NG Kerk Gansbaai

Blog: Die eer van die Here

Published: 20 October 2013
By:Ds Dirk van Dyk

Teks:  Johannes 12:37-45 en 11:45-53

Ek lees ter voorbereiding vir vandag weer ‘n slag die preek van Prof Willie Jonker oor hierdie verse wat in ‘n boek verskyn het,  genaamd Vreemde Gemeenskap,   oordenkings oor die kerk met spesifiek die opskrif: “Die eer van die mense”.    Ek haal aan wat hy ter inleiding geskrywe het. “Die mens bly maar ‘n kuddedier,  dit is waar.  Daar is wel enkelinge, die individualiste, wat hulleself van die massa met sy vooroordele en voorkeure kan losmaak en hulle eie hoë en eensame gang kan gaan. Dit is die Kierkegaards en die Kohlbrugges en al die eensame protesteerders teen die gees van hulle tyd, profete en digters, kunstenaars en wysgere wat die moed het of in elke geval:   aan wie die dwang opgelê is om teen die stroom in te gaan.   Maar die soort mens is in die minderheid. Verreweg die meeste mense doen en dink maar soos die groot meerderheid doen en dink,   kies soos die populêre keuse is om te kies, bly in pas met wat die gangbare menings en clichés is.  Hulle bestaan voltrek homself binne die warmte van die groep waarin hulle aanvaar word.   Hulle is van die groep afhanklik en daarop aangewese.   As die verbondenheid aan die groep aangetas word, val die bodem uit hulle lewe weg.    Dit loop letterlik op die dood uit vir meer as een,   dikwels die dood aan eie hand.  ‘n Feit wat ons nou onder oë moet sien, is dat dit ook op die gebied van die godsdienstige lewe nie anders is nie.   Hoe waar dit ook is dat die Christendom van ons ‘n persoonlike en individuele keuse vra,   bly dit tog in die geval van die meeste mense ver benede die hoë  vlak”.   Tot sover die aanhaling.   Dit het my baie laat wonder, veral die gedagte dat mense afhanklik is van die aanvaarding van ander en watter implikasie dit het vir ons getuienis as gelowiges. Hier in die gedeelte wat ons dan ook saamgelees het, sien ons  hoe Johannes  juis daaroor skrywe.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik daarna. Ons lees van die groot skare wat na Jesus gesoek het na die opwekking van Lasarus.  Ons lees dan ook in Joh 11:45 dat baie van die Jode wat na Maria toe gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, in Hom geglo het.   Daar het ‘n geweldige appél van Jesus op die skare uitgegaan.    Dit het hulle voor ‘n keuse gestel wat hulle nie kon ontwyk nie.   Maar van die meederheid geld dit dat hulle uiteindelik teen Hom gekies het. En dit is nie moeilik om te weet waarom dit so was nie. Want hulle was afhanklik van die goedkeuring van ander. Ons lees in v 46 “Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het”.  Hulle wou eintlik sien wat die reaksie sou wees; hulle wou hoor wat die Fariseërs daarvan dink. En omdat die Fariseërs dit nie wou aanvaar nie, het ook hulle nie.   As die Fariseërs dit sou aanvaar, sou hulle ook. Dit is duidelik.   In Joh 12: 42 lees ons dan ook heel pertinent : “Nietemin het selfs baie lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs  het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie”  Heel pertinent word hier  verwys na die vrees vir ander,  in hierdie geval die Fariseërs .

Nou moet ‘n mens hierdie vrees probeer verstaan, die werklikheid daarvan.  Hierdie vrees wat verband hou met om uit die sinagoge geban te word.   So iets is verskriklik, want as dit sou gebeur, dan sou jy buite die kring van vertroue beland,  buite die warmte van die groep, buite die aanvaarding.    Jy sou beskou word as ‘n volksvreemde element.     So dit was regtig verskriklik. Jy sou regtig waag as jou geloof in Christus sou veroorsaak dat jy uit die sinagoge geban sou word.     Ek het al gehoor hoe swaar mense kry wat uit ander godsdienstige groeperinge kom,  kry as hulle die Christelike geloof aannneem, want ook hulle word uit die kring van aanvaarding en vertroue uitgesluit. Dit moet verskriklik wees  en daarvoor het hierdie mense nie kans gesien nie.    Maar waarop dit neerkom? Hoe jy ookal daaroor dink, dit beteken dat hulle verkies het om liewer deur mense geëer te word as deur God. Dit wil sê vir hulle was die goedkeuring van mense belangriker as die goedkeuring van God. Watter geweldige iets! Hoe sterk is dit nie?

