Raadsheer Scholtz in gesprek met van die inwoners.
'n Paar sinkhokke het die afgelope naweek in die informele nedersetting, Beverley Hills, oorstroom. Ander is weens daklekke ook deurdrenk en hul inwoners is sonder droë klere en beddegoed gelaat. Die munisipaliteit is hiervoor verantwoordelik gehou en gemoedere het ontvlam.
'n Inwoner, William Hendriks, het aan die Courant gesê dat hulle eis dat die munisipale areabestuurder van Gansbaai, Kat Myburgh, wat nie hul oproepe beantwoord het nie, hulle moet kom sien. "Ons het 'n inwonerskomitee maar hul doen niks wat ons kan sien nie. Ons kla al lank oor ons probleme soos die toilette. Ons mag ook nie ons dakke regmaak óf vensters insit sonder toestemming nie. Ons moet gereeld tot drie maande vir 'n antwoord wag." Hendriks het verder gesê dat daar nie twee gemeenskappe, Blompark en Beverley Hills kan wees nie. "Ons is een."
Oproeriges versper die pad
Die impromptu vergadering by een van die oorstroomde huise het die gemoedere kalmeer en daar is saamgestem dat die spoelwater wel 'n probleem is en eerste aangespreek moet word. Van die voorbokke het egter weggestap en mense aangehits om saam met hul die alleenstaande sementspoeltoilette om te gooi. Agt het in die slag gebly. Daarna is die pad na die woongebied met stokke en brandende buitebande versper. 'n Leiersfiguur in Blompark en Beverley Hills, Sammy Brett, het na die versperring gegaan en die mense probeer kalmeer. "Ek het vir hulle gesê dit is nie die manier om griewe te lug nie. Afbreek benadeel net die hele gemeenskap."
Die polisie het die situasie dopgehou en Rdsh Pieter Scholtz het die toneel besoek en in gesprek met die opstandiges getree. Die situasie is ontlont en verdere gesprekke is Sondag en Maandag gevoer. "Daar is ooreengekom dat 'n lys van griewe opgestel word en aan die munisipaliteit verskaf moet word. Die probleme kan dus ontleed en aangespreek word," het Rdhr Scholtz gesê.
Volgens Myburgh was die ontevredenheid grootliks as gevolg van die oorstromings van wonings wat veroorsaak is deur die abnormale hoë reënval van meer as 100mm binne 24 uur. Die gemeenskapsleiers was onsuksesvol om met hom kontak te maak aangesien hy uitstedig was en die naweek by sy dogter op 'n plaas in die Clanwilliam distrik deurgebring het.
"Daar was ongelukkig geen selfoon ontvangs nie. Met my terugkeer Sondagaand is daar ooreengekom om teen 08:00 op Maandag, 18 November 2013 met die gemeenskap te ontmoet en die dringende kwessies is bespreek. Daar is onder andere aan die gemeenskap verduidelik waarom die diens van die publieke toilette en die skoonhou van die woongebied (wat tans behartig word deur 'n kontrakteur van Masakhane wat deur middel van 'n openbare tenderproses aangestel is) nie as 'n werkskeppingsprojek vir inwoners van Beverly Hills gereserveer kon word nie. Die proses vir die verkryging van goedkeuring om instandhoudingswerk aan hul strukture aan te bring is ook verduidelik. Hierdie kontrole maatreëls is 'n geruime tyd al in werking en het ten doel om ongemagtigde aanbouings wat 'n verdere verdigting van die woongebied tot gevolg sou hê en wat die verspreiding van struktuurbrande verhoog, te voorkom," het Myburgh gesê.
Die vergadering het ongeveer 'n uur geduur en na afloop van die vergadering het die protesteerders skouer aan skouer met die munisipaliteit saamgewerk en teen sluitingstyd op Maandag, 18 November 2013 was die opruimings afgehandel en minstens 80% van die beskadigde toilette was weer in gebruik gestel. Die toilet struktuur is bloot omgestoot en kon weer hergebruik word en die skade is minimaal. Volgens Myburgh sal daar voor die einde van die jaar 'n opvolgvergadering vir die inwoners van Beverly Hills gereël word om 'n formele besluit oor die toekomstige verteenwoordiging van die inwoners ten opsigte van skakeling met die munisipaliteit te formuleer.
Francois de Jongh
8 Sementspoeltoilette is omgekeer.
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More