Vinkel en Koljander die einde van era vir twee sussies

Vinkel en Koljander die einde van era vir twee sussies

Gansbaai Courant

Die twee bekende Matthee-susters van De Kelders was soos vinkel en koljander - altyd saam - tot en met die afsterwe van Nellie vroeg in Julie.

Ousus Ria, nou 83 en haar suster, oorlede Nellie (81), het hulle hele lewe lank saam gewoon, geleef en gewerk.

Nellie het onlangs siek geword en was vir 10 dae in Hermanus MediKliniek opgeneem vir toetse en behandeling.

Daarna is sy na Herberg-aan-See (HaS) tehuis vir bejaardes waar sy ook vir sowat 10 dae versorg is. Sy is terug na hul huis, waar sy Dinsdag, 4 Julie oorlede is.

“Die tydperk in die kliniek en by HaS was vir Nellie ‘n baie traumatiese ervaring, aangesien sy nog nooit in haar lewe in ‘n hospitaal was nie,” vertel Ria. 

Nie een van die twee susters was ooit getroud nie en hulle het ‘n broer, Casper (77) van Worcester, waar die drie Matthee-kinders ook gebore is, groot geword en skool gegaan het.

Casper en sy vrou Elize het 4 kinders.

Ria en Nellie is onderskeidelik op 26 Julie 1934 en 17 Januarie 1936 gebore.

Na skool het Ria in 1953 by ‘n ouditeursfirma in Worcester begin werk, terwyl Nellie na skool in 1955 by Worcester Koelkamers begin werk het.

Daarna het hulle vir sowat 25 jaar saam by Standard Bank gewerk en is selfs saam oorgeplaas na ander takke, sonder dat hulle beroeps- of lewenspaadjies ooit geskei het.

Ria het in 1959 by Standard Bank in Stellenbosch diens aanvaar, met Nellie wat in 1961 daar by haar aangesluit het.  Hulle het 25 jaar lank saam by dié handelsbank gewerk. 

Later het Standard Bank spanne saamgestel om in die platteland met die rekenarisering van die handelstakke te gaan help.

Altwee susters het aansoek gedoen, altwee was suksesvol en hulle het 2 jaar lank in dieselfde span in die platteland gewerk.

Ria is daarna na Standard Bank, Bellville oorgeplaas waar sy in 1986 met vroeë pensioen af  is om na hulle vader om te sien. Nellie is  weer in 1986 na dieselfde bank oorgeplaas om in Ria se plek te gaan werk tot met haar aftrede in 1990.

Gedurende daardie tyd het hulle saam in hul huis in Kuilsrivier gewoon.

Nadat Nellie ook afgetree het, het hulle die huis verkoop en is hulle saam na die aftree-oord, Adanté in Kuilsrivier, waar hulle tot 2005 gewoon het.

Sowat 12 jaar gelede, het hulle na hul huis in De Kelders verhuis, wat hulle jare gelede reeds laat bou het.

“Ons het die erf, reg op die seefront, in 1978 vir ‘n skamele R3 000 gekoop en die volgende jaar ons huis vir R38 000 laat bou,” vertel Ria. “Later het ons heelwat verbeteringe aangebring en ook laat aanbou.”

Ria en Nellie was bekendes binne HaS se geledere waar hulle onder andere gereeld in die kombuis as vrywilligers gesit en groente skil het. Tydens HaS en die NG-gemeente se jaarlikse basaars, was hulle ook elke keer agter die tuisgemaakte konfyte en ingelegde produkte se tafels op hul pos as “verkoopsdames”.

Altwee die susters is lief vir breiwerk, naaldwerk, die maak van ingelegde produkte, invul van blokkiesraaisels, lees en tuinwerk, met net een verskil tussen hulle twee: Nellie was sportmal, terwyl Ria nie veel in sport belangstel nie.

‘n Dankdiens is Dinsdag, 11 Julie in die NG-gemeente deur emeritus predikant, ds Paul du Toit, ‘n familielid, waargeneem.

Vinkel en Koljander die einde van era vir twee sussies

Gansbaai Courant

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant