R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Manie Marais Groenewald (78), alias Manie Groenboontjie, is op 20 Augustus 2015 in sy woning te Baardskeerdersbos oorlede nadat hy gedurende die eerste helfte van Julie met ‘n kwaadaardige gewas op die brein en ander kanker gediagnoseer is. Sy afsterwe as ‘n ware legende op die gebied van boeremusiek laat ‘n baie groot leemte in die gemeenskap, asook landswyd. Manie is op 11 Maart 1937 in Baard-skeerdersbos gebore, waar hy eintlik maar sy volle lewe deurgebring het - dus ‘n “deur-en-deur” B’Bosser. Sy ouers was wyle Danie en Ester Groenewald. Manie het ‘n broer, JP Groenewald van Jakobsbaai en ‘n suster, Rhona Swart, van die Paarl. Manie en sy eggenote, Mara (81) het mekaar tydens ‘n dans in die Paarl ontmoet en is op 10 Desember 1960 in die huwelik bevestig. Daar is 2 kinders, Danie Groenewald (getroud met Rusty) en Wilmien (getroud met Danie Fourie), met Manie wat met 3 kleinkinders, JC Fourie, Manie Groenewald en Mari Groenewald geseënd was, asook ‘n agterkleinkind, Ryno Fourie. Manie se beroepsjare het in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) begin toe hy in 1954 begin “trol” het. In 1984 het hy besluit hy is nou klaar met die see, maar hy het reeds gedurende 1982 al voltyds met ‘n melk-boerdery begin, “met Mara wat toesig oor die boerdery gehou het”. In 2008 het hy besluit om permanent af te tree. Reeds gedurende 1965 het hy die Mission Store in B’bos gekoop en in 1967 het hy die bekende winkel, Baardskeerdersbos Kontantwinkel in die hoofstraat gebou, wat steeds bedryf word. Tussendeur was hy ook by die Boerevereniging, die B’Bos NG-gemeente en sy boeremusiekorkeste betrokke. Manie se geliefkoosde stokperdjies was musiek, visvang, mekrami-werk en tuinmaak. ‘n Troosdiens is op Woensdag, 26 Augustus 2015 om 15:00 deur ds Dirk van Dyk in die Baardskeer-dersbos NG Kerkgebou gehou. Ds van Dyk het Manie se geliefkoosde Psalm 23:4 as tema vir sy boodskap gebruik.
Die Orkesreus
Manie se “orkes-verhaal” is ‘n baie lang verhaal op sy eie. Reeds gedurende die sestigerjare het Manie en Willie de Villiers met orkes-dinge begin. Later het nog lede bygekom en die Strandveld Boere Orkes is gestig. Na ‘n kort tydperk van stilte het Manie weer ‘n orkes met ‘n paar lede gestig, die Pavement Specials. Later is die naam na die Baardskeerdersbos Orkes verander en nog later na hulle amptelike naam, die Baardskeerdersbos Boere Orkes, met Manie wat vir die kitaar en sang verantwoordelik was. ‘n Addisionele orkes is in 2008 op Manie se inisiatief gestig: die Rummy Cub Orkes. “Dis nou die manne wat in die voorkamer musiek maak, terwyl die vrouens in die kombuis rummy cup speel,” het Manie destyds gesê. Wat Manie se sang betref, is daar twee liedere wat altyd groot applous tot gevolg gehad het: Skipskop (selfs met ‘n snik en trane oor die wange!) en Wie maak vir Gansbaai Lekker. Manie en sy manne het bykans met elke funksie-geleentheid oor al die jare heen musiek gemaak - ‘n boeremusiek-legende in alle opsigte. ‘n Huldeblyk vir Manie is ook verlede Saterdag in Willem Viljoen (wat ook die diens bygewoon het) van RSG se program, Vastrap, uitgesaai. Enkele CD’s van Manie en sy Manne het ook die lig gesien: Gooi los, Strandveld jolyt, Kom sing en dans, Demmit maar dis lekker en nog een met ‘n “ouderdomsbeperking”. Nou-ja, eers was dit net twee manne wat vir ‘n bietjie “Strandveld-jolyt” wou sorg, toe kom die Strandveld Boere Orkes, die Pavement Specials, die Baardskeerdersbos Orkes, die Baardskeerdersbos Boere Orkes en die Rummy Cub Orkes, asook dames wat intussen bygekom het, asook CD’s - alles met Manie (Boontjie) Groenewald oral aan die spits van sake - wat meer kan mens van Manie sê?
Hardus Botha
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.