Wamkelekile

Wamkelekile

Gansbaai Courant

Wamkelekile  is ‘n woord wat menige persoon al warm onder die kraag gelaat het. Dit is die verwelkomingswoord van ‘n outomatiese antwoordmasjien by die kontaksentrum van elke tweede groot maatskappy of diensverskaffer. Na die verwelkoming volg daardie deuntjie wat jy oor en oor na moet luister voordat jy uiteindelik ‘n  in-die-oomblik stem van vlees en bloed hoor.

Nou moet jy die engelekoor voor jou sien staan in wit getooi, met glansend-goue liere en trompette wanneer die stem begin praat in ‘n taal wat jy darem magtig is.  Sien jy hulle nie en word jy met êh...êh... deurgeskakel na die volgende persoon, sit jou turf behoorlik. Kontaksentrums  is die bymekaarkompunt van die  telefoonstelsel van ‘n firma met takke regoor die land. Soos wat ek verstaan kies baie van die instansies die opsie om die inkomende oproepe na hulle gelysde telefoonnommers outomaties te herlei na die kontaksentrum. Dit beteken dat die publiek aan die neus gelei word deur te dink hulle gaan vinniger gehelp word deur ‘n gelysde nommer te skakel, wat in werklikheid nie gaan gebeur nie. As jy dus geskakel het – watter nommer ookal – en jy hoor Wamkelekile aan die anderkant, weet jy jy is agter in die ry van wagtendes. Op Afrika-tyd, weet ons ook, dat tyd nie ‘n faktor is nie. 

Tyd wat niemand meer het nie, of het, maar ver tekort skiet aan geduld.  Tyd, wat soos elke voetval en elke asemteug  in geldwaarde gemeet moet word, so kom dit vir my voor.  Baie van ons smyt die foon uit pure frustrasie neer, probeer later weer en gooi dalk weer die foon neer.  Die feit dat ons elke keer agter in die ry moet inval, registreer nie ten volle wanneer ‘n mens haastig en ongeduldig is nie. Wanneer Wamkelekile die foon antwoord (so het ek lankal geleer ) moet ‘n mens jou gedagtes orden. Gaan besoek ‘n lekker plek, bou ‘n vertrek aan jou huis aan, werk jou volgende stokperdjieprojek uit. Dink aan enigiets anders as dat jy besig is om aan te hou totdat die kontaksentrum jou kry waar jy wil wees. Wat vir my gewerk het, was krabbels wat om een of ander rede altyd in een hoek van ‘n blad begin het.  Saam daarmee het ek ‘n assosiasie-speletjie gespeel: waaraan ‘n spesifieke woord my herinner of wat ek daarmee assosieer. So het dit gekom dat Wamkelekile my aan warmte laat dink het. Knetterende vuur met lekkende vlamme – wat ‘n element was wat in al my krabbels voorgekom het. 

Op sy beurt het die vlamme my tot die besef gebring dat hierdie Xhosawoord eintlik niks anders is as ‘n warm woord nie:  Welkom!  Hoe ons daarmee omgaan is ‘n kwessie van persoonlike keuse.  September is om die draai en Septembermaand is Toerismemaand.  Sal dit nie wonderlik wees as ons Wamkelekile! as ‘n slagspreuk kan gebruik in ‘n kompetisie wat behels dat ons die hele Hoofstraat versier met elemente uit  ons area nie?  So ook die ingangstrate en kusstrate van ieder en elke “voorstad.”  Kan ons nie ‘n slag ons harte verwarm deur pret te hê met die maak van 3 meter hoë visse van geverfde, strooi-opgestopte goiing nie? En die uitdaging aanvaar om hulle staande te hou in die aanslag van ons kuswinde nie?  Nie soseer as bemarking vir ons besighede nie, maar as bemarking van ons gasvryheid, ons warm harte teenoor mekaar, hetsy as permanente inwoners of as vakansie- en naweektoeriste. 

Aan die einde van die vertoontydperk kan die karakters wat nognie vanself weggeraak het nie, weggegee word aan kinders wat nie bedjies het nie. So ‘n bulsak in die vorm van ‘n vis, skulp of pikkewyn kan mos alte lekker slaap!  Kom ons wees gasvry, ongeag van watter maand dit is. Nooi iemand van wie jy weet, miskien elke dag op die pad sien,  maar nie ken nie, oor vir tee of ‘n ligte ete.  Hang ‘n houer aan jou vullismandjie langs die straat en plaas weekliks jou oorskietkos daarin vir hulle wat honger is.  Probeer jou voorstel hoe hongerte in hierdie koue voel en hoe desperaat ‘n vader moet wees om langs die strate te soek vir kos vir sy honger kinders by die huis. Voordat ons weer kwaadword en gefrustreerd raak, kom ons leef Wamkelekile vanuit die voorkamers van ons harte.

Carine Badenhorst

Wamkelekile

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant