Spaar Water Asseblief!
Warm, winderige toestande die afgelope maand het veroorsaak dat damvlakke in die Overberg onrusbarend gesak het. Bredasdorp se Vleikloofdam wat in Januarie nog vol was, lê nou op 67%.
Shane Roach, bestuurder van water en sanitasie by die Kaap Agulhas Munisipaliteit, sê hy is self bekommerd oor die skerp daling in die damvlakke. KAM het gevra dat inwoners water spaar-samig gebruik.
Hoewel droë, warm weer normaal is vir dié tyd van die jaar is die verdamping hoog. Die Vleikloofdam word aangevul uit die Sanddrifdam buite Napier, wat wel nog 90% vol is. Verskeie boorgate op Bredasdorp verskaf ook water
Waterverbuik is egter hoog. Mense gaan nie spaarsamig te werk nie, en was hul motors met tuinslange, terwyl die besproeiing van tuine en rugbyvelde by die skole onverpoos voortgaan.
Ander damme in die streek se vlakke het ook heelwat gesak. Syfers van Elsenburg wys die vlakke van damme in die Swellendamstreek. Die syfer in hakies dui die watervlakke van einde-Januarie aan: Buffeljagsdam 75.4% (104%), Duivenhoksdam 77.3% (100.6%) en Korentepoortda m 85.2 % (100.5%). Elders: Bo - Steenbrasdam 92.9% (96.6%) en die Theewaterskloofdam 80.9% (95.8%).
Die reënval self was skraps in Februarie. Volgens syfers vrygestel deur Overberg Agri het Bredasdorp in Februarie maar 5mm reën gehad. Napier het 2mm gekry, terwyl Klipdale en Protem onderskeidelik 1mm en 3mm reën aangeteken het.
Swellendam het in Februarie 11.5mm aangeteken, aldus syfers vrygestel deur SentraalSuid Koöperasie. Riversdal het die meeste reënval gehad, met 39.5mm vir die maand, gevolg deur Albertinia met 22.5mm. Protem en Herold het elk 14mm gekry, en op Heidelberg en Karringsmelk het dit onderskeidelik 16mm en 18mm gereën. Op Ashton het 'n karige 7mm geval.
Mathabo le Roux