Oue gegroet Nuwe Verwelkom

Oue gegroet Nuwe Verwelkom

Gansbaai Courant

Vele redes is al gevind (en gesoek!) om gesellighede te reël, maar ‘n 10-jaarlikse “Brugpartytjie? Dit kan net in die platteland en veral binne die geledere van ‘n gesellige boeregemeenskap gebeur. Hier word verwys na die “ex”-laagwaterbruggie oor die Uilkraalrivier onderkant die Kraaiboschdam se uitloop op die Gansbaai / Bredasdorppad, via Baardskeerdersbos en Elim. Die laagwaterbruggie is in 1944 voltooi en die inskripsie op ‘n gedenkplaat is nog duidelik sigbaar: “Uilenkraal Brug 1944”. Met die bou van die nuwe brug oor die rivier, 70 jaar later en wat reeds vir verkeer oopgestel is, het die boeregemeenskap besluit dit is “Brugpartytjie-tyd”. Eerstens as deel van hulle 10-jaarlikse tradisie, maar tweedens om “afskeid” van die ou bruggie te neem en die nuwe brug te “verwelkom”. Groot kampvure is vroegaand gepak en gebrandsteek, met vlamtonge wat later die aand hoog in die lug gewink het. ‘n Groot groep geesdriftige party-gangers het op kampstoele gesit en so stuk-stuk begin vleisbraai, waarsonder ‘n geselligheid soos daardie leeg sou wees. Dit was nie lank nie, toe kry Baardskeerders-bos se boeremusieklegende, Manie Groenewald en sy manne die musiekinstrumente gereed. Tóé begin die geselligheid behoorlik op dreef kom: Boeremusiek en sang in die buitelug langs ‘n enorme kampvuur, met die ou- en nuwe brug langs hulle. En toe gebeur dit waaroor almal bekommerd was en kort-kort oor die skouer geloer het. Die veelbesproke “spook” (Danie Fourie) van Sopieshoogte verskyn uit die bosse en klop Manie saggies op die skouer, met laasgenoemde wat met kitaar en al van die kampstoel afval. Gelukkig het die vuur se geknetter gesorg dat alle woorde nie duidelik gehoor kon word nie maar daar was geen einde aan die gelag nie. Manie wou niks weet van die “spook” wat graag op sy skoot wou sit nie. “Gedurende 1994 het ‘n groot groep van ons, saam met Manie Groenewald en ‘n paar musiekmanne, die bruggie se 50ste verjaardag ook hier gevier,” vertel Aletta Groenewald. “Musiek is gemaak en daar is gesellig op die bruggie saamgekuier en dit het ons 10 jaar later in 2004 weer gedoen om die 60ste bestaansjaar van die bruggie te vier.” Sy vertel dat dieselfde spook (ook Danie Fourie) tydens die 60ste feesvieringe ook geloop het en almal se hare net so laat rys het. Sy sê hulle het aanvanklik beplan om vroeër vanjaar die 70ste verjaardag van die bruggie te vier, maar die groot reëns het hulle verhoed. Daar is toe besluit om dit tot onlangs uit te stel en dan sommer afskeid van die ou buggie te neem en die nuwe brug te verwelkom. Daar is reeds gedurende Oktober 2013 met die bou van die nuwe brug begin, maar swak weersomstandighede het tot lang oponthoude gelei. “Ons beoog om ‘n deel van die ou bruggie, met die inskripsie “Uilenkraal Brug 1944” daarop, op ‘n ereplek by die nuwe brug aan te bring,” het Herman Klomp, Resident Ingenieur, gesê. “Kom, dan gaan wys ek jou dat hulle die gedenkplaat van weleer mooi verwyder het en gereed hou om dit as ‘n gedenksteen by die nuwe brug aan te bring,” het Aletta gesê. Vele interessante staaltjies rakende die bruggie word vertel, onder andere van motorbestuurders wat tydens groot reëns braaf genoeg was om oor die oorstroomde bruggie te ry, met die boere-gemeenskap wat telkens met trekkers en toue tot hul redding moes kom. Manie Groenewald se ware verhaal vat die koek. “Ek was so 11 jaar oud en my ma was op haar laaste met my broer wat sy verwag het,” vertel Manie. “En toe die tyd aanbreek, was dit reënseisoen en die laagwaterbruggie het weer oorstroom.” ‘n Dokter is van Stanford af na Gansbaai gebring, waar Suster Marais ook opgelaai is.

 “Vandaar is hulle met Chrisjan Kriek se oorlog-jeep tot by die bruggie gebring en eers het Lada Germishuys se pa met ‘n perd en tou probeer help, maar hy is met perd en al deur die water meegesleur, gelukkig ongedeerd,” vertel Manie. Hy sê ‘n paar manne van Uilenskraalmond aan die een kant en ‘n paar manne van Baarskeerdersbos se kant af is toe met toue die rivier in en kon die dokter en suster laat deurkom vir die bevalling. Manie vertel sy broer was ‘n 12 pond-baba en hy is as Johannes Philipus Groenewald gedoop. Sy noemnaam is egter JP, uitgespreek as “Jeepie”, met verwysing na die Jeep waarmee hulle deur die rivier moes kom. Vakansiegangers kan gerus op die Pearly Beachpad (R43) oorkant Uilenkraalsmond Vakansie-oord links afdraai, oor die berg (Sopieshoogte) ry en na die brug-area gaan kyk. Die onderskeie uitkykpunte op Sopieshoogte kan terselfdertyd benut word vir pragtige uitsigte oor die Kraaiboschdam en vallei, asook die see en Franskraalgebied. Wees net saans op die uitkyk vir Sopieshoogte se “spook”!

Hardus Botha

Oue gegroet Nuwe Verwelkom

Brugpartytjie

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant