NG Kerk Gansbaai

Blog: Die Christen en die regering : As dit ontaard

Published: 02 February 2013
By:Ds Dirk van Dyk

Vraag; Ek wil graag weet wat moet my (as christen) se houding en gesindheid teenoor die regering van die dag wees as ek voel dat hulle nie meer Christelike waardes en norme handhaaf nie?

Deur die eeue heen bely Christene reeds dat die owerheid ‘n instelling van God is. In die Ou Testament is dit uit God se handelinge met Israel duidelik dat dit God is wat telkens die owerheid aanstel. Ook ten opsigte van die heidennasies word dit soms eksplisiet aangedui dat God ook daardie owerhede vir sy doel gebruik. Die belangrikste grondslag vir hierdie siening word gevind in Skrifgedeeltes soos Rom 13 en 1 Tim2, asook die praktiese optrede en houding van Christus en ook van Paulus teenoor die owerheid van die dag. In die geskiedenis van die kerk het die belangrikste tradisies dit ook so aanvaar. Kerkvaders soos Augustinus en die Hervormers, onder andere Luther en Calvyn, het deurgans die siening gehandhaaf dat die owerheid ‘n instelling van God is en dat ons gehoorsaamheid verskuldig is aan die regering van die dag. Ons lees ondermeer in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis die volgende: “Verder is elkeen verplig om watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord in stryd is nie. En vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in hulle handelinge mag bestuur…. Sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en eerbaarheid. Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil werp, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder mense ingestel het, versteur.” Met dit in gedagte is dit nou belangrik om te onthou dat die aard van die regering as instelling van God ook besliste grense an die regering stel. In dié opsig staan die owerheid in die diens van God en is dit nie die ‘n doel om op sigself om te maak soos hy wil nie.
Waar die owerheid nie hierdie funksie vervul nie, kan dit alleen gebeur dat verset en weerstand teen die owerheid nie alleen ‘n reg is nie, maar selfs ‘n plig. Van vroeg af is daar die voorbeelde van Petrus en Johannes wat deur die Joodse owerheid verbied is om langer die Evangelie van Christus te verkondig. Volgens Hand 4:19 was die reaksie van die apostels soos volg: “ Julle moet maar self besluit wat voor God reg is; om aan julle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, is dit onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” So sou die eise aan die Christene om die keiser te vereer in die tyd toe die Openbaring geskryf is, daartoe lei dat die Christene moes weier en dit op sy beurt veroorsaak dat Christene wreed vervolg is.
Tydens reformasie sou die reg van verset dan ook erken word. Die Nederlandse Geloofsbelydenis lui ook dat aan die owerheid eer en onderdanigheid bewys moet word in alles wat NIE met die Woord van God in stryd is nie. Daar kan dus tye aanbreek waar die owerheid in stryd met God se Woord optree en gevolglik teengestaan moet word. Daar was egter ook voorbehoude. So het Calvyn die reg van opstand nie aan die gewone burgers toegeken nie, maar slegs aan die sogenaamde volksmagistrate. Hulle is aangestel tot beteueling van die willekeur van die konings. Indien hulle, vanweë die misbruik van owerheidsgesag, verplig was om die reg van verset te gebruik, moes dit allereers langs ordelike kanale geskied. Vandag sal Christene ook moet besef dat hulle in hulle roeping, om alle onreg teen te staan en vir geregtigheid te werk, ook op politieke terrein moet doen. Christene se lewe moet gevorm word na die voorbeeld van die Evangelie waar deugde soos liefde en verdraagsaamheid as die kern in die gesindheid van die nuwe mens staan.
Daarom, terwyl die goeie reg daar is om jou te verset teen die regering wat nie sy funksie vervul nie, dit trouens geheel en al misbruik, moet verset ook langs die ordelike kanale geskied. In ‘n demokratiese staat sal die veraderings wat beoog word langs die weg van hervorming plaasvind, waarby dan van bestaande kanale gebruik gemaak word. So bestaan daar in ‘n demokratiese opset die kanale van parlementêre opposisie, die openbare pers, assok organisasies deur wie protes aangetekn kan word. Wanneer die onreg so diep is en dit nodig is dat ‘n slegte regering vervang moet word, moet dit in die basiese demokratiese bestel langs die weg van die stembus geskied. Maar wat nou as hierdie demokratiese moontlikhede nie bestaan nie, soos byvoorbeeld onder ‘n totalitêre bewind? Dit is in so ‘n toestand dat die kerk ‘n getuigende kerk word. Dit beteken dat die kerk – of dan daardie deel van die kerk wat homself voor ‘n onvermydelike gewetensbeslissing bevind, ‘n staat van belydenis uitroep. ‘n Staat van belydenis behels ‘n uitdruklike verklaring deur die kerk of ‘n gedeelte van die kerk dat ‘n bepaalde politieke bestel in stryd is met God se Woord en dat die kerk hom in die openbaar daarvan distansieer.
So was die kerk in die beginjare gedwing in ‘n staat van belydenis toe hy die beeld van die keiser moes aanbid en geweier het. Toe die amptelike Lutherse kerk in Duitsland al meer verstrengel geraak het in die aktiwiteite van Hitler se Derde Ryk, het ‘n groep kerkmanne in 1934 die Barmen-verklaring opgestel en geteken. In dié verklaring is sterk standpunt ingeneem teen Nazisme en die kerk se betrokkenheid by die politieke beweging.
Met ‘n staat van belydenis sal die kerk sê: “Hier staan ons, ons kan nie anders nie.” In ons onlangse verlede is daar die voorbeeld van die Belhar Belydenis wat ook ‘n uitdruklike verklaring van die Ou NG Sendingkerk was om te distansieer van die politieke bestel van apartheid as in stryd met die Woord van God. Terwyl hierdie reg tot verset allerweë erken word (sou dit deur middel van bestaande kanale wees in ‘n demokratiese bestel of dan deur ‘n staat van Belydenis uit te roep sou dit onder ‘n totalitêre bewind wees) bly dit veral ook die taak van die kerk om voorbidding te doen vir die owerheid. In hierdie verband bly die woorde van 1Tim 2 vanaf vers 1 so belangrik. “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging, gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.” Die Here roep ons om, afgesien daarvan om in die openbaar teen die regering van die dag te getuig, ook vir die owerhede te bid.
Die regering bly inderdaad ‘n instelling van God wat ons met eerbied en respek moet behandel, maar dan is ons geroep om die regering te bly herinner aan wat sy taak en aard moet wees.
Ds Dirk van Dyk . Seestrome 2008:2
 

Recent Posts

Vir my is die lewe C...
Published: 04 May 2014
By: Dr Bobo van Zyl

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te we...

Onderlinge mededeels...
Published: 27 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, ...

Goeie Vrydag
Published: 18 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

My God, my God  waarom het u my verlaat?. ...

Sendingsondag
Published: 13 April 2014
By: Ds. Ernst Toerien

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 j...