Visstories

Visstories

Gansbaai Courant

Op sy dag was my man ‘n kranige visvanger – en hengelaar.  Daar is ‘n verskil.  Tydens ons jare op Bredasdorp  was dit elke naweek se ding.   En die see was naby genoeg om sommer  op ‘n weeksaand na werk die pad te vat na die Otta toe op Waenhuiskrans, veral as die suidoos die elwe inwaai walkant toe.  Sedert  ons  hier kom bly het,  het hy vasgehaak by die gaatjie waar sy pa altyd visgevang het,  halfpad op die seepaadjie tussen Kleinbaai en Danger Point.  Terwyl ander vissermanne  Franskraal se rotse, die Gruis en Pearly Beach se strand volstaan en  koerantwaardige visse wal toe bring,  hamer hy op daardie gaaitjie soos ‘n een-snaar-kitaar.  Sonder sukses, natuurlik. 

Wat darem tussen hierdie kleinduine ontspring het, was die totstandkoming van Die Bloksandstoters, ‘n oorspronklike groep van vyf vriende wat ‘n naweektog langs die Gruis aangepak het met hulle fietse. Sonder om te lyk na Jerusalemdonkies, is die fietse gelaai met alles wat broodnodig was: klein- gerolde slaapsakke, min kos- want die see voorsien genoeg, visstokke, aas en visgerei en genoegsame drinkgoed.  Want dit is wat visvang van hengel onderskei: die  betaalstrokie van die drankwinkel. Nodeloos om te sê, het daar geen vis huistoe gekom nie. Hulle het self ook nie huis toe gekom die eerste keer nie; hulle is daar langs die see gaan haal. Dit het nogtans ‘n jaarlikse instelling geraak.

Miskien het ons te laat hier kom woon, of dalk was die tyd op Bredasdorp van so ‘n aard dat ‘n mens meer in kontak met die vissermanne was, maar daar was baie storievertellers oor die onderwerp op Bredasdorp. Ieder visserman het sy storie gehad en sommige het daarvan oorgeloop.  Ons het laag af in die dorp gewoon, laag genoeg om met ‘n goeie klipgooi die Waenhuiskrans- en Struisbaai-paaie te kon raakgooi. Wanneer my man met sy gevolg met die Volkswagentjie – wat net wou ry wanner hý wou – straat-af vertrek het, het ek al klaar geweet dit wat ingepak is, was nie genoeg nie. ‘n Vrou ken mos haar man. Menigmaal het ek tot op die hoek bokant ons huis gestap en enkele minute gewag om te sien hoe die Volksie All Saintsstraat kruis op pad na die Victoria Hotel se buiteverkope. Dan het ek geweet hoe laat en hóé die manne sou terugkom; was dit nodig om vuur op te maak of nie. Soms het ek my misgis en het daar wel ‘n vis of twee huistoe gekom. Die lappe om die visstokke op die dakrak, nog presies getou soos wat hulle die oggend daar weg is, het vir my vertel dis gekoopte vies dié. Die ware stories het maar ‘n maand of wat later eers uitgekom. 

‘n Visserman sonder ‘n storie is geen visserman nie. Een van die mooistes het gekom van Chicken Mossie, die lang, stil man wat in Bredasdorp se sentrale gewerk het en wat een van oom Kerneels Mossie, ons plaas buurman, se kinders was.  (Ek het hierdie storie onlangs weer raakgeloop in Lizette Payne se boekie Bredasdorp Kontrei – Werfstories en Sondes) Die suidoos het gewaai en die elf het dik geloop langs die Otta, maar om een of ander rede het hulle te laat daar aangekom. Die suidoos was weg en saam daarmee die elf ook. Ook goed voorsien van papsakke het hulle toe maar besluit om langs die Otta af te stap en anderkant die baken te gaan gooi, daar na die vywers se kant toe. Niks, maar niks wou aan die sardyn vat nie. Met die een papsak reeds leeg, sien Chicken ‘n lekker groot klipvis (Boesop in die streektaal)   en haak dit aan vir aas, maar voor hy ingooi, druk hy die Boesop se kiewe oop en tap sy pens vol papsakwyn. Kort voor lank is daar ‘n vreeslike gedoente aan die punt van sy lyn. Toe hy met behulp van Piet se géf uiteindelik die kabeljou op die rotse kry, sien hulle die vis het nie die hoek gevat nie. Die Boesop het die kabeljou aan die keel beet en ruk en pluk hom disnis teen die rotse. En hy los nie; hulle moes hom lossny.  Toe hulle met die terugstap omkyk, sit die Boesop nog steeds halflyf uit die water uit en kopswaai.  Hy soek toe na daai papsak! 

Carine Badenhorst

Visstories

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant