Patrick Eskelsen alias Doc Pat Moss alias Patrick Schuurman
Die bedrieër, Patrick Eskelsen (regs), wat wyd in die Wes-Kaap in Junie gesoek is en by Caledon in 'n padblokkade gearresteer is, is voorverlede week op borgtog vir bedrog in Knysna vrygelaat. Hy is egter dadelik weer by die hof deur Spr Sers Leon Crafford van Gansbaai gearresteer. Hy het in Hermanus hof op twee klagtes van bedrog in Gansbaai verskyn. Eskelsen het na bewering verskeie oproepe na een van die klaers, Hennie Austen, gemaak terwyl hy in Knysna in aanhouding was. Hy het Austen gesmeek om die bedrogsaak teen hom terug te trek en belowe om die geld wat hy van Austen geleen het, terug te betaal. Austen het egter geweier. "Ek is van mening dat Eskelsen nie geld het om my terug te betaal nie en nou lieg hy daaroor vir sy prokureur, Parker. Ek sal dus nie die saak terugtrek nie en dit moet maar in die hof dien," het Austen gesê. Terwyl Eskelsen vroeër hier bedrywig was het hy hom homself as Doc Pat Moss aan hulle by hul karwassery voorgestel en bevriend het, leer ken. Hy het egter later gesê hy is eintlik Patrick Schuurman en is betrokke by die Pat Moss Internasionale Hotelgroep.
Hy het homself onder andere voorgedoen as ΄n hotelontwikkelaar, en het verskeie mense bedrieg en ingeloop. Hennie Austen, eiendomsagent van Gansbaai, is deur die Robbertse aan hom voorgestel en oortuig dat hy ΄n luukse hotel van R395 miljoen in die Ou Hawe van Hermanus sou bou. Hy het verder gesê dat hy ΄n gastehuis in Gansbaai wou koop om verblyf aan sy belangrike gaste en beleggers van oorsee tydens die projek te verskaf. ΄n Gastehuis is geïdentifiseer en Eskelsen het ΄n 16.75% aandeel in die gastehuis aan Austen aangebied, asook die pos as finansiële bestuurder van die hotel. Hy sou ook R55 000 per maand en ΄n nuwe BMW voertuig ontvang. "Eskelsen het gesê dat Charlotte en ek die gastehuis sou bestuur. Hy het ook ΄n VW Kombi Caravelle aan Charlotte belowe," het Austen gesê.
Kort daarna het Eskelsen gesê dat hy geld nodig gehad het om in Hong Kong te gaan onderhandel om die R395 miljoen los te kry. "Ek het R100 000 teen my huis se verband opgeneem en vir hom geleen. Ek wou dit eers nie doen nie, maar Eskelsen se Stellenbosch prokureur, Johard Roux, het my oortuig en gesê die man het baie geld en ek sal dit gewis terugkry. Ek het vir Eskelsen gesê dat as ek die geld verloor ek groot probleme met my huislening sou hê. Hy het my egter belowe dat dit nie sou gebeur nie en dat hy in so ΄n geval die lening sou aflos. Hy het toe ΄n skulderkennings-bewys van R700 000 aan my gegee." Dit was die laaste sien van Eskelsen wat ook R25 000 by die Robbertse geleen het. "Ek het ΄n brief aan sy prokureur gestuur en gesê ek wou my geld hê. In sy brief aan my het hy gesê dat Patrick Eskelsen my sou betaal. Toe ek hom daarop wys dat ek nie ΄n Eskelsen ken nie, maar wel vir Patrick Schuurman het hy gesê dat hy ΄n fout begaan het. My man, André, het dadelik lont geruik en ek het vir Eskelsen op die internet gaan soek en gekry. Dit was een en dieselfde man en ΄n bekende bedrieër. As dit nie vir André was nie sou ons dit nooit geweet het nie," het Charlotte gesê. Sy en Hennie het ΄n saak van bedrog by die polisie gelê. ΄n Klomp soortgelyke klagtes in Hermanus, Villiersdorp, Langebaan en Mosselbaai word ook ondersoek.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More