NG Kerk Gansbaai

Blog: Onderlinge mededeelsaamheid

Published: 27 April 2014
By:Ds. Dirk van Dyk

Skriflesing:  Handelinge 4:32-5:11

Ter inleiding: Lukas het gelowiges probeer inspireer tot getrouheid aan die opgestane Jesus te midde van moeilike omstandighede.     En hy doen dit deur te vertel van wat die Here deur die apostels gedoen het.     Die boek staan daarom  ook bekend as die Handelinge van die apostels.   Maar ‘n mens sou ewe eens dit  kon noem  stories wat getuig dat Jesus lewe.  En daar ís die inspirendste stories in die boek.     Dink hier aan die  ongekende vrymoedigheid by gelowiges wat vroeër agter toe deure laer getrek het.  Dink aan die storie van die verlamde wat opstaan en loop, van ‘n gemartelde wat sy martelare vergewe. Stefanus. Dink aan hoe grense oorgesteek word en die evangelie ook aan die heidene gebring sou word.   Al hierdie stories maak as ‘n ware deel uit van, soos iemand dit gestel  het, die uitkringende effek van die opstanding van Jesus.  Ek wil julle aanmoedig om die boek Handelinge te lees. Dit is ‘n wonderlike boek  wat getuig dat Jesus lewe en deur sy Gees werksaam is.

Maar terug na die gedeelte wat ons vir vandag saam gelees het. Met hierdie gedeelte is dit  so asof Lukas  die beskrywing van die groot gebeure eers onderbreek en vir ons ‘n kykie gee in die gemeente waar Jesus  werklik voortleef.  En as ‘n ware eers wys  hoe so ‘n gemeente lyk.   Hy gee nie ‘n soort geleerde definisie van die kerk nie, maar vertel  ‘n storie.  Hy vertel dat die apostels kragdadig getuig het dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het.   En hierdie getuienis aangaande die opstanding van Jesus  het die gemeente so geinspireer dat dit in die gemeentelike lewe tot uiting gekom het.

En hoe dit tot uiting gekom het, was  dan ook om baie spesifiek na mekaar om te sien, om vir mekaar te sorg.    Dink aan die woorde van v 32, die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel.  Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.  V 34 nie een van hulle het gebrek gely nie, want die wat grond of huise besit het, het dit verkoop  en die koopprys daarvan gebring  en vir die apostels gegee . . .  die het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.   Lukas wil beklemtoon dat dit is soos ‘n gemeente lyk waar die opstanding van Jesus gevier, geleef en beleef word.   Mense sien om na mekaar . In hierdie verband lees ons in Handelinge 2 van die eerste gemeente. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die onderlinge verbondenheid, dit wil sê hulle het onderlinge broederliefde beoefen.   Saam met die apostels het die gemeente ‘n nuwe gemeenskap gevorm  en dit het daadwerlik hulp aan geloofsgenote ingesluit.    Dit sou dan ook die basis wees van verhoudinge in die groeiende kerk. Dink aan die woorde van die apostel Paulus in Gal 6:  dra mekaar se laste en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus.   In hierdie nuwe gemeenskap op grond van die opstanding van Jesus sou die gelowiges hulle lewens so oopstel vir ander gelowiges . . . en dit sou daadwerlike hulp insluit.

En dan vertel Lukas verder dat daar iemand was in wie se lewe God se genade veral duidelik was,  en dit was Barnabas.   Dit was ‘n bynaam. Want sy eintlike naam was Josef, ‘n Leviet,  wat van Ciprus afkomstig was.   En hierdie bynaam het hy gekry omdat hy ‘n bemoediger was.  Barnabas beteken dan ook bemoediger.   Hy het ook sy eiendom prysgegee en die geld vir die kerk gebring sodat ander daardeur gehelp kon word.   Alles wat ons dan ook verder van Barnabas weet, ondersteun dan ook hierdie bemoedigende karakter.     Hy bemoedig Paulus op ‘n tyd toe daar agterdog was oor die bekering van die eens vervolger van die kerk.   Hy het ook die nuwe onderneming gesteun om die evangelie na die heidene toe te neem.

