R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Grusame ongeluk - Academia leerders ongedeerd
‘n 31-jarige pa van drie jong kinders is op slag dood in Maandag se grusame ongeluk op die R43, enkele kilometers verby die Grootbos-afrit in Stanford se rigting.
Sy voertuig, ‘n Toyota Corola 1.6GL, het bykans kop-aan-kop met ‘n bus met sowat vyftig leerders van Gansbaai Academia daarin, gebots.
Die leerders en busbestuurder was erg getraumatiseer en geskok, maar was andersins ongedeerd.
Die oorledene het die voertuig bestuur en was die enigste insittende.
Verskeie mediaberigte en gerugte het foutiewelik na twee oorledenes verwys.
Sp.Kapt Danie Rautenbach van Gansbaai SAPD se Speurtak het gemeld dat die oorledene besig was om ‘n groot vragmotor, rigting Stanford na Gansbaai, verby te steek.
Hy het die bus sien aankom en het vermoedelik gesien dat hy dit nie gaan maak nie en spoed verminder om weer agter die vragmotor in te kom. Hy het egter teen die agterwiel van die vragmotor gestamp en sy voertuig is letterlik onder die aankomende bus se voorkant ingeslinger. Slegs die kattebak het onder die bus uitgesteek, met die res van die voertuig wat papgedruk was.
Overstrand Medical Response se Chantelle Colyn en Henk Weyers was eerste op die ongelukstoneel. Hulle kon net toekyk aangesien niemand die insittende kon bereik nie. Die leerders is dadelik vir beserings ondersoek en volgens die noodhelpers was daar net twee kinders wat effens kruppel geloop het.
Die R43 is vanaf 14:45 tot 18:30 in albei rigtings vir verkeer gesluit. Brandweermanne het ure lank gesukkel om gedeeltes van die voertuig uitmekaar te haal om die bestuurder te bereik.
Die bus van Genadendal Vervoer is deur die Departement van Onderwys ingekontrakteer om Gansbaai Academia se leerders na Stanford te vervoer.
Die polisie kon teen ons ter perse gaan nie die oorledene se naam bekend maak alvorens uitkenning van die liggaam nie plaasgevind het nie.
Gansbaai Courant het met ‘n kennis van die familie gesels, wat gesê het dat die oorledene, wat bekend gestaan het as Deon, reeds Saterdag in Natal begrawe word.
Die oorledene se vrou, Chantyl Reidas, is erg getraumatiseer en het reeds berading ontvang. Familielede, wat die liggaam sou kom uitken, het haar kom bystaan vanaf KwaZulu-Natal.
Deon was onder Gansbaaiers bekend as die man wat duvetstelle in die dorp verkoop het.
ACADEMIA LEERDERS
Gansbaai Academia se skoolhoof, mnr. Tommy Wilson, vertel dat hy baie groot geskrik het.
Mense het Maandag by hom ingestorm en van die busongeluk vertel en gesê dat daar mense dood is.
Hy het hom na die ongelukstoneel gehaas en was baie verlig dat die leerders in die bus ongedeerd daarvan afgekom het.
Mnr. Wilson het die Departement van Onderwys gekontak en dr Magda van Biljon en Prudence Gillion het reeds die volgende dag berading toegepas vir leerlinge van Gansbaai Academia.
‘n Saak van strafbare manslag is op grond van wetgewing geopen, maar volgens Sp.Kapt. Rautenbach is dit normale prosedure en niemand sal na bewering vervolg word nie.
SOSIALE MEDIA
Berigte ná die ongeluk het Maandag ingestroom en die sosiale media het behoorlik gegons.
Op die Facebook-blad “Wie Maak vir Gansbaai Lekker” het mense gepraat van ‘n soortge-lyke ongeluk wat sowat twee jaar gelede daar plaasgevind het. In laasgenoemde geval was ‘n spoorwegbus en motor betrokke en is altwee insittendes in die motor onthoof.
Dit is ook genoem dat Suid-Afrikaners geen respek het vir padreëls nie en dat ouers bekommerd is oor die drie skoolbusse wat elke dag op daardie pad ry.
Jenene Laas Cronjé het op dié blad genoem dat hulle verlede Sondag byna in ‘n botsing betrokke was, toe ‘n bakkie met ‘n boot verbygesteek het.
Volgens die blad vind sulke insidente gereeld plaas en Gansbaaiers sien uit dat die pad spoedig opgegradeer sal word.
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.