R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
“Nog ‘n jaar is soos ‘n verskietende ster by ons verby,” is woorde wat jaar na jaar herhaal word.
Gansbaai Courant bedank hiermee graag al sy adverteerders, medewerkers, lesers en ondersteuners vir hul ondersteuning en getroue bydraes week na week. Ons vertrou dat elkeen van u ‘n Geseënde Kersdag saam met familie en vriende deurgebring het en steeds die warmte van saamwees geniet.
‘n Baie voorspoedige nuwe jaar word elkeen van u toegewens en mag u net vreugde, voorspoed en goeie gesondheid in 2017 ervaar.
Gansbaai Courant bied u graag ‘n kortlikse terugblik op die gebeure van 2016:
Januarie
Gansbaai Academia se 78 matrikulante spog met ‘n 88.5% slaagsyfer vir 2015 teenoor 2014 se 86%. Hulle spog ook dat die slaagsyfer oor 5 jaar nog nooit onder 80% was nie.
Teen middel-Januarie was inwoners van Gansbaai, Baardskeerdersbos en Stan-ford erg bekommerd oor die digte rookwolke en onheilspellende vlamme wat deur veldbrande teweeg gebring is en reeds sedert Nuwejaarsdag gewoed het.
‘n Bekende sakeman word met ‘n mislukte kontrakmoord, verbind. Twee mans is op ‘n klag van sameswering tot moord gearresteer, maar die saak is teruggetrek weens onvoldoende getuienis en hulle is vrygelaat.
Februarie
‘n Yslike en rare spesie, ‘n 220kg Sickle Fin Devil Ra (Mobulid tarpanaco) met ‘n vlerkspan van 3 meter spoel by Blousloep uit. Die vis het ver uit sy koers uitgespoel en dit is aan die effek van El Nino toegeskryf, wat wêreldwyd in die marienelewe opgemerk is.
‘n Fratsongeluk, waar ‘n 4-tonner boot die 2-tonner sleepvoertuig “stoot”, het byna die lewens van Jacie Joubert en sy bemanningslid geëis.
Skokgolwe het deur die Overberg getrek na ‘n beweerde sluipmoordaanval op die waarnemende bevel-voerder van Hermanus SAPD toe daar op die motor waarin hy en nog drie insittendes gereis het, geskiet is. Lt.Kol Rounita Burgess (48) is twee keer in die kop geskiet, terwyl haar dogter, Randy Burgess (19) en ‘n familievriend, Rudi Salo (45) doodgeskiet is. Die bestuurder, Lynden Julies (34) is in die hand en kuit gewond. Na bewering was die aanval op die bestuurder gemik.
Die seëvierende Eendag Protea Krieketspan van Suid-Afrika het “vreesloos” kom haaie kyk nadat hulle die reeks teen Engeland met 3/2 beklink het.
Gansbaai Gholfklub kon spog met ‘n splinternuwe besproeiingstelsel op die skoonvelde en setperke van al 9 putjies. Dit is deur die klub self befonds, asook ‘n bydrae deur Gansbaai munisipaliteit.
Maart
Die Munisipale Hof het sy tande gewys met die dagvaardiging teen die historiese ou Dorpskombuis se eienaars. Hulle is gedagvaar om voor die Addisionele Hof (Munisipale Hof) te verskyn, weens die swak toestand van die gebou. Hulle het egter nie opgedaag nie en geregtelike stappe het gevolg.
Die 164ste herdenking van die Birkenhead-tragedie op 25 Februarie 1852, is deur Gansbaai Toerisme gereël. Sowat 350 soldate, 8 vloot-offisiere en 60 seemanne het destyds verdrink. Slegs 193, ingesluit 7 vroue en 13 kinders, waarvan 3 babas wat tydens die vaart gebore is, het die ramp oorleef. Kaptein Salmond se bevel tydens die ramp is later in die geskiedenisboeke verewig, met sy bevel: “Women and children first!” Dit was die eerste keer in die opgete-kende geskiedenis dat so ‘n bevel uitgeroep is.
‘n Bakkie, waarvan die agterwiel gebars het, het “gat-oor-kop” geslaan en veertien volwasse mans is beseer.
‘n Plaassmokkelnes wat langs die Pearly Beach R43 kruisweg na Baardskeerdersbos oopgevlek is, het skokgolwe deur die dorp gestuur. Beamptes van Gansbaai SAPD se speurtak en die Departement van Seevisserye, het inligting ontvang dat perlemoen daar gestoor word.
Tydens hulle gesamentlike operasie is daar op ‘n perlemoen droogfabriek afgekom en twee sjinese is gearresteer. Beslag is gelê op toerusting wat vir die droog van perlemoen gebruik word, asook 2 300 gedroogde perlemoen.
Die sluiting van Rietfontein bootsloep het woede onder hengelaars laat opvlam. Hulle was ook verward, aangesien die amptelike Rietfontein lanseerpunt deur die regering goedgekeur is, maar kort daarna deur SanParke gesluit is.
Ses vrolike jongmense het die sonsondergang vanaf Sopieshoogte gaan geniet, maar was kort daarna in ‘n ernstige motorongeluk betrokke. Jonathan (Jono) van Greunen (23) se Ford Siesta het op pad terug na Uilenkraalsmond, waar hulle vir die langnaweek oorgebly het, die gruis langs die pad getref. Hy het beheer oor die voertuig verloor en die motor het gerol. Vier van die insittendes het uit die motor geval en het ernstige beserings opgedoen.
‘n Groep Herberg-aan-See inwoners vaar die strate in met selfgemaakte hoede van blomme. Die wie nie kon loop nie, is in rolstoele gestoot.
April
Ds Dennis Naidoo en sy eggenote, Pat het na 16 jaar in Gansbaai besluit om na Table View, Kaapstad te verhuis om nader aan hulle kinders te wees. Ds Naidoo was nou betrokke by die VGK-gemeente in Blompark, asook ander gemeenskapsorganisasies en het ook vir drie jaar as voorsitter van Gansbaai Fraternal gedien waarvoor hy byeenkomste gereël het. Pat was eweneens in die gemeenskap betrokke, ook as lid van die Laslappiesklub en die Bietoubos Damesklub. Gansbaai SAPD maak ‘n deurbraak met Pearly Beach inbrake na die in hegtenisneming van Temba Jange (28) en Joseph Martin (26).
Die baie bekende Sus de Villiers wat vir 15 jaar “deel van” Shoe Strings in Hoofstraat was, sterf in die ouderdom van 52 jaar.
‘n Grootwithaai van sowat vier meter in Gansbaai se nuwe hawe het ‘n ligte opskudding veroorsaak. Die grootwithaai het rustig op en af langs die hawemuur geswem, waarna hy in die misreën verdwyn het.
Die Bietoubos Damesklub sorg vir opwinding deur die NG-mannekoor na ‘n byeenkoms te nooi om vir die dames te sing - hulle moes soos dames aantrek en het agter ‘n opgeligte gordyn gestaan vir die vroue om hulle aan hulle kuite uit te ken!
Die Waggel-waggel-stap vir pikkewyne vanaf die African Penguin and Seabird Sanctuary en deur Gansbaai se hoofstraat het weer baie aandag getrek. Die sestien “waggelaars” pak dié staptog jaarlikse oor ses dae aan en stap tot by Simonstad as ‘n bewusmakingsveldtog vir die bewaring van die Afrika pikkewyn.
Gedurende die laaste week van April het ‘n onwettige protesoptog chaos op die R43 by Stanford veroorsaak en die SAPD was genoodsaak om skokgranate en rubberkoeëls te gebruik. Die R43 is gesluit as gevolg van brandende bande en sementblokke wat op die pad gegooi is, terwyl vullisdromme ook omgekeer is. Redes wat aangevoer is, is die gebrek aan huise en elektrisiteit.
Mei
Francois en Deonora de Jongh, eienaars van Gansbaai Courant, het besluit om ná 17 jaar afskeid te neem van die gemeenskapskoerant. Die nuwe eienaar, Marinda van der Walt, ‘n sakevrou van Harrismith neem die leisels oor met ingang 1 Mei.
‘n Volledige geraamte, getooi in die oorspronklike kledingstukke van die oorledene, is in die Meentgronde oorkant De Kelders ‘n ent vanaf die R43 gekry. Gansbaai SAPD het bevestig dat dit op ‘n moord dui en dat hulle ook ‘n vermoede het wie die oorledene is. Die fonds is gekoppel aan die verdwyning van ‘n Xhosa-sprekende man wat sowat twee jaar vantevore as vermis aangemeld is.
Die langverwagte Gansbaai Gedenkboek, Gansbaai….’n besonderse streek en sy mense, is die 6de Mei amptelik tydens ‘n spoggeleentheid bekend gestel. Die pragtige gedenkboek beslaan 420 bladsye, waarvan ‘n groot hoeveelheid in volkleur is.
Die skrywers was Jan en SD Fourie van Franskraal en die uitgewer Johan Coetzee, ‘n inwoner van De Kelders, en eienaar van Naledi Uitgewers.
Jolyn Phillips, wat in Blompark grootgeword het, stel haar eerste boek, Tjieng Tjang Tjerries and other stories, bekend. Die kortverhale in die boek handel oor die menswees van vissers en ander menslike dramas, geskoei op haar lewe in Gansbaai.
‘n Trio van gebeure lei tot ‘n vroegoggend skietery langs Blompark se sportgronde, wat met ‘n huisbraak verbind is. Dit het agterna geblyk dat die inbreker, die persoon wat geskiet het én die gewonde al drie by die inbraak betrokke was.
Tanya Smit van Gansbaai munisipaliteit, ‘n kranige potspelspeler wat reeds in 2014 haar Springbokkleure ontvang het, word gekies om Suid-Afrika in 2017 as skeidsregter by die Worlds Eight-ball Pool Championships in Engeland te verteenwoordig.
Leon Hugo (professor) van Franskraal, word deur die Great Himalaya Trails-organisasie in Nepal genooi om ‘n verslag oor dié land se voetslaanpaaie saam te stel met die oog op verbetering, na die impak van hewige aardbewings in 2015.
Junie
Langasem Julia Barlow, voormalige eienaar van Lighthouse Tavern en voorsitter van Gansbaai Sakekamer, voltooi haar tweede Comrades.
Goeie speurwerk deur Gansbaai SAPD se speurtak, lei tot arrestasies en die terugvind van gesteelde goedere ter waarde van R50 000 in Eluxolweni.
Overstrand se DA stel hul verkiesingskandidate bekend.
Die bestuurder van ‘n bakkie het slegs geringe kopbeserings opgedoen, toe die bakkie waarin hy gery het deur ‘n tuin van ‘n vakansiehuis gerol en langs die voorstoep op sy dak tot stilstand gekom het.
Inbrake en nogmaals inbrake word aangemeld, met selfs ‘n poedelnaakte man voor die voordeur van ‘n woning. Nog vyf inbrekers verskyn in die Hermanushof.
Stompie Heyns sorg vir ‘n galjoenrekord met sy 7.1kg galjoen.
‘n Ongewone besoeker, ‘n dwerg minkewalvis (Balea-noptera acutorostrata subsp) besoek Gansbaai se waters.
Delaricia Willemse is die gelukkige wenner van R10 000 in Gansbaai OK Foods se kompetisie.
Mauritz du Plessis, bekende vlieënier van Gansbaai, bring die goeie nuus van vlieg- en helivelde wat in die vooruitsig gestel word.
Julie
‘n Sekuriteitswag wat vir geruime tyd vir betrokkenheid by inbrake dopgehou is, word deur Gansbaai SAPD vasgetrek.
‘n Ma van vier minderjarige kinders van Masakhane sterf nadat sy tydens ‘n struweling, doodgesteek is met ‘n mes.
Na 25 diensjare in die administratiewe afdeling van Gansbaai SAPD se speurtak, verruil Sanet Marx haar lessenaar vir ‘n rustige aftrede.
Die Wes-Kaapse Premier, Helen Zille, besoek Gansbaai en neem al singende deel aan die optogte deur Masakhane en Blompark. Sy word tydens ‘n prestige funksie by Grootbos onthaal.
‘n Jong vrou, Chrisuné Afrika sterf tragies tydens haar kombuistee in Elim, enkele dae voor haar huwelik met Duwayne Philander. Sy was in remissie ná ‘n stryd van 2 jaar teen limfoonkanker.
‘n 31-jarige pa van 3 sterf grusaam in ‘n botsing met Gansbaai Academia se skoolbus. Geen kinders is beseer nie.
Minister Dan Plato, MEC vir Publieke- en Gemeenskaps-veiligheid, Wes-Kaapse Parlement, besoek Gansbaai op uitnodiging van Rdl Riana de Coning om die erns van misdaad in die omgewing met verskeie instansies te bespreek.
Augustus
Overstrandse immergewilde Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Nicolette Botha-Guthrie, ‘n formidabele leier, roep haar pos vaarwel toe met die woorde: “Mission accomplished!”
Raadsheer Rudolph Smith word as die nuwe Overstrandse Burgemeester ingehuldig.
Die 11-jarige Charl Eksteen verras almal tydens sy heel eerste stampmotor (stock car) seisoen deur 4 belangrike trofeë te verower.
Rdl Riana de Coning maak “skoonskip” in Wyk 2 tydens die verkiesing.
Slegs drie dae nadat ‘n vrou, Judi Rabe en haar seun, Ewald by haar huis in Pearly Beach ingetrek het, het sy ‘n noue ontkoming met inbrekers in haar woning.
Die Suid-Afrikaanse uitvinder en ontwerper van dolosse in hawens, Aubrey Kruger sterf op 81-jarige ouderdom. Dié uitvindsel word vandag wêreldwyd gebruik. Op sy sterfbed ontvang hy erkenning in die vorm van ‘n 1c-geldstuk wat ter ere van dié uitvinder gemunt is.
Danksy borgskappe kry Laerskool Gansbaai nuwe netbalbane, wat saamval met die skool se 110-jarige feesvieringe.
Gansbaai Courant berig dat perlemoenstropers “baas” in hul duikpakke is en deurgaans arrogant optree. Dit het aanleiding gegee tot vele opvolggesprekke en selfs ‘n vreedsame optog deur die dorp.
Die nuwe Wykskomiteelede word bekendgestel: Wyk 1 - Rdl Bennette Msweli (ANC); Wyk 2 - Rdl Riana de Coning (DA); Wyk 11 - Raadsheer Dudley Coetzee (DA), wat ook Overstrandse Uitvoerende Onderburge-meester is.
September
‘n Golf van misdaad tref veral Pearly Beach, waar ‘n bejaarde vrou in haar huis aangerand is. Perlemoenstropers is ‘n algemene gesig en voer ‘n skrikbewind onder inwoners, veral by Pearly Beach en Danger Point. ‘n Taxi is deur die SAPD gekonfiskeer met ontskulpte perlemoen, maar die boosdoeners het weggekom.
Die goeie nuus is dat Sophie Aploon op haar 60ste verjaardag ‘n motor by haar werkgewer – Andries Nowers - as geskenk kry, nadat sy haar rybewys op hierdie hoë ouderdom na vele probeerslae gekry het. Gansbaai Primêr spog met hul “juffrou” Marlene Opperman wat as wenner in die afdeling van uitnemendheid aangewys is in die provinsie. Die Funky Fynbos Festival word goed ondersteun, veral deur mense van buite Gansbaai, wat ‘n goeie inspuiting is vir die toeristebedryf.
Oktober
Die gesogte “King of the Bay” hengelkompetisie tussen die Birkenhead, Overberg en Walkerbaai klubs, word deur Birkenhead ingepalm. ‘n Gesin in Franskraal Karavaanpark verloor hulle huis in ‘n brand. Gansbaai Wynproegilde ontvang ‘n rekordgetal van 50 gaste by hulle maandbyeenkoms.
Overberg Distrik Jukskei Federasie eindig algeheel in die tweede plek by die SA Meestersjukskeitoernooi in Kroonstad. Die urelange oefening van vrywilligers aan die jaarlikse Melodrama werp goeie vrugte af met stampvol sale.
David MacDonald nooi die Gansbaai Courant na sy rugbymuseum in Pearly Beach. Dit is ‘n belewenis en ‘n “moet-sien” vir enige rugby-geesdriftige. Die Springbokke stel teleur met ‘n toetswedstryd, maar Overberg Kushengelaars is tevrede met hulle vistelling ondanks yskoue weer en sterk wind.
Johan Venter word as Poeltafel Kampioen gekroon by die 2016 Better Together Games in Worcester.
Inwoners is weer eens geskok oor twee susters wat wreed aangeval is by “Die Bungalows” waar hulle vakansie gehou het.
Die geskiedkundige erfeniswoning op die hoek van Strandveld- en Kerkstraat in Baardskeerdersbos, word deur vlamme verwoes. Die brand het na bewering ontstaan nadat “bergies” die aand daar oornag het.
Scott Harvey en Sarah Tyler van Frankryk oornag in Franskraal en gesels oor hul 30 000km lange fietstoer oor 25 lande en dwarsdeur Afrika tot by Kaap Aghulhas.
G Boonstra van die organisasie, Community Against Abalone Poaching (CAAP) skryf ‘n brief wat hy ook aan die Departement van Land-bou, Bosbou en Visserye (bekend as DAFF) stuur waarin hy versoek dat die departement dringend sy pligte nakom en optree teen die wettelose stroping-toestande in die Groter Gansbaai.
Marine Dynamics Shark Tours met hul sustermaat-skappy, Dyer Island Cruises ontvang Blouvlag-status met hul haaiboot Slashfin en spog nou met drie bote in hul vloot wat spog met die uitnemende toekenning.
110-jaar vieringe by Gansbaai Laerskool is in volle swang. Hulle hou onder andere ‘n spogdinee, ‘n konsert en ‘n nootlegging.
Superspar se “Shabby Chic” damesdag is ‘n jaarlikse hoogtepunt op die kalender. Vanjaar het Liz Meiring en Margit (Dowwe Dolla) luister aan die dag gegee. Dit was ‘n uitreikdag na Cancer Vive wat R15 000 ontvang het om hul goeie werk voort te sit.
November
Die voorbladberig wat deur sommige lesers as positief beskou is, maar ‘n groep Pearly Beach-inwoners ontstel het - ‘Noodseine vanaf Pearly’ lei tot ‘n ontbytvergadering deur die stranddorp se belastingbetalersvereniging waartydens koerantpersoneel vriendelik geroskam word oor negatiewe beriggewing. ‘n Redaksionele kommentaar verskyn met die opskrif ‘Ons is moeg gegrom…’ – wat handel oor die feit dat daar nie wette is om misdadigers vas te vat nie.
Inwoners is sat vir misdaad en ‘n vreedsame, wettige straatoptog volg deur Gansbaai se hoofstraat. By die polisiestasie oorhandig Mark Collings, die sameroeper van die optog, ‘n versoekskrif aan brig Donovan Heilbron. Twee dae later volg twee loodsvergaderings waarby alle belangegroepe aan-gaande misdaadvoorkoming in die Groter Gansbaai, betrek word. DAFF daag nie op nie en inwoners is ontsteld. Die Wes-Kaapse Provinsiale verteenwoordiger en voorsitter van die staande komitee vir Ekonomiese Aangeleenthede, Toerisme en Landbou, me Beverley Schäfer sê tydens die vergaderings: “Suid-Afrika verloor die oorlog teen perlemoenstropery”. Dit is duidelik dat die gemeenskap met die owerhede wil hande vat om alle vorms van misdaad te bekamp en allerlei planne en beloftes word gemaak.
Gansbaai Munisipale Biblioteek se Zelda Fourie, tree na 42-jaar diens uit.
Gansbaai Academia se nuwe netbalbaan word amptelik geopen. Die geelbekke lóóp en Gavin Engelbrecht trek die swaarste geelbek (5.7kg), wat ook Birkenhead Bootklub se swaarste vis vir 2016 is uit tydens die laaste boothengelkompetisie van die jaar.
Gansbaai Laerskool se “uitnemende juffrou”, Marlene Koekemoer eindig tweede in Laerskool Onderrig in die Wes-Kaap. Die plesierbote wat blyk hul perke te oorskry by Walkerbay word ondersoek. ‘n In diepte ondersoek volg nadat sommige inwoners kla oor die deposito’s wat verhoog is op hulle munisipale rekenings.
Desember
Gansbaai Sakekamer onderstreep die boodskap: “Gansbaai is WOW” na afloop van hulle jaareindfunksie en die voorsitter, Julia Barlow moedig Gansbaaiers aan om mekaar te ondersteun en om ‘n ekstra myl te loop vir hul kliënte. Die boodskap: Bou voort op hierdie magiese wonderwêreld waarin ons as inwoners ons bevind, is duidelik. ‘n Noodhulpkursus vir diere word vir vrywilligers aangebied. Die vierde jaarlikse tuinboukompetisie wat deur Gansbaai Toerisme aangebied word, moedig tuiniers van Masakhane en Blompark aan om hul grond te benut.
Norman Stevens maak skoonskip met die wenplekke by die Gansbaai Posduifklub tydens sy eerste vliegjaar.
‘n 48-jarige vrou verskyn in die hof op ‘n klag van meineed na aanleiding van beweerde verkragtingsake in die Gansbaai Hawe en Kusweg. Die polisie sê dat nog arrestasies gaan volg.
Die dorp se Kersliggies word amptelik aangeskakel en dorpenaars kuier gesellig saam in die middedorp om die feesseisoen in te lei. Ikamva betrek professionele mense by sy bestuurspan.
Agt vermeende perlemoenstropers word vasgetrek en verskyn in die hof op Bredasdorp. Twee bote word ook gekonfiskeer. ‘n Klag van poging tot moord word geopen teen een van die regeringsbeamptes. Gert Louw ontvang die hoogste SA Lion-toekenning vir onbaatsugtige diens aan die gemeenskap van Gansbaai. Meer as 800 motorfietsryers kom by Stanford byeen vir die jaarlikse “Toy Run” en liefdadigheidsorganisasies in Stanford, Hermanus, Bredasdorp en Gansbaai baat daarby.
Gansbaai heet vakansiegangers op verskeie maniere welkom en sit hul beste voetjies voor om dit vir hul gaste ‘n vyfster bestemming te maak!
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.