Na aanleiding van hierdie prentjie wat Lukas hier vir ons skilder van die eerste gemeente moet ons vandag onsself afvra  hoe ons lyk, ons wat ook ‘n gemeente van die lewende Here is.    Wat is die stories wat van ons gemeente en in ons gemeente vertel word.   Wat hoor mense?    Wat hoor die nuwe intrekkers byvoorbeeld.  Watter verhale word keer op keer vertel  en watter stories behoort ons te vertel.    Alhoewel dit so is dat ons omstandighede verskil  wil ‘n mens tog  glo dat veral hierdie aspekte  waarvan Lukas hier vertel ook by ons teenwoordig is.  Juis omdat ons ook so gedurig hoor van die opstanding van Jesus , juis omdat ons ook daarvan getui g, dat dit ook ons storie is dat mense mekaar ondersteun.   Juis oor die opstanding van Jesus.   Dit bly tog merkwaardig dat Gansbaai se gemeente se leuse  Hawe van God se genade is.   Dit is dan ook die leuse wat vir die hele dorp geld.  En dat  dit tog veronderstel dat mense hier omgee en vir mekaar sorg.    Ek dank die Here vir mense ook in ons gemeente  wat juis oor die liefde van die Here wat in hulle hart is, daadwerklik omgee.    Ek dank die Here vir die bediening  Diens van barmhartigheid. 

Tydens ‘n  vergadering  die afgelope week, het ek net weer besef hoe die Here hierdie bediening gebruik. Dink aan die broodjies by die skool, dink aan die kospakkies, dink aan die versorgingsfonds, dink aan die klere. Ons is so dankbaar  vir die opvoedingsfonds waarmee ouers gehelp word om hulle skoolfooie busgeld en busgeld te betaal.  Ons dank die Here vir die talle wat help as daar nood  in ‘n wyk is. Juis omdat die liefde van die Here ons aan mekaar verbind.

Verder wil ek glo dat net soos Barnabas  bekend gestaan het as  bemoediger  ons ook in hierdie dae veral bemoedigers is.    Oor hierdie bynaam skrywe iemand die volgende:   is dit nie ‘n bynaam vir elke Christen om na te strewe nie.    Daar is altyd vakante poste in die bediening vir bemoedigers.   Die wêreld is vol ontmoedigers.  Mense wat koue water van kritiek en negatiwiteit gooi op elke vorm van entoesiasme,  die doemprofete van ons tyd.  Om te bemoedig  is ‘n christelike diens.    Die persoon meen dat erkenning ‘n belangrike bemoedigende rol kan speel.   Ook in die kerk het mense ‘n behoefte daaraan.   Hy meen dit is ‘n teken van ons groei in ons kennis van Jesus  Christus.  Dit is baie waar.  Ek dink dat ons veral nou  in die lig van die evangelie van die opstanding van Jesus bemoedigers sal wees.     Juis in hierdie negatiewe tyd.    En dat ons erkenning sal gee aan mense  vir die positiewe rol wat hulle speel.    Ek lees in Hebr 10 die volgende: laat ons na mekaar omsien  deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.  
En mens kan jou dit nouliks voorstel dat in plaas daarvan dat gelowiges in die lig van die opstanding sal  dink aan die ander se belange, hulle net aan hulleself sal dink.   Dit is verskriklik.  Daarom teken Lukas ook vir ons ‘n prentjie daarvan met die gebeure rakende Annanias en Saffira. Teenoor hierdie beskrywing van die omgee en die bemoediging  begin hy dan ook die deel met: Maar daar was ook ‘n sekere man . . . Amper so asof hy wou sê teenoor hierdie wonderlike omgee is daar ook hierdie storie van selfsug en eie belang eerste te stel. Maar dit hoort nie, dit kan nie, nie in ‘n gemeente wat getuig dat Jesus lewe nie.    Besef tog die erns daarvan en dink na oor die gebeure.

Maar hoe sal ons tog só kan wees.  Hoe kan ons dit bereik.   Die antwoord vind ons later in die boek Handelinge. Wanneer van Barnabas gesê word dat hy ‘n goeie man was, vol van die Heilige Gees en van geloof.    Barnabas was waarskynlik self verbaas oor hierdie getuienis oor sy lewe. Sy goedheid  is nie ‘n berekende diens nie, maar die neweproduk van die geloof in die opstanding  en die inwoning van die Gees.   Daarom bid ons. . . Vervul ons met U Gees.

Recent Posts

Vir my is die lewe C...
Published: 04 May 2014
By: Dr Bobo van Zyl

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te we...

Goeie Vrydag
Published: 18 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

My God, my God  waarom het u my verlaat?. ...

Sendingsondag
Published: 13 April 2014
By: Ds. Ernst Toerien

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 j...

Versoening
Published: 30 March 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

Luther het gesê meegevoel met Jesus is ki...