Op nog ‘n ander plek skrywe Johannes oor hierdie  kwessie  en haal Jesus aan wat vewys daarna hoe onmoontlik dit dan ook is om werklik om daardie rede te glo,  vlg v 44  “Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie”.   Hulle kan nie glo nie,omdat hulle die eer van mense belangriker ag.   Ons hoor dit mooi. Hulle kan nie glo nie - solank die eer van mense belangriker is.   Dit is verstaanbaar, want egte geloof is eintlik ‘n keuse tussen God en jouself.   Geloof in God is eintlik selfvernedering en selfkruisiging.    Dink aan Lukas 14:26,  2 Kor 5:14.

In  die lig van die belangrikheid van om deur mense aanvaar te word kan ons maar net ook bid dat die Here ons wat onsself gelowiges noem,  genadig sal wees.     Sodat  ons meer aan die Here gehoorsaam sal wil wees as aan mense.  Byvoorbeeld dat in ons dag as die waarheid van die evangelie op die spel is, dat ons, al staan ons alleen, ons nog steeds getrou  daarvan sal getuig.  Dit bly altyd vir my merkwaardig dat toe die apostels  Petrus en Johannes  gedreig is om nie langer oor Jesus te getuig nie, hulle  besluit het om daarmee voort te gaan, want dit is belangriker om te doen wat die Here vra as om te doen wat mense hê.  Ek dink hier aan die beskrywing in Hand 4:18  “Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie.  Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê:  Julle moet maar self besluit wat voor God reg is:  om aan julle gehoorsaam te wees of aan God.  Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.  Ons kan maar net bid". Om meer gehoorsaam te wees aan die Here, getrou aan hoe belangrik dit sou wees in die Christendom, ook volgens ons eie tradisie,  maak nie saak wat die gevolge sou wees nie. Ek lees in hierdie verband die NGB, die artikel oor die owerheid.  En ek dink in hierdie verband aan die geskiedenis van die kerk en dink aan die talle gelowiges wat meer gehoorsaam wou wees aan die Here en teenoor die owerheid getuig het, maar  daarvoor verguis is, maar dit nogtans as ‘n groot eer beskou het.  Daar is darem talle sulke geloofhelde gewees.  Mense ook in ons land.  En hulle staan opgeskrywe om ons aan te moedig om ook so moedig te wees soos hulle.

As die Here ons darem ook maar net kan help om Sy eer eerste te soek, maak nie saak nie, daar is so talle en talle situasies waar ‘n mens net weet dat die eer van die  Here nou op die spel is. Ons kan maar net bid vir onderskeidingsvermoë, teenoor die owerheid getuig, waar mense die Naam van die Here ydelik gebruik, waar mense onregverdig behandel word, noem maar op. As die Here ons net ook genadig sal wees. Dat ons gehoorsaamheid aan Hom vir ons die belanrikste sal wees.

Gisteraand by die kamp(Senior kategese kamp) het ek net ook weer besef hoe daar nie genoeg vir ons kinders gebid kan word nie, dat hulle ook standvastig sal wees. Die groepsdruk is geweldig.
Maar daarom moet ons ook bid dat ons self die Here beter sal leer ken. Kyk na die storie van Calvyn se bekering, die leerbaarheid. Harte wat brand vir die Here!

Recent Posts

Vir my is die lewe C...
Published: 04 May 2014
By: Dr Bobo van Zyl

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te we...

Onderlinge mededeels...
Published: 27 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, ...

Goeie Vrydag
Published: 18 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

My God, my God  waarom het u my verlaat?. ...

Sendingsondag
Published: 13 April 2014
By: Ds. Ernst Toerien

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 j...