R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Ek trek ‘n Max du Preez op myself. Kyk, ons moenie vir Zuma onderskat nie; hy’s die redder van die wéreld, in die voetspore van ons geliefde Madiba. Dink net wat kan dit vir die eiendomsmark beteken as hy R260,000m vir Nkandla kry. Dis tog nie so vergesog nie; die man het tog baie friends in far and high places. Dink nog verder: as hy dit nog kan kry vóór die verkiesing en die staat se geld terugbetaal. Dink hoe sal Amerika en China se ekonomieë saam met ons s’n ‘n ommeswaai beleef. Dink...dink...dink. What if...what if? Ons maak die lewe so gekompliseerd vir onsself, of is dit maar net dat die lewe vanself so gekompliseerd geraak het as gevolg van ander se besluite, gebrek aan bestuursvermoë, onvermoë van kitsopgeleide amptenare om wetgewing korrek toe te pas en so die slagoffer die oortreder te maak? Mense het al so fyngevoelig geraak dat jy jou woorde eers moet tel of dit liewer insluk voordat jy ‘n stelling maak en dit persoonlik opgeneem word. Dit het alles te make met die frustrasie van ‘n harlaboerla samelewing waar dubbele standaarde aan die orde van die dag is. As twee mense met soortgelyke geskiedenisse en in soortgelyke omstandighede, in absolute sinkronisasie, maar kilometers of provinsies van mekaar af dieselfde wet oortree, en gevang word, is die kanse 99.9% dat hulle nie dieselfde strawwe opgelê gaan word nie. Die fynskrif en die bevoegdheid van een verdedigingsprokureur bo ‘n ander gaan daarvoor sorg. Die een gaan desnoods tjoekie toe terwyl die ander een teruggaan strate toe met ‘n windgat houding omdat hy losgekom het. Hy raak ‘n held en vergader ‘n klomp aanhangers rondom hom, met noodlottige gevolge. Wat het dan in die proses van geregtigheid geword? Daardie vraag probeer ek en jy met ‘n wanhopige debat beantwoord. Ander politieke uitsprake slaan ons asems weg en klimmende pryse pluk die mat onder ons voete uit voor ons by ons beursies kan uitkom om seker te maak die rits bly toe. Ongelukkig en met moedelose harte moet ons aanvaar dat dit die realiteite van die lewe is waarmee ons moet saamleef. Ons hoef dit nie goedsmoeds te aanvaar nie, maar ‘n mens kan steeds leef sonder om met alles saam te stem. Hierdie goed ruk ons uit ons gemaksone uit; dit dwing ons om op ‘n daaglikse basis te besin en herbegroot. Ek meen...aartappels vanaf R39-99 na R46-99 na R59-99 na R79-99 in een maand! Dis een kommoditeit, maar alreeds genoeg om enige mens se hare in groen slym te laat verander. Ons grondwet is nie demokraties genoeg vir publieke deelname voordat voedselpryse gelig word nie. Dit is realiteite waaraan ons nie kan verander nie. Maar ons kan ons reaksie daarop verander. In onse koppe, want dit is waar die meeste kongestie plaasvind. Kopdetoks, dis wat ons nodig het. Net soos wat ’n mens purgeermiddels neem om jou dikderm te dekongesteer van al die opgegaarde nie-verteerbare reste. Vir die kop gaan psilliumbas en aalwynsap egter nie help nie; daar moet ons rangeer en ons gedagtes op ‘n ander spoor stuur. Dis hoekom ander mense se Valentynstorietjies van rooi alfabetkleertjies en voorskootdraende butlers my hart blymaak. Ten minste was daar iewers, vir ‘n paar minute, ‘n ontsnapping van die sielstragiek. Het ons nie dalk vergeet van lag, poetse bak en kattekwaad aanvang nie? Binne ons eie lewenssfere, eerder as buite die lyne van ons erwe, want al te vinnig kan dit dan maar weer ‘n crimen injuria raak. As ek plat op my stewe langs die see sit met ‘n bottel borrels in ‘n fatsoenlike glas, wéét ek so voor my siel hulle wat bo op die wal stilhou gaan gis en raai en “sies” en “skandelik” daaroor. Ten minste gee ek hulle iets anders om oor te praat. Sou ek egter met die tweede bottel besig wees, kan ek dalk net opstaan, hulle gaan nooi om die lewe saam met my te vier en die ander glase uit my mandjie haal. Vir lewensvreugde moet ‘n mens altyd genoeg borrels en langsteelglase hê sodat jy dit kan deel met die swaarmoediges van gees. Ons hoef nie noodwendig in die straat te dans nie, maar ons kan steeds dans. Solank ons nog kán.
Carine Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.