Gansbaai Courant

Blog: Otto-Moord

Published: 31 January 2013
By:Francois de Jongh

Julies ernstig in gesprek met Mariaan tydens ‘n hofsitting in Somerset-Wes Streekshof terwyl hulle prokureur, Samantha Stanley bystaan.

Selmaat getuig
“Typie het sokkies oor sy hande gehad en die byl skoongevee sodat hy nie sy vingerpunte daar los nie.” So het Pedro September, ‘n mede-gevangene en selmaat van die moordbeskuldigde, Johan Julies alias Typie (31), Woensdag in die moordsaak van Jan (Nugget) Otto getuig.
September het verder getuig hoe hy en Julies in die tronk bevriend geraak het en wat Julies aan hom oor die bylmoord vertel het. Volgens hom het Julies die huis van die vermoorde vir ‘n paar maande dopgehou. Hy het ook vir Otto goed geken, aangesien hy ‘n houtkapper is en gereeld sakke hout aan hom verkoop het.

“Die oggend van die moord het hy na die huis gegaan en gesien die traliehek effens oop is. Hy het ingegaan, maar die hek het ‘n geluid gemaak. Dit het toe gelyk of die man wat gelê en slaap het,  wakker gaan word en hy kap hom toe twee houe met ‘n byl aan die kant van sy kop. Daarna het hy ‘n kamera, foon en juweliersware gesteel.”


September het verder getuig dat Julies gesê het dat daar nog twee mans by hom was. Hy kon egter nie daarop uitbrei nie. Volgens September het Julies gesê dat hy ‘n paar dae gewag het totdat hy gedink het dit is veilig en toe die gesteelde ware in ‘n sakkie na sy houvrou, Mariaan Nobles (30) by die stortingsterrein geneem. Hy het aan haar gesê sy moes dit tussen die vullis, waar sy ‘n sorteerder was, plaas. Sy het dit gedoen en toe ter aanskoue van al die ander sorteerders gevind.                    

                                           
“Pimp”
Volgens September het hy besluit om hierdie inligting aan ‘n speurder van Bredasdorp bekend te maak. Hy was verhoorafwagtend vir ‘n perlemoensaak en die betrokke speurder het dit ondersoek. “Ek het vir hom gesê hy moet my uit Caledon se tronk kry, want ek is nie ‘n geweldadige man nie. Ek wou hê hy moes my na ‘n ander tronk oorplaas want ek het ‘n sel gedeel met ‘n bylmoordenaar en nog 20 ander moordenaars, verkragters en 28 bendelede. Ek was bang om te gaan slaap.” Op ‘n vraag deur die verdedigende prokureur, Samantha Stanley, hoekom hy besluit het om te “pimp”, het hy gesê: “Omdat ek besluit het om my lewe te verander en die regte ding te doen.” Die Bredasdorpse speurder het vir A/O Hayes van Gansbaai oor die gesprek ingelig en hy het September in die tronk besoek en gevra om ‘n verklaring af te lê. “Ek wou eers nie want ek het die speurder nie geken nie en tyd gevra om daaroor te dink. Hy het toe gesê dat ek vir me Louw by die tronk moet vra om hom te kontak wanneer ek reg is om ‘n verklaring af te lê.” Dit het wel later gebeur en so het September ‘n sleutelgetuie in die saak geword.
Julies het egter deur sy prokureur in die hof aangevoer dat September deur Hayes omgekoop is om teen hom te getuig. September het dit ten sterkste ontken en ook die bewerings dat Hayes tee en suiker vir hom gebring het as snert afgemaak. “Dit is net nie moontlik nie want niks mag van buite ingebring word nie.”


Selfoon nagespoor
Daar is ook deur ‘n mede-beskuldigde in die moordsaak, Julies se houvrou, Mariaan Nobles se ma, Wilhelmina, en stiefpa, John Gardener, getuig. Hulle getuienis het onder andere gehandel oor ‘n Nokia selfoon wat tydens die moord gesteel is en deur hulle gebruik is. Die ondersoekbeampte, Spr Kapt Danie Rautenbach, het deur die selfoondiens-leweraars gevind dat altwee se simkaarte op ‘n stadium in die foon gebruik is. Die foon is op die dag van haar arrestasie in ‘n sak met vis gevind. Sy het haar 4 kinders en die sak by haar ma se huis gelaat toe sy gearresteer is. Haar seuntjie het dit in die sak gekry nadat sy ouma dit in die vullisblik gegooi het omdat die vis reeds vrot  was. Die foon is later deur Gardener se dogter, Erica, van hom gesteel en is volgens Wilhelmina aan Nigeriërs verkoop. Die saak duur voort en die volgende hofdatums is 28, 29 en 30 Mei 2013.  


Die ondersoekbeampte in die saak is Spr Kapt Danie Rautenbach en die staatsaanklaer, Adv Pedro van Wyk. Die verdedigende prokureur is Samantha Stanley en die saak word verhoor deur Landdros Mouton.                
Francois de Jongh

 

Recent Posts

Otto Bylmoord hervat
Published: 01 May 2014
By: Francois de Jongh

Die staat se laaste twee getuies in die bylmoor...

Fraternal ontbyt
Published: 01 May 2014
By: Hardus Botha

Gansbaai Ministers Fraternal het onlangs, onder le...

VLV Nuus
Published: 01 May 2014
By: Gansbaai Courant

Vertrou dat almal  'n baie geseënde Paas...

DA Shows Its Multi C...
Published: 01 May 2014
By: SSMA Fanie Krige

The misconception that the Democratic Alliance is ...