Sleutels en Slotte

Sleutels en Slotte

Gansbaai Courant

So min as wat mens jou ‘n windlose vakansie in Gansbaai kan voorstel, ewe min kan mens jou ‘n lewe sonder sleutels en slotte voorstel. Ek dink nou al drie dae lank  aan goed wat nie sluitmeganismes nodig het nie ; nie goete of goedere wat toegesluit moet word met ‘n ander ding se sluitmeganisme nie, maar ‘n item of artikel wat nie vir sy eie behoud afhanklik is van sleutel en slot nie. Ek kry darem ‘n paar:  die weerhaan bo-op die kerktoring, my ouma se stepping (“step-in”) en ‘n rol toiletpapier. (Wat ‘n konsternasie sal dit afgee as elke rol outomaties sou sluit sodra mens daaraan raak, veral met hierdie geil etery rondom Krismis en Nuwe Jaar.) Regtig! Alles moet slotte aanhê deesdae. Aardse besittings moet beveilig word, agter grendel en uit die oog asof dit gladnie bestaan nie. En steeds is mense so roekeloos om dit oop en bloot te laat rondlê vir enigeen om op te raap. Of, is ons vertroue so gewaan dat ons nog steeds dink diefstal gebeur net met ander mense? Dat daar net ingebreek word by hulle wat op die oog af welgesteld voorkom? Ons stap vanoggend langs Uilkraal of Franskraal – hoe jy dit ookal wil hê – se strand. Dis spring laaggety en terwyl mense in die branders baljaar lê hulle eiendom in hopies die hele strand vol, ‘n goeie tweehonderd meter van waar hulle is. Ek wonder maar net hoeveel selfone, ringe en horlosies tussen daardie hopies “versteek” is. Dit laat my onthou hoe ek desjare my ringe aan die dun halternekbandjies van my swembroek vasgemaak het op die einste Uikraalsmondse strand. 

Terwyl ek na die afkoel op die strand uitstap en voel of my ringe nog daar is, ontdek ek met groot ontsteltenis dat my swembroek se bo-rand bietjie baie deur die branders rondgeruk was – tot onder my een volronde C-cup. Gelukkig het die ringe nog aan die bandjie gebengel. Dit is vir my altyd so tragies om te hoor van vakansiegangers wat besteel word. Mense se waardevolle items word nou al met draadhake deur ‘n oop venster gesteel. Geen diefwering hou ‘n Rolex op ‘n bedkassie nie. En dis tog warm, ‘n mens wil die seeluggie oor jou voel spoel in die nag. Soveel te meer nog wanneer jy in ‘n karavaan en tent uitspan. Die element van vryheid in die natuur is sekerlik vir kampeerders die grootste motivering, maar dieselfde buurman met wie jy nuwe vriende gemaak het, se tienerseun en sy pelle kan eweneens avontuurlik begin raak wanneer jy en die buurman deur julle heeldagkuier neergefel word. Hoe sal jy weet? Dit voel vir my net nie regverdig en billik om vakansie te hou terwyl mens altyd paraat moet wees om nie ‘n gunstige scenario vir diewe te skep nie. Geen mens het die reg om ‘n ander se persoonlike spasie sonder toestemming te betree en vir homself regte toe te eien nie. Ongelukkig staan dit nie duidelik uiteengesit in die Grondwet of Handves van Menseregte nie. Die misdadiger kry die voordeel van versagting en jý word veroordeel omdat jy net ‘n bietjie loslittig wil wees en nie so streng gedissiplineerd wil leef soos tuis nie.  Buiten die skade van materiële verlies, slaan die emosionele skade harder. As ‘n volk het ons daaraan gewoond geraak om in vrees te leef. Die daaglikse, eenvoudige terreuraanvalle eis sy tol, want dit is wat dit is: terrorisme, om vrees in te boesem deur middel van intimidasie en misdadigheid. “Toemaar, hy sal jou niks aandoen nie, hy soek net waardevolle items soos selfone en horlosies.” 

Die woorde van ‘n lid van die beskermingsdienste aan iemand wat die nag wakker geword het met ‘n inbreker langs die bed. Onaanvaarbaar! Dis nie soos ek die Nuwe Jaar wil ingaan nie. Ek gaan al die slotte van negatiwiteit en vrees wegsmyt. Dan gaan  ek gaan die deure en vensters van my hart en my gedagtes oopgooi vir Geloof, Hoop en Vertoue om in te kom. Die tyd om deel te wees van ‘n bevreesde en wantrouige volk is geketting en geslot en in die buitenste duisternis gewerp.  Met my wapenrusting aan, swaard in die hand, gaan ek 2016 in om aan te val en nie te rittireer nie.  Kom jy saam?

Carine Badenhorst

Sleutels en Slotte

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant
DICT turns trash into treasure

DICT turns trash into treasure

Annually, the world unites in a coastal clean-up initiative.

Gansbaai Courant
Moedige Carli wys 'duimpie op'

Moedige Carli wys 'duimpie op'

‘n Glimlaggende Carli Swart (7) het Dinsdag, 19 September 2017...

Gansbaai Courant
Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Korefees gevul met luisterryke lofprysing

Luisterryke koorsang en lofprysing het die NGK se kerkgebou Sondag...

Gansbaai Courant
Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

Verstommende 9 054 stukkies rommel opgetel

39 rommelrowers het Saterdag deel uitgemaak van Internasionale Kus Opruimdag.

Gansbaai Courant
Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Astroquiz-Gansies ontdek die heelal

Die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium (SAAO) in Kaapstad bied reeds die afgelope paar jaar...

Gansbaai Courant