die geld nie vir die skuldeisers van King beskikbaar was nie.

Een so ‘n skuldeiser was Francois van der Westhuizen van Overcell Vodacom in Gansbaai.  Van die R40 000 se leenvoorraad wat hy aan Orton King se winkel Dit-en-Dat in Stanford voorsien het, het hy nooit weer ‘n sent gesien nie.  Ook hierdie sakeman het Dinsdagmiddag tydens ‘n telefoniese onderhoud gesê dat die wiel draai en as King moet sit, moet hy sit.

Vervreemding van bates

King is in September 2001 op aansoek van ABSA Bank Beperk gesekwestreer nadat dit aan die lig gekom het dat hy die versekeringsuitbetaling van R657 169.00 wat hy van Santam Beperk ontvang het, nadat sy huis afgebrand het, in Animo se rekening inbetaal het.

Volgens ooreenkoms met ABSA moes die betrokke polis egter aan ABSA gesedeer gewees het.  King het die volle bedrag by ontvangs in die rekening van Kings Consultants, wat volgens hofstukke die bankrekening van Animo was, laat inbetaal. ‘n Oortrokke saldo van Animo is afgelos, waarna die balans in twee familietrustrekenings inbetaal is.  King en Animo het dus saamgespan om King se bates, op ‘n wyse wat sy skuldeisers benadeel het, te vervreem.

Bredasdorp

In Bredasdorp, waar heelparty broodwinners onlangs hulle werk verloor het by die Mega Groep, is daar van King se voormalige werknemers wat ook sê: die wiel draai…      

Orton King skryf op sy Facebookblad van 2 Junie 2017, enkele dae nadat die Bredasdorpse polisie hom in hegtenis geneem het vir bedrog en hy ‘n nag in die polisieselle moes deurbring: ‘I just want to thank those caring people for the hundreds of messages through sms and other forms of communication which I have received the last few days.

It was a challenge to keep the batteries alive! Also,a big hug and thanks to those who generously supported my family in the last few days. Edward, my son was on the operating table during my crisis and I couldn't contact him after his operation. Thanks for understanding, Edward! My greatest appreciation to all!

Life is a journey that all of us are on. The recipe to stay on the journey is to take every day as it comes and focus on each day's challenges, knowing that God is with you all the time!’ (sic)

Sy ondersteuners wens hom sterkte toe via Facebook.

Van hulle sê hulle staan bankvas agter hom, sy kinders, Annalee en Edward sê op sy Facebook-blad hulle is lief vir hom.

Orton is met Lilian getroud en die egpaar het drie kinders.

Orton King sê in die Landbouweekblad van 2 Junie in ‘n onderhoud met Corli van der Merwe:  “Ek is oortuig van my onskuld én begerig dat die reg so gou moontlik sy loop neem.”

Mega-koning Orton

Gansbaai Courant

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant