R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Sal ons van vreugde sing omdat Lente hier is? Al die veld is vrolik, al die voëltjies sing? Toe ek ‘n laerskoolkind was en op die eerste dag van September met ‘n bos blomme vir Juffrou skool toe gestap het, was dit van daardie dag af aan Lente. Ons kon op daardie dag gewone klere dra, die vrolikste wat in ons kaste was. Soms was dit nodig om‘n dik tweed winterjas en reënjas bo-oor aan te trek, maar dit was steeds Lente. Net omdat dit September was. By die huis moes die buitedeure steeds toe bly sodat die hitte van die houtstoof die hele huis kon warm maak. Ons het steeds saans,, soos in diepwinter, in die komyntjie voor die stoof saamgebondel sodat ons met warm lywe tussen die koue lakens kon inkruip. Dit was steeds winter, maar in ons harte was dit Lente, want dit was Septembermaand. Iemand wat baie slim was het dit uitgedink en die storie die wêreldoor versprei. En almal het dit geglo, maar eintlik is die wisseling van die seisoene net so onbepaalbaar soos die bymekaarkom van die Atlantiese en Indiese oseane waaroor daar nog steeds tou getrek word. Die natuur het ‘n harmonieuse en vloeiende jaarsiklus wat geen mens kan karteer en vaspen nie. Getrou aan sy ewige behoefte om in beheer te wil wees, het die mens die seisoene dus na goeddunke in maande opgedeel. So word ons kinders dit ingeprent, met tekeninge van ‘n somer-, herfs- winter- en lenteboom. Die somerbome word gewoonlik ingekleur met bloedrooi appels of oranje lemoene, wat eintlik herfs- en wintervrugte is, maar ons laat hulle begaan. As ouer of onderwyser wil ‘n mens ook nou nie dom voorkom as ‘n Graad R’tjie jou heeljaar in die supermark na die vrugterak sleep en jou wys hoe verkeerd jy was nie. Die kunsmatigheid wat die wêreld oorspoel het, dra verder daartoe by dat seisoene haas ondefinieerbaar geraak het, veral vir hulle wat in graniet en glas vasgevang is. Tussen ‘n twaalfverdieping woonstel en ‘n twintig verdieping kantoor sien min oë regtig die blomverkopers se helder spatsels op die sypaadjies raak. Al sou dit hulle dwalende gedagtes tot helderheid skok, bly die verskeidenheid ook heeljaar dieselfde, kunsmatig gekweek in tonnels, seisoenloos. So, wat bly dan oor van Lente? Hoe weet ‘n mens sy het aangekom? Terwyl die son rooi opkom, die dag begin met Suidoosreën, opgevolg word met warm bergwindtoestande en donderweer, die wind teen noen Noordoos draai en laatmiddag omsit na ‘n ysige Noordwes met ‘n paar harde buie, waar gaan soek ‘n mens vir Lente? Beslis nie ver nie, want hierdie seisoen is ‘n sinnelike een. Dis in die enkele dapper blommetjies wat reeds die velde langs ons paaie versier; dis in die reuk van die kruiebossies; dis in die ylingse voëlgesang wat saam met die skamerige son deurbreek. Maar meer nog, is dit in die hart van die mens. Lente is die seisoen van Hoop. Ons weet daar gaan bloeisels aan die bome kom, al sien ons hulle nognie; ons weet die grasperk gaan groener raak; ons weet die vinke gaan begin nes bou; ons weet die skilpaaie en slange gaan begin loop; ons weet die saadjies en bolle wat ons in die grond gesit het, gaan hulle groen bogronds wys. Ons weet ons gaan ons dik klere uittrek en die son op ons velle voel en ons sien uit na die nuwe energie wat dit gaan bring. Een van die vroegste definisies vir hoop in die Oxford Dictionary is dat dit ‘n veilige eiland in die middel van ‘n woesterny is. Die Amerikaanse skrywer Barbara Kingsolver het geskryf: , "The very least you can do in your life is figure out what you hope for. And the most you can do is live inside that hope. Not admire it from a distance, but live right in it, under its roof". En watter beter tyd daarvoor as juis Lente – iewers in September wanneer alles vars en nuut raak.
Carine Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.