NG Kerk Gansbaai

Blog: So what...

Published: 14 February 2013
By:Dr Lisel Joubert

So what? Been there, done that, got that T-shirt
Ons leef in ‘n wêreld  waarin jongmense (en baie ander) hoorbaar sug: “So what?” As julle die fliek Finding Nemo gesien het, sal julle onthou dat die visse saam met Nemo in die vistenk, hard planne beraam om vry te wees. En daar waar ons hulle aan die einde van die fliek elkeen dobberend in sy/haar plastieksakkie in die see sien drywe, hoor mens: “Now what?” Dit is die antiklimaks. Die lewe is nie altyd cool soos baie dit vir my wil voorhou om te wees nie.


Ek het die afgelope tyd ‘n boek gelees: Acedia & me. Dit handel oor ‘n vrou wat bietjie die word “acedia” gaan navors het. ‘n Woord wat op die lys van die vroegste kerk se lys van agt slegte gedagtes was. Hoe meer sy rondgelees het, hoe meer het sy dit rondom haar ontdek” ‘n nie-lus wees, nie-omgee, ‘n traak-my-nie-agtigheid. ‘n Passiewe gevoel van “nie-gepla wees”. Julle ken die gevoel.


‘n Ander word wat ons tyd beskryf, is “apatie”. Patos beten “hart hê vir iets” om te kan huil, lag, liefhê, omgee, skaam kry, ensovoorts. “Apatie” beteken dan die teenoorgestelde, om nie meer te kan of wil lag, huil en omgee nie.


Wat sê die Bybel vir ons in antwoord op apatie, acedia en “so what”? In die eerste plek dat God die God van die lewe is, die polsende gawe van lewe. God wat die wêreld en die mens geskep het en dit bevestig het met die woorde “dit is goed” (lees Genesis 1).


Ek lees dat God my lank voor die skepping al gekies het om deel van sy gemeenskap te wees (Ef 1). Dit is God se bedoeling met my: ek is Syne”. Omdat God skep en kies, gee Hy ook lewe. Die lewe van Jesus word deur die Heilige Gees nou ook my lewe. Die Heilige Gees is die een wat die doodsheid uithaal, hoop gee. Ons klipharte uithaal en vir ons harte van vlees gee, ter wille van ander mense.


Partykeer voel ons regtig sonder patos, ander kere glo ek jou hart is opgewonde oor baie dinge, mense en projekte, maar miskien is jy onseker oor die reaksie van jou vriendekring.


Ek was nog altyd gefassineerd deur die Middeleeuse teoloog Hildegard von Bingen. Sy was ‘n non, teoloog, wetenskaplike, komponis, dokter – sommer alles (sy het selfs ‘n geheime skrif ontwerp!).Sy het grootgeword in die vrugbare Ryngebied met groenigheid rondom haar en van kleins af die groenigheid geassosieer met God se groeikrag in die mens. Sy noem die groeikrag “viridatis”. Ons kan dit vertaal met “groen groeikrag” of “greening power”.


Jesus word self die “groen figuur” genoem wat aarde toe gekom het ter wille van groei en lewe. Die groen groeikrag word in ons lewe geopenbaar in veral drie plekke. Daar waar ons liefhet, waar ons barmhartigheid bewys (spontaan omgee in woord en dade) en kreatief besig is in die wêreld. Sy het geglo as ons skeppend besig is, sit ons God se skeppingswerk voort (skep is baie dinge: skryf, bou, tuinmaak, beplan, naaldwerk, kook, houtwerk, ens). Niks wat ons doen is nutteloos nie.


Hildegard het egter ook die realiteit van sonde geken. Sonde droog uit, maak lusteloos, verander ons harte in klip en ‘n plek sonder-omgee, laat ons dink en sê “so what”. Net God deur sy Gees kan ons weer nat en lewend en opgewonde en barmhartig kry. Die eerste stap is berou en trane. Trane geen lewe.


Die Heidelbergse kategismus herinner ons juis dat bekering ‘n daaglikse proses is. Dit behels die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. Die afsterwe van die ou mens is die haat van die sonde en die opstanding van die nuwe mens is ‘n “hartlike vreugde in God deur Christus en ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe”.


Lus is mos alles wat apatie, acedia en “so what” nie is nie. Dit is ‘n geskenk van God waarna ons daagliks moet smag. Sinvolheid en vreugde is geleë in iets groters as ek, in God se kies van my. Die vrou, Kathleen Norris, wat met acedia baklei het, het self te  midde van haar stryd met lusteloosheid sin gevind in die ritme van haar godsdiens. In die daaglikse lees van die Psalms, al wou sy nie altyd bid nie. Hoekom? Want ons moet elke dag herinner word aan wat ons vergeet. Hoe groot en getrou God is.


Herinnering lei tot belydenis en belydenis tot lof en lof lei tot dankbaarheid en vreugde. Diensbaarheid aan ander word die opoffering wat dank vra. Dan word ek dit wat ek liefhet. As ek die Lewende God liefhet, word ek weer lewend en vol patos. Dan is dit nie “so what” nie, maar my “destiny” om te leef in God se teenwoordigheid, nie as individu nie, maar as iemand; altyd daar vir ander.


Iemand wat deur God self uitgenooi word om ‘n verskil in die wêreld te maak. Dit word dan jou lewe, nie net’n “done that”-ding nie.

-Dr Lisel Joubert
Seestrome 2009:2

 

Recent Posts

Vir my is die lewe C...
Published: 04 May 2014
By: Dr Bobo van Zyl

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te we...

Onderlinge mededeels...
Published: 27 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, ...

Goeie Vrydag
Published: 18 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

My God, my God  waarom het u my verlaat?. ...

Sendingsondag
Published: 13 April 2014
By: Ds. Ernst Toerien

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 j...