Ruik Jy Dit Ook?

Ruik Jy Dit Ook?

Gansbaai Courant

“Maar aan GOD die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur.” (2Kor 2:14) 

Vir die afgelope vier jaar wat ons op Gansbaai woonagtig is, het verskeie vriende en familie ons al besoek. Almal is in verwondering oor die mooi omgewing en kan nie daaroor uitgepraat raak nie. Die verskillend winde wat ons hier ervaar is vir hulle ’n bietjie moeiliker om te aanvaar – totdat ons aan hulle verduidelik dat hulle dankbaar moet wees vir die reën wat hulle in die res van die land kry – ons winde bring dit vir hulle! Maar die één ding wat baie min mense kan verwerk, selfs dié wat al lank hier woon, is die reuk wat van die visfabriek oor die dorp waai. Inwoners sê mos dis hoe geld ruik! Miskien sal ’n mens tog daaraan gewoond raak.

Aan die ander kant kry jy geure wat darem baie aangenaam is! Die geur van ’n vrou wat verby jou loop met ’n baie goeie parfuum – ai man! Of die lugverfrisser wat jy in jou huis spuit om alles soos ’n blomtuin te laat ruik! Kan ek ooit die vars geur van babapoeier vergeet as ek my kinders gebad en aangetrek het!

Tog is daar één geur wat vir GOD baie spesiaal is. Dis wanneer ons as Sy kinders met ons lewens en ons optrede van Jesus se liefde getuig! Hoe anders? As ons eenmaal deur die Heilige Gees aangeraak word en tot geloof in Jesus kom, ja, as ons werklik soos die vers hierbo in 2 Korintiërs 2:14 aandui: “een is met Christus” – dan kan ons nie anders as om Sy liefde soos ’n aangename geur te versprei nie! Die oomblik as jy ’n lugverfrisser druk, versprei daardie fyn geurdruppels die hele vertrek – en is dit vir almal wat daar instap ’n aangename ondervinding.

My vraag aan jou is nou: Wat ruik die mense as hulle met jou in aanraking kom? Wil hulle langer in jou geselskap bly, of vlug hulle sommer baie gou weg? Want jy sien, my broer of suster in die HERE Jesus Christus, jou hooftaak hier op aarde is nie om jouself te verryk en te laat goed ruik nie, maar om die vertrek of plek waar jy woon en werk, met ’n aangename geur te vervul. Dis hoe GOD se genade en liefde in die wêreld versprei – deur jou en my! Jesus het vir ons duidelik kom wys dat Hy Sy geur orals aan alle mense versprei het. In Sy geselskap was die armes en die verstotenes, die sondaars en die prostitute almal welkom. Want Hy het geweet dat die geur wat Hy versprei in hulle lewens ’n verskil kan maak. Netso moet jou manier van lewe, jou liefde vir jou naaste (én verste!) die geur van Jesus versprei!

Jy moet nooit ophou praat oor die liefde van Jesus nie – versprei jou geur! GOD wil jou ruik! “Julle gawe is voor GOD 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.”  (Ef. 4:18)

Ruik Jy Dit Ook?

Ds Deon Kloppers

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant