Hier word daar aandagtig na Hettie Oosthuyzen se storie geluister, maar in groot afwagting vir Kersvader se geskenke
Kersvader se onlangse besoek aan Gansbaai-kinders in die NGK se Kleinsaaltjie het vir groot genot en opwinding gesorg. “Ek en vriende van my reël reeds vir die afgelope 4 jaar hierdie Kersvadergeleenthede, maar vanjaar het Santa Shoe Box Project by ons ‘ingekoop’ en ons het dit saam aangepak,” vertel Maretha Geldenhuys. Sy het as organiseerder van die dag opgetree en al die nodige reëlings getref, terwyl Adri Viljoen-Nel van die Kaap (Santa Shoe Box Project) as fasiliteerder opgetree het. Hulle het ook die geskenke voorsien en die gewilde skoenbokse vir die kinders voorberei. Die opgewonde kinders het met blink ogies toegekyk toe Kersvader (Ockie Viljoen) met sy bloedrooi mondering opdaag.
Hy is deur twee vriendelike “Elfies”, geklee in groen, vergesel - Adri en haar dogter, Tiffany-Leigh Jibson. Sowat 70 kinders het vóór die groot oomblik van geskenke ontvang, eers na Hettie Oosthuizen se lekker stories geluister wat sy aan hulle vertel het, soos net sy dit kan doen. Daarna was dit Kersvader se beurt en, bygestaan deur die twee “Elfies”, is die kinders se name een vir een uitgelees om hul geskenke te ontvang.
Die oopmaak van die geskenke het vir groot opwinding gesorg en “hoor en sien’ het omtrent vergaan. Daarna was dit tyd om met smaaklike verversings bederf te word, wat eweneens terdeë geniet is. Maretha dra graag haar dank en waardering oor aan die Santa Shoe Box Project, Kersvader en sy twee “Elfies”, Hettie Oosthuizen, Gansbaai Superspar en Gansbaai OK Foods.
Hardus Botha
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More