Gansbaai Courant

OVERSTRAND WORSTEL OM BEGROTING BEKOSTIGBAAR TE HOU

OVERSTRAND WORSTEL OM BEGROTING BEKOSTIGBAAR TE HOU

Gansbaai Courant

Munisipale belastingbetalers kon verlede Woensdag (19 Februarie 2014) by ‘n vergadering van die Overstrandse Munisipale Adviesforum (OMAF) ‘n kykie kry na die begrotingsprobleme waarmee Overstrand se finansiële besluitnemers op die oomblik worstel en dinge lyk nie goed nie.
Rdl Ben Solomon, Burgemeesterskomiteelid vir Finansies, het ruiterlik erken dat die munisipaliteit nie eens naby ‘n posisie is nie waarin die stygings in belastings en tariewe vir die 2014/15 finansiële jaar slegs tot die inflasiekoers beperk kan word en daar ‘n surplus kan wees om die behoeftes uit die wyke te hanteer.
Maar, het hy die versekering gegee, wat sy kerndienste betref, sal die Munisipaliteit Overstrand steeds kwaliteit kan lewer en in staat wees om die uitstekende infrastruktuur waaroor hy  in die algemeen beskik te onderhou.
Die konsep-begroting vir 2014/15 en die twee jare wat daarop volg, word eers einde Maart ter tafel gelê en die algemene publiek het dan ‘n maand om dit te bestudeer en kommentaar te lewer. Die finale goedkeuring deur die raad is vir einde Mei geskeduleer.
‘n Nuutjie vanjaar is dat rld Solomon beoog om die konsepbegroting gedurende April  op ‘n reeks vergaderings in al die wyke met die publiek te bespreek. Meer besonderhede oor die plekke en tye sal later gegee word.
Rld Solomon het aangedui dat inwoners kan verwag dat hul munisipale rekeninge met gemiddeld 8,5 persent sal styg. Tariewe vir dienste (met die uitsondering van elektrisiteit) sal tot die inflasiekoers beperk word, maar ‘n 15 persent styging in eiendomsbelasting gaan nodig wees om die begroting te balanseer.
Vir beleggers is daar darem ‘n sprankie goeie nuus: geen styging in die eiendomsbelasting op onontwikkelde residensiële erwe, wat verlede jaar met sowat 63 persent verhoog is, word in die vooruitsig gestel nie.
Dié verligting spruit voort uit ‘n kostevergelyking met ander soortgelyke munisipaliteite wat duidelik aan die lig gebring het dat Overstrand se munisipale rekeninge heeltemal in lyn met dié van ander plekke is, behalwe wat die belasting op onontwikkelde persele betref.
Rld Solomon  sê dit was baie moeilik om die verwagte inkomste en uitgawes van die Munisipaliteit Overstrand te balanseer omdat daar ‘n groot poging onder inwoners is om op hul verbruik van water en elektrisiteit te bespaar. Op water was daar ‘n gemiddelde besparing van 4 persent oor 4 jaar wat in wese meegebring het dat die munisipaliteit se inkomste uit waterverkope met R16 miljoen afgeneem het.
Onbefondste of gedeeltelik befondste mandate – dienste wat namens ander owerheidsfere gelewer word, soos biblioteeke, brandbestryding, toerismebevordering, omgewingsbestuur en behuisingsadministrasie en -beplanning – neem ook ‘n groot hap uit die munisipale begroting. Rdl Solomon meen die lewering van hierdie dienste is belangrik genoeg om daarmee vol te hou, maar hy sal graag die publiek se siening hieroor wil kry.
Burgemeester Nicolette Botha-Guthrie het gewys op die ekonomiese impak van die ergste internasionale resessie in sewentig jaar, die swak waarde van die rand en die feit dat verbruikers tans onder ‘n groot skuldlas gebuk gaan en baie minder bestee.
“Ons het ‘n konserwatiewe benadering tot die begroting ingeslaan, veral wat ons verwagte uitgawes en kontantinkomste betref,” het sy gesé. Bekostigbaarheid vir die verbruiker was ‘n wagwoord in die proses tot dusver, maar daar moet ook in gedagte gehou word dat die munisipaliteit self te kampe het met skerp stygings in brandstof, chemikalieë en elektrisiteit wat sy dienslewering betref.
Die Burgemeester het snydings aan nie-kern funksies van die munisipaliteit aangekondig en gesê daar word ook personeeluitgawes besnoei. Een van die implikasies is dat onder meer stadsbeplanningsdienste gesentraliseer gaan word.
Onder die begrotingsposte wat gesny word, is hulptoekennings aan nie-regeringsorganisasies, feeste en wykspesifieke projekte. Die bobbejaanmoniteringsprogram in Hermanus word afgeskaf en die kantoor vir Plaaslike Arbeidsbevorderingsprojekte gaan gesluit word.
Sy het voorts voorgestel dat inwoners in gebiede waar daar ‘n ernstige behoefte is aan infrastruktuur wat nie inkomste genereer nie, soos paaie en stormwaterstelsels, moet kyk na die vestiging van “verbeteringsdistrikte”, waar dan ‘n spesiale belastingheffing ingestel kan word om sulke projekte te finansier.

AANPASSINGSBEGROTING

Rld Solomon het ook besonderhede bekend gemaak van die aanpassings wat op die huidige begroting gedoen moet word in die lig van die buitengewone stormskade wat in November 2013 en Januarie vanjaar ondervind is en skade van sowat R4,5 miljoen aan infrastruktuur aangerig het. ‘n Verdere newe-effek daarvan was dat waterverkope R5,5 miljoen minder as die begroting gaan oplewer. Die verwagte surplus op die huidige boekjaar word met R5,6 miljoen gesny en laat die munisipaliteit met ‘n surplus van net R1,6 miljoen.
Vergeleke met die vorige jaar (2012/13) se begroting gaan daar ‘n uiteindelike toename van 10,8 persent in inkomste (R655.4 miljoen teenoor R609.4 miljoen) wees, terwyl uitgawes met 10,4 persent styg (R647 miljoen teenoor R586.3 miljoen).

SSMA (Solid Stuff Media Agency) / Fanie Krige

OVERSTRAND WORSTEL OM BEGROTING BEKOSTIGBAAR TE HOU

Gansbaai Courant

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Otto Bylmoord hervat

Otto Bylmoord hervat

Die staat se laaste twee getuies in die bylmoordsaak van Jan (Nugget) Otto het verlede week in die Strand se Streekshof getuig. Spr A/O Hayes en die hoofondersoekbeampte, Spr Kapt Danie Rautenbach, is na hul getuienis onder kruisverhoor geneem waa...

Gansbaai Courant
Fraternal ontbyt

Fraternal ontbyt

Gansbaai Ministers Fraternal het onlangs, onder leiding van die voorsitter, ds Dennis Naidoo, ‘n gesellige ontbytoggend geniet. Die geselligheid is goed bygewoon en die onderlinge samesyn het spontaan verloop.

Gansbaai Courant
VLV Nuus

VLV Nuus

Vertrou dat almal  'n baie geseënde Paasfees gehad het en dat almal uitsien na die laaste langnaweek.

Gansbaai Courant
DA Shows Its Multi Coloured Coat

DA Shows Its Multi Coloured Coat

The misconception that the Democratic Alliance is a political party for whites was blasted away at the DA Rally for the Eastern Region of the Western Cape in Hartenbos on Saturday (12 April 2014).

Gansbaai Courant