Thomas Brown sterk in die Mediclinic by Hermanus aan nadat hy deur 'n Grootwithaai by De Kelders Plaat aangeval is (die sirkel toon aan waar dit gebeur het).
'n Grootwithaai van sowat 3 meter het Maandagoggend 'n branderplankryer by Die Plaat langs De Kelders aangeval. Thomas Brown (19) van Northcliff, Hermanus, is in Hermanus Mediclinic opgeneem waar hy noodbehandeling aan sy linkerbobeen ontvang het. Hy en drie vriende het om 08:30 sowat 10 minute voor laagwater by 'n gewilde branderplankryplek ingegaan. Thomas, was eerste in die water en het reg voor die parkeerarea bo die duine, ingeswem. Sy twee vriende, Graham Tjabring en Cairn Michie, het hom gevolg. Hulle was egter meer na De Kelders se kant, nader aan die rotspunt tussen Die Plaat en Klipgatstrand. "Ek het sowat 50 meter van die strand gedraai en in hul rigting gekyk waarna die haai van agter gekom, my branderplank gestamp en 90° na die strand geswaai het. Die haai het toe op kenmerkende wyse vinnig in 'n sirkel om my geswem en toe weer van agter aangeval en in my linkerbo-been en die branderplank tegelyk gebyt. Hy het egter die branderplank se vin ook in sy bek gehad en toe ek hom op sy snoet slaan het hy my gelos. Die branderplank was steeds gerig op die strand en ek kon darem daarin slaag om dadelik die volgende brander terug na die strand te vang," het Thomas Dindsdagoggend uit sy hospitaalbed gesê.
Haaibytmerke op die branderplank.
Volgens hom was Cairn tydens die voorval sowat 5 meter van hom af en het dieselfde brander terug geneem. "Toe ek op die strand kom en sien ek kon op twee bene staan was ek oorweldig van dankbaarheid." Sy vriende het 'n handdoek oor die wond vasgebind en die branderplank se tou as 'n toerniket gebruik om die bloeding te probeer stop. Daarna het hulle hom op 'n bakkie laat lê en na Mediclinic in Hermanus gejaag. "Ek het weens die adrenalien nie veel pyn gehad nie maar dit het soos 'n uur gevoel voordat ons verby Stanford is." Op 'n vraag of hy weer sal branderplankry, was sy antwoord: "Dit sal tyd neem voor ek weer Plaat toe gaan maar 'surf' sal ek 'surf', want ek is te lief daarvoor." Baaiers word gewaarsku dat die Grootwithaaie gewoonlik in die somer nader aan die kus beweeg en dat hulle gereeld by Franskraalstrand en Die Plaat opgemerk word. Die haaie bly gewoonlik buite die bamboesgebiede en dit is dus veiliger om daar te swem.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More