Profiel Paul Knoetze

Profiel Paul Knoetze

Gansbaai Courant

Paul George Knoetze, alombekend as Paul (met die welige grys baard en bos hare!), is op 4 September 1940 in Potchefstroom, Noord-Wes Provinsie, gebore. Hy het een broer en twee susters, waarvan een reeds oorlede is. Paul het gedurende die oorlogsjare grootgeword, met die gesin wat baie rondgeswerf het totdat sy pa, wat ‘n Sersant-majoor in die Seinkorps was, na afloop van die oorlog teruggekeer het. Die gesin verhuis later na Kaapstad, waar Paul ‘n leerder van die Hoërskool Nassau is. As gevolg van die moeilike na-oorlogsjare, moes hy op eie stoom aan die Kaapse Tegnikon studeer om sy matriek met tegniese vakke te verwerf.  

Op 8 Desember 1962, meer as ‘n halfeeu gelede, tree Paul met ‘n nooi Roux van Caledon-distrik, Ena in die huwelik. Die egpaar het een seun, Martin wat met Alta getroud is en daar is 3 kleinkinders vir Paul en Ena uit die huwelik gebore. Paul se beroepslewe was hoofsaaklik meganies en elektronies van aard en hy ondergaan ook elektro-meganiese opleiding gedurende sy beginjare by die destydse Pos- en Telegraafwese (Telkom) en is later ook deel van die outomatisering van telefone.

Aan die begin van die 1980’s begin Paul sy eie betonbesigheid, Creo Concretus, wat die Latyns vir “Creative Concrete” is. Die besigheid is op ‘n skoon stuk grond begin, waar Paul sy volledige “fabriek” eiehandig en man-alleen gebou het, selfs die enorme silo’s, asook die fabrieksgebou met ‘n spoorlyn in die lug en koeke-panne wat daarop beweeg. “Ek het alles alleen gedoen, vanaf die teken van die planne, ingenieurstekeninge en -werke, elektrisiteit, sweis van die silo’s tot by die verf van alles,” vertel hy.

Tussendeur het Paul ook elektro-tegniese werk by verskillende firma’s gedoen en selfs sy eie radiofirma op die been gebring, waarna hy later deur Telkom versoek is om terug te keer. Hy was vir kraginstallasies verantwoordelik en het ook as skakelbeampte met die groot kontrakteurs gedien. Paul het ook as spesiale raadgewer in siviele hofsake vir Telkom opgetree, asook tydens interne arbeidsaangeleenthede. Dan het hy ook boekpryse ontvang vir etlike jare se bydraes tot Telkom se korrespondent-netwerk en koerant, waar hy ook die fotograaf was. Met hulle aankoms in Franskraal sowat 14 jaar gelede, het hy as bou-aannemer opgetree en verskeie wonings, asook ‘n dubbelverdieping woning gebou. Hulle huis het hy ook man-alleen van die grond af opgebou. Aanvanklik het Paul op fynere elektronika gefokus deur onder andere naaldwerkmasjiene te herstel, wat hy steeds doen. Later het hy ook op die herstel van muur-, staan-, kaggel- en antieke horlosies begin fokus - ‘n belangstelling wat reeds sedert sy beginjare daar was.

In Paul se geval sluit die begrip “herstelwerk” ook die fisiese maak van parte wat nie meer beskikbaar is nie, in. Wat hierdie vaardigheid van Paul met veral horlosies des te meer merkwaardig maak, is dat hy sy een oog tydens ‘n ongeluk verloor het. ‘n Kornea en lensoorplanting is op hom uitgevoer, maar die oog het nooit volkome herstel nie. Later het Paul, op versoek, by die herstel van kerkhorlosies betrokke geraak. Eers was dit Elim se kerkhorlosie, daarna dié van Genadendal wat vir 15 jaar buitewerking was en daarna die NG-gemeente Wellington-Noord se horlosie. In al die gevalle was daar onvervangbare parte wat hy eenvoudig self vervaardig het. Onlangs het die NG-gemeente Gansbaai se horlosie ter sprake gekom en het hy onderneem om die horlosie te herstel en dien hy ook op die komitee wat daarvoor verantwoordelik is.

In hierdie omgewing is Paul alombekend vir sy welige baard en hare en hy vertel dat hy slegs enkele kere in sy lewe daarsonder was. Paul verkeer in uitstekende gesondheid en sy filosofie in die lewe is eenvoudig: “Doen wat jy doen reg met die eerste keer!”

Hardus Botha

Foto 1: Paul Knoetze met sy bekende baard, saam met sy eggenote, Ena van Franskraal

Foto 2: Paul en Ena Knoetze op hul troudag, wat een van die weinige kere was wat hy sonder sy baard was

Profiel Paul Knoetze

Hardus Botha

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant