R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
My ma het my leer bid. Seker maar ‘n normale ding vir Ma’s om te doen, maar ek bedoel hier rérig bid, nie net Liewe Jesus ek is klein nie, maar bid om te verstaan waaroor dit gaan en hard te glo aan verhoring van gebede. Neef Pietie het pas sy bestuurderslisensie gekry en die klein groen Austin A30 van sy ma af gebedel sodat ons Uilkraalsmond toe kon gaan. Pietie was planklank, skaars droog agter die ore en so slim en sterk as wat sy ouderdom geverg het. Voor langs hom in die tweedeur, mosbolletjieronde karretjie, was nig Brenda en ek en Sus op die agterbank. Ons ry deur Napier se Nuwerus, die B’bos pad, want dit was maar die enigste pad om te ry daardie tyd. Akkedisberg deur was ‘n te lang draai en dis eintlik maar net die Caledonners wat daardie roete gery het. Ons gaan Bloubokkiesfontein en Magdala sierlik verby, Tolbos se groot denneplantasie kom ruk aan ons neusgate, maar ‘n ent weg langs daardie bos het die pad ‘n bedrieglike stuk koffieklipgruis wat daardie tyd van die jaar walletjies gery was van al die vakansieuittogte na die Strandveldstrande.
Die Austintjie se vierduim-wieletjies raak verlore tussen die gruis en dis nie onervare Pietie se werk om hulle weer te spoor nie. Onder ‘n kakafonie van gruis wat spat, metaal wat knars en stof in mond, neus en ore, beland ons in die fynbos langs die pad. Ek spoeg en waai en stamp om my histeriese suster van my lyf af te kry, want dié beur al in my vas om uit te kom, terwyl die voordeurtjie uit sy skarniere oopsper agter haar rug. Al waarvoor ek gebid het solank as wat sy dwars geneuk het, was dat stof nie rook raak nie. Nie lank daarna nie, het my ma en haar niggie-vriendin my egter in ‘n nag van gebed ingepraat. Ek moes die aand saam met Koos Slappies Gansbaai toe gaan, sommer net. Tien jaar ouer as ek, pas geskei en ryk aan lyf en lewenskennis teenoor my skaars hoërskool naïwiteit, had ek geen keuse nie, my rebellie ten spyt. Dit het net nie reg gevoel nie en buitendien het ek nie weer kans gesien vir Tolbos se koffieklipgruiskol nie.
Dis familie en hy beloof om my mooi op te pas, bla-bla-bla. Dis donker as Koos met die Vollatjie voor die deur stilhou. Ons ry nie deur Nuwerus nie, maar teerpad langs tot by Ouwerf waar ons voor die brug wegdraai Tuinplaas en Fairfield toe. Here, waar is ek in? Dis vreemde bos hierdie en die pad deur die skeiding is toegegroei en verspoel. Anderkant ‘n driffie hou ons stil. Wat nou! Die flou koplampies skyn teen ‘n oorhangende droë tak oor die pad. “Hier” sê Koos, “spook dit. ‘n Vrou het haar jare gelede hier opgehang en mens sien haar op middernag nog hier oor die pad hang.” Ek vries my vas in die sitplek, nie vir die spook nie, maar vir die groot hand wat oor die lang hare agter teen my nek drapeer. “Kan ons nie maar net ry nie?” kry ek in benoudheid uit. Ons gaan weer vort en ek draf agterna van huis tot huis waar Koos soos ‘n verlore seun gul ontvang word. Ek voel die nag verbygaan, ek hoor hoe tonge losser raak en sien hoe knieë hulle “ball bearings” verloor. En ek bid, want ek is ver van die huis af. In Helderfontein se bos klim ‘n spook in ‘n boom om middernag oor die pad rond te swaai en op die ander pad lê Tolbos se koffieklipgruis met geel oë die pad en dophou. Dis lank na spooklooptyd toe ons die terugtog aanpak. Dwars in die sitplek, onder die dekmantel van slaap, bid ek. Aanhoudend, smekend, so deur die vrees van nog ‘n vreemder pad wat ek af en toe deur ‘n loeroog nie herken nie. Ek word kamma-wakker toe ek voel ons is op teerpad. Vies vir my ma vir hierdie nagtelike ontbering, val ek in die bed en bid net twee woorde: “Dankie Vader.” Al die ander lofprysinge, belydenisse en beloftes het ek mos reeds nagdeur afgehandel.
Carine Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.