NG Kerk Gansbaai

Blog: Hoekom is kategese nog (vandag) in 2013 belangrik...

Published: 17 February 2013
By:Ds Willie Kotze

Die ouer mense sal onthou hoe hulle tydens kategese geworstel het met die kategismes van die kerk. Jy moes die Heidelbergse kategismus, Dortse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenisse deels uit jou kop ken. Die streng dominee en sy ouderlinge het jou kennis van die kategismus deeglik getoets voor belydenisaflegging. Aanvanklik  het hierdie kategese-deel van die kerk vele afgeskrik.


Vandag getuig baie ouer mense hoe kategese hulle gevorm het, help verstaan het
wat die Bybel ons leer aangaande God, help verstaan het wie hulle is, en wat dit beteken om deel van die kerk te wees. Hierdie belydenisskrifte van die kerk is vandag vir ons kinders vreemde begrippe. Selfs die idée van kategese is vir baie kinders en ouers vreemd. Is kategese werklik so belangrik, wonder ons?


Vir elke mens, elke ouer en kind is die vraag na wat reg en verkeerd is, van kardinale belang. Wanneer handel ons verantwoordelik en wanneer nie? Hoe behoort ons op te tree en hoe nie? Hierdie vrae is na ware mens-wees. Agter die vrae skuil die diepe behoefte na waardes, na lewenskoers en morele oriëntasie. Waar vind ons die lewenswaardes wat ons help om sinvol te leef? Waar vind ons hierdie lewensoriëntasie wat nodig is om gesonde mense en samelewings te vorm? Ons leer hierdie waardes van kindsbeen af aan. Die leer van Christelike waardes begin in die ouerhuis.


Iemand skryf “Ons begin waardes aanleer wanneer Ma en Pa ons eenvoudige uitvind-vragies antwoord met:’Sommer nie’, ‘Waarom moet ek dit doen?’ vra die kind. ‘Sommer, omdat ek so sê’, of :’Sommer, ‘n mens doen-dit-net-nie,’ antwoord die ouer. In die sommers sit die wysheid van die tradisie saamgebundel, die dure lesse van voorouers, die versamelde insigte van geslagte voor ons. Ons hoef nie alle lesse self te leer nie, alle dwaalweë en doodloopstrate opnuut te bewandel nie. Ons bou op die ‘sommers’ van vele voor ons”


Nou is dit egter so dat die sommers van ons kleintyd nie genoegsame oriëntasie bied in die komplekse wêreld van die groot-mensjare nie.


Die Christelike kerk het nog altyd bely dat die plek van oriëntasie gevind word in God se Woord. In die Christelike tradisie is die word “oriëntasie” baie belangrik. In Latyn beteken dit letterlik dat mense weer hulle rig na die ooste, na die opkomende son (oriens sol). Hiermee kan mense weer hulle eie posisie bepaal, hulleself weer vind, hulle eie plek in die geheel van dinge herontdek deur oos te kyk, na die son. Vir die Latynsprekende Christendom het dit beteken om na Jerusalem te kyk, na die plek waar Jesus gebore is, na die Een wat die ware Son van Geregtigheid is. In die aangesig van hierdie Jesus Christus, ontdek ons wie ons waarlik is. Sien ons die antwoorde op ons lewensvrae. In hierdie Jesus Christus vind ons lewenskoers. In hierdie Jesus Christus ontmoet ons en leer ken ons die Lewende God self!


Die belydenisskrifte verwoord dit wat gelowiges glo en bely aangaande: die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees, die Bybel, Verlossing, die Kerk, die Sakremente en die sonde.


In die kategismus van die kerk hoor ons en leer ons van kindsbeen af om te kyk na die Son van Geregtigheid, die Een na wie ons “kyk” vir oriëntasie, lewenskoers. Kategese is een van die baie weë waarlangs die kerk gelowiges (alreeds van jongs af) aanmoedig, oproep om te kyk na die Son van Geregtigheid vir lewenskoers. Kategese leer ons ontdek wat die Christelike kerk deur al die eeue glo (soos verwoord in die kategismus en belydenis-skrifte van die kerk) aangaande God, van die Een wat elkeen by die naam roep, ons persoonlik ken, identiteit en waardigheid aan ons gee, ons roep met ‘n roeping, ons omvou met liefde en gemeenskap, en ons deel maak van andere om ons.


-Ds Willie Kotze (Seestrome 2007:2)
Bronne: DJ Smit se Stukkies van hemel en son van geregtigheid.  

Recent Posts

Vir my is die lewe C...
Published: 04 May 2014
By: Dr Bobo van Zyl

Paulus roep die gelowiges op om ligdraers te we...

Onderlinge mededeels...
Published: 27 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, ...

Goeie Vrydag
Published: 18 April 2014
By: Ds. Dirk van Dyk

My God, my God  waarom het u my verlaat?. ...

Sendingsondag
Published: 13 April 2014
By: Ds. Ernst Toerien

Om die Here te dien in Rusland, nou al vir 20 